Ds A.E. vd Berg
“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is....”(Mt.6:9)
In Parys in Frankryk is daar ʼn Middeleeuse katedraal wat meer as 900 jaar oud is en as ʼn Frans-Gotiese argitektoniese wonder beskou word. Dis in die 12 de eeu begin bou en na meer as ʼn eeu voltooi en met kunsskatte belaai. Alles aan hierdie gebou is fabelagtig behalwe aan wie dit opgedra is – ʼn oud-Babiloniese godin wat deur die Roomse Kerk (RK) met die Latynse naam Notre Dame (“Onse dame”) aanbid word.
Tydens die presidensiële inhuldiging van pres. Trump het ʼn genooide kerkleiers by hierdie geleentheid in die openbaar gebid. ʼn Roomse kardinaal was eerste aan die beurt en het die land en president aan dié godin opgedra. Feitlik elke sin wat hy gebid het, is met die woorde “Onse dame” besmet. Die Protestantse voorbidders het by daardie geleentheid die land aan “Onse Vader” opgedra.
Niks onderskei Protestantisme van Roomse Katolisisme so skerp as tot wie gebid word nie. Protestante bid tot God “Ons Vader” en Roomse Katolieke tot ʼn heidense godin “Onse dame”.
Die Notre Dame godin-katedraal word jaarliks deur 12 miljoen mense besoek. Gedurende die nag van 19 April 2019 het die dak tydens herstelwerk vlam gevat en die plek gebrand. Miljoene mense het vir die behoud daarvan gebid waarna miljoene dollar vir die herstel van die afgodstempel wêreldwyd ingestroom het.
Die Notre Dame staan op onheilige grond. Voordat Roomse Katolisisme in Frankryk gevestig is, het daar ʼn tempel vir Jupiter op dieselfde stuk grond gestaan. In 1323 verwys die skrywer Jean de Jandun na die Notre Dame as: “die mees glorieryke kerk van die mees glorieryke maagd Maria, moeder van God wat verdien om soos die son tussen die sterre uit te staan” (Treatise on the Praises of Paris). Die lasterlikheid hiervan skud gelowiges tot in hul siel!
Die vroeë Christenkerk het nooit ʼn probleem met Maria gehad totdat die RK haar as hemel-koningin gekroon het nie. Nêrens in die Bybel word sy tot dieselfde vlak as Jesus verhef of aanbid nie. Geen mens mag aanbid word nie!
“Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoet gegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ʼn mens” (Hand.10:25,26).
Nie eens ʼn engel mag aanbid word nie:
“En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het. Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is ’n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God (Openb.22:8,9).
Maria was slegs geseënd omdat sy Jesus gebaar het en niks meer nie. Daarom het die vroeë kerk geen Maria-verering geken nie. Gelowiges sou dit beslis as afgodery verwerp het! Die Bybel weet van geen heilige moeder of koningin in die hemel nie; slegs die eertydse Babiloniese heidene. Daarom is Katolisisme niks anders as ʼn herlewing van die ou Babiloniese afgodsdiens nie wat in tye van afvalligheid selfs in Israel kop uitgesteek het: “Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin... om My te terg” (Jer.7:18).
Tydens die verheerliking van Christus op die berg sê God: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ʼn welbehae het. Luister na Hom!” (Mt.17:5). Die RK luister eerder na Maria en minag die Skrif opsetlik wat sê: “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun…” (Heb.1:1).
Om hierdie godin “moeder van God” te noem, is gruwelike laster. ʼn Moeder bestaan altyd voor haar kind. Daar was niemand voor God nie! Die RK keer in der waarheid die Bybelse orde om deur die persoon wat die Heilige Gees klein wil sien (Maria) te verhoog en die Persoon wat Hy groot wil maak (Jesus) te verlaag. Daarom verwerp gelowiges hierdie uitdrukking met alle veragting!
Protestante sal nooit die RK se afgodiese toewyding aan hierdie Babiloniese godin begryp nie. Daarvoor moet jy gebreinspoel wees! Kerklui bid, soos die kardinaal tydens Trump se inhuldiging, onbeskaamd tot haar. Komponiste soos Schubert het selfs die Ave Maria (gebed aan Maria) gekomponeer; een van die mooiste klassieke melodie met die lasterlikste woorde denkbaar!
Met hul Maria-verering verplaas die RK die ou Babiloniese hemelgodin van die een afgodiese sisteem na ʼn volgende een; presies dieselfde godin net met ʼn ander naam. Die aanbidding van Semiramis het destyds oral byval gevind. Openb. 17:2 meld dat nasies “dronk geword het van die wyn van haar hoerery”. In die tyd van Jeremia is sommige van Juda so deur Babiloniese afgodery meegevoer, dat God hom geroep het om hulle te gaan waarsku (Jer.44).
Afgodery was een van die redes waarom hulle in ballingskap weggevoer is. As God in die Wet sê dat Hy ʼn jaloerse God is, beteken dit dat Hy nie sy liefde met afgode laat deel nie; allermins nie met ʼn heidense godin soos wat die RK al eeue lank doen nie! En om te dink dat die meeste vooraanstaande Afrikaanse kerke via die ekumene gemene sake met die RK het!
Die RK het ʼn bedenklike voorgeskiedenis. Na die dood van Nebukadneser het Babilon se mag gekwyn waarna koning Kores (Persië) dit in 539v.C. verower het om wêreldheerser te word. Daarna het die Babiloniese priesters na Pergamus gevlug om hul afgodery voort te sit. Die fondament van die tempel wat hulle destyds daar vir Semiramis gebou het, is vandag nog te sien. Jesus skryf aan die gemeente in Pergamus: “Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is” (Openb.2:13).
Rome het aanvanklik geen skakeling met Pergamus gehad nie. Nadat dit by die Romeinse Ryk ingelyf is, het die keiser met die Babiloniese priesters se mag oor mense kennis gemaak. Dit het hom geweldig beïndruk waarna die magte van die Babiloniese hoëpriester later aan hom oorgedra is en het die skakeling tussen Rome en Babilon ʼn paar eeue later ʼn gedrog gebaar het - Roomse Katolisisme.
Die RK was van meet af aan met afgodery deurspek wat met verloop van eeue toegeneem het. ʼn Amerikaanse teoloog wat Katolisisme vir bykans 20 jaar nagevors het, se bevinding was verrassend maar ook skrikwekkend. Slegs 18% van dit wat in die RK geleer word, is eg Bybels. Die res is uit die heidendom! Dank God vir Protestantisme se eenvoud, liefde vir die Woord van God en stryd vir die waarheid want dit laat ons nie tot Onse dame bid nie, maar tot onse Vader soos wat Jesus Self ons geleer het!