WAT GEBEUR NA DIE DOOD?

Ds A.E. vd Berg

Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).                                

In Sept. 2005 is ’n 43 jarige mynmagnaat in Johannesburg tydens ’n kaping doodgeskiet – Brett Kebble.   Hy was baie ryk. Sy kunsversameling is vir R53,9 miljoen opgeveil. Was hy op die verkeerde tyd op die verkeerde plek soos so baie blankes voor en na hom? Nee, hy was nie; hy het sy eie dood georkestreer. Hy het R1 biljoen se bedrog gepleeg en dit was net ’n kwessie van tyd voordat hy aan die pen sou ry. Daarom het hy huurmoordenaars gekry om hom van die gras af te maak ten einde regsvervolging vry te spring.

Wat vir Kebble na ’n uitweg gelyk het, was geen uitweg nie want hy het vergeet dat hy ʼn siel het. ’n Mens bestaan mos nie net uit liggaam nie!   Die Bybel praat van die wagkamer na die hel as ’n plek van ’n geween en gekners van tande.   Waarom het Kebble so ’n dwase ding gedoen?   Omdat hy, soos baie mense, nie in ’n lewe na die dood geglo het nie. As hy wel daaraan geglo het, sou hy eerder ’n lang tronkstraf vir sy misdaad uitgedien het.  

In Julie 2011 is die 27 jarige Britse sangeres, Amy Winehouse, aan dwelms oorlede. Na haar dood het een van haar vriende gesê: “May her troubled soul find peace”.   Hy het geen benul van die hiernamaals gehad nie. Dis allermins die plek waar mense wat ʼn gemors van hul lewe gemaak het, rus vir hul siele vind!   Dis vir ongelowiges’n plek van ewige verskrikking!

Die Ewolusieteorie leer dat ’n mens net stof is en soos ’n plant of dier doodgaan; alles oor en verby.   Jy voel en weet niks verder nie, want jy bestaan nie meer nie. As dit so is, het Kebble en Winehouse niks om te vrees gehad nie. Dis egter ’n leuen wat miljoene mense al die hemel laat mis het!

Wat is dan die waarheid?   Dat God ’n wet op die tafel van jou hart geskryf het wat vir jou sê dat daar ’n Skepper-God is en dat jy met Hom in ’n verhouding kan staan. Dit onderskei jou van die aap, bobbejaan of enige ander primaat. Jy is na die beeld van God geskep, daarom dink jy aan die ewigheid en weet jy dat jy jou moet bekeer ten einde in die ewige geluksaligheid van die hemel te kom.  

Pred.3:11 sê dat God die bestaan van ’n ewigheid in mense se harte gegee het. Die Bybel verseker gelowiges telkens van ’n ewigheid saam met Jesus. Ons moet soos Paulus daarna verlang. “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon” (:8). “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (Fil.1:21).

Ons gaan nie vir ewig geeste in die hiernamaals wees nie. Met die wederkoms ontvang ons verheerlikte liggame. Paulus skryf: “…. om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp” (Fil.3:21).

Wat gebeur met gelowiges as Jesus weer kom?   Die teksvers antwoord: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad”(:10).

Alle mense, ook die gelowiges, sal voor die regterstoel van Christus, die Regter, verskyn. “Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom.14:11,12). Ja, voordat ons met ons verheerlikte liggame die hemel ingaan, gaan ons voor Christus staan om rekenskap van ons dade op aarde te gee.

Jesus het hierdie waarheid aan die begin sowel as aan die einde van die NT beklemtoon: “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade” (Mt.16:27). “En kyk, Ek kom gou en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Openb.22:12).   Hoe jy leef, is van uiterste belang. Alhoewel ons nie ons saligheid kan verdien nie, kan ons ook nie leef soos ons wil nie, want dan val ons die Satan ten prooi.

Ons dade gaan voor die regterstoel van Christus getuig of ons geloof eg was. Ons dade vorm dus nie die basis van ons saligheid nie, maar is die getuienis daarvan. Dis nie fondasie nie, maar wel demonstrasie!

Uit Jesus se eie mond sowel as Paulus se skrywes is dit duidelik dat gelowiges verskillende belonings vir hul geloof gaan ontvang. Die gelykenis van die talente is duidelik hieroor. Paulus skryf: “…. maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang” (1 Kor.3:8). “omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang…”(Efes.6:8).  

Paulus sê in die teksvers dat elkeen in ooreenstemming met sy dade ontvang. Geloof en dade is met mekaar verweef. “Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ’n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke: aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek – die ewige lewe” (Rom.2:5-7).

Paulus maak telkens ’n lys van dinge wat, as dit gedoen word, so ’n persoon nie die hemel sal beërwe nie.   Sulke dade vorm die klagstaat op die oordeelsdag. Die manier waarop ’n mens geleef het, bepaal sy ewige bestemming. Daarom moet ons tot bekering kom: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh.5:24). Hoor en glo is die padkaart na die hemel. Egte geloof word aan ’n persoon se leefwyse gesien.   Wie verkeerd leef se geloof is niks anders as voorgee nie.

By geleentheid het twee vroue ’n kind na koning Salomo gebring waarop elkeen aanspraak gemaak het en hy moes as arbiter optree. Toe hy ’n swaard vra om die kind in twee te sny, het die regte moeder hom gesmeek om die kind vir die ander vrou te gee net om sy lewe te spaar. Waarna het Salomo gesoek?   Nie ’n daad wat daarop sou neerkom dat die een vrou die kind verdien het en die ander een nie, maar na ’n egte daad wat die werklike moeder sou uitwys. En dis hoe God ook na ons dade kyk.  

Ons kan nie met ons dade aanspraak op ’n plek in die hemel maak nie. Dit was die groot probleem met die Fariseërs.   Hulle het as’t ware gesê: “Here, kyk wat het ek nie alles gedoen nie!” Nee, as jou dade nie van jou bekering getuig nie, sal jy nooit die hemel beërwe nie.

Laat ons leef met die wete dat daar wel ’n hiernamaals is en ’n oordeelsdag aan die kom is!   Wie tot bekering kom, het niks te vrees nie. Jy sal wel voor die troon van God verskyn, maar nooit veroordeel word nie want jou naam staanin die boek van die lewe:

En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke....En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:12,15).