MAGLUSTIGES

Gesante van Satan

Ds. A.E van den Berg

“En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jes.14:13,14).

“Jy was in Eden, die tuin van God...... Jy was ’n gerub met uitgespreide vlerke wat beskut.... volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is..... Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid... Ek het jou op die grond gewerp....”(Eseg.28:13-17)

“En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak....En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan.... hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp......wee die bewoners van die aarde .... want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede...” (Openb.12:7-12)

Inleiding

Die mens smag van nature na mag oor ander mense. Dis in sy sondige aard. Slegs die bekering en inwoning van die Heilige Gees lê dit aan bande. Maglus het by die val die Satan uit die hemel begin. Die status wat hy daar geniet het, het in ʼn trots ontaard wat hom teen sy Skepper in opstand laat kom het waarna hy en sy volgelinge op die aarde gewerp is.

“.... en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.” (1 Joh.5:19).

Daarna het die Satan die mensdom, veral landsleiers, teen God laat draai en God se gesag verwerp:

“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Ps.2:1-3).

Die Skrifgedeeltes in Jesaja en Esegiël wat aan die koning van Babel toegedig word, vertel van iemand wat uitgewerk is en hom daarna vir ʼn verhewe plek bokant God beywer het. Satan laat hom graag deur iets geld. In Genesis praat hy deur die slang en in die twee profete deur die koning van Babel.

Omdat hy tot ʼn val gekom het, wil Satan mense ook laat val. Daarvoor wek hy bose begeertes soos maglus by mense op wat tot ellende in gesinne, kerke, werksplekke, politieke arenas en die handelswêreld lei. Mense wil wettig of onwettig mag bekom. Sulke versugtinge boemerang gereeld. Daarom wemel die geskiedenis van droewige verhale wat tot volskaalse oorloë gelei het.

Maglus het baie lande erg ontwrig; veral in die na-koloniale era soos waarvan die geskiedenis Afrika herhaaldelik getuig. Na onafhanklikheidswording het dwase mekaar gereeld in die politieke speelhok vertrap om die eerste aan die magfopspeen te suig. Dit het tot jarelange burgeroorloë en ongekende ellende onder magsugtige egoïste gelei.

1.   Versoeking

Sonde het by trots begin; die Satan se begeerte om God se almag te bekom. Hierdie begeerte was so sterk dat hy eens Jesus ontsien het om van sy verlore aansien te probeer herwin nie:

“Weer neem die duiwel Hom saam na ’n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid” (Mt.4:8,9).

Die laaste twee werkwoorde “neerval” en “aanbid” staan in die Grieks in die onbepaalde verlede tyd wat beteken dat die Satan Jesus nie vir volgehoue aanbidding gevra het nie, maar slegs eenmalig. Jesus het egter deur sy plan gesien - die een tree sou na ʼn volgende een lei omdat geen toegewing aan die Satan ooit eenmalig is nie.

Die Satan het baie mag gehad om die aanbod aanlokliker te kon maak:

Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.... omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is”” (Joh.12:31; 16:11).

Satan sou nooit die koninkryke van die wêreld aan Jesus oorhandig het nie. Daarvoor was sy penne te diep in aardse koninkryke geslaan en te veel maghebbers wat hom gedien het. Sy aanbod om aardse mag is altyd ‘n lokaas; kunslokaas!

2.   Bose strewes

Baie mense verloor hulself in die strewe na mag. Wat egter op oneerbare wyse bekom word, het slegs die skyn van mag. Dis in werklikheid ʼn swakheid wat mense korrup maak. Dit los geen probleem op nie en beïndruk slegs eerlose massas.Maglustige mense het in werklikheid geen ware meegevoel met hul ondergeskiktes nie, lieg as dit hulle pas en stook geweld om beheer te behou. Dis deel van hul politieke mondering.

Maglustige mense maak van elke moontlikheid gebruik om hul bose doel te bereik ongeag die gevolge. Baie van hulle kom weg met booshede waarvoor hul na reg swaar gestraf moet word. En indien van hulle wel aan die pen ry, ontvang hulle dikwels ʼn ligte straf wat geensins met die aard van die oortreding ooreenstem nie.

Maglustiges tree gewoonlik eiegeregtig, onbedagsaam en selfs dreigend op. Die vaardighede waarmee hulle mag verkry het, word verwaarloos sodra dit verkry is en die onvoorwaardelike vryheid wat hulle beloof, verwerklik nie.   Wet en orde is eerder daarmee heen!

Maglustiges doen nie maklik afstand van mag nie. Dit besorg aan hulle groot rykdom. Maglus en hebsug is stalmaats en die versugting na bewondering hoog op hul voorranglys. Baie van hulle het so ʼn swak selfbeeld, dat dit gereeld gepoets moet word. Mense moet voor hulle buig en hul belangriker as ander laat voel. Met die Satan as vader val die appel nie ver van die boom nie!

3.   Alle gesag is van God

Alle gesag is deur God ingestel en op dienslewering gerig. Jesus het selfs sy dissipels se voete gewas (Joh.13).

“ .... maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees” (Mark.10:43).

Gelowiges streef slegs na krag oor hulself - selfbeheersing:

Maar toe hy spreek oor geregtigheid en selfbeheersing ....” (Hand.24:25).

“Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid..... selfbeheersing” (Gal.5:22).

Mag is ’n positiewe krag indien dit eerbaar gebruik word. Dit kan egter ook baie gevaarlik wees want hoe groter die mag, hoe groter is die versoeking om dit te misbruik. Magbeheptheid is ʼn onkruid wat die verlate vlaktes van ʼn bose verstand vervuil en mense met lae sedelike peile beïndruk. Magmisbruik lei tot ongekende ellende, oorheersing, uitbuiting, knoeiery en dwang. Met sulke teengemeenskaplike gedrag word mense slegs as voorwerpe beskou – middels tot ʼn doel.

Gevolglik maak volke met korrupte maghebbers geen werklike vordering nie. Hulle gee voor om mense se lewensomstandighede te verbeter, maar vererger dit in werklikheid!

4. Kerklike magmisbruik

Ook kerke maak hul deur die eeue aan magmisbruik skuldig. Die Roomse Kerk het geen gelyke nie! Godsdiens-magmisbruik dateer uit oud-Babilon. Dit het ook in die vroeë Christendom kop uitgesteek. Simon die towenaar (Hand.8:9-24) het na groot heiden-aansien gesmag en wou die kerk daarvoor misbruik. Hy het egter berou gehad en gelowig daarvan laat afsien.

Daar is wel plek vir mag, aansien en status in kerk en wêreld. Dis waarmee gemeenskappe gerig word. In Rom.13 skryf Paulus dat al sulke gesag in lyn met God se wil is en ter wille van goeie onderlinge verhoudings gehoorsaam moet word. Om daarmee die eie ek op die voorgrond te stoot, is sonde.

ʼn Sin vir eiewaarde is nie sondermeer sonde nie. Die mens is nie waardeloos nie. Dis vir niemand nodig om homself aan iemand anders of homself te bewys nie. Sy waarde hang nie van die erkenning van ander mense af nie, maar kom van God en derhalwe innerlike waarde:

“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh.15:5).

Gelowiges durf nooit enige ydele begeertes na mag, status, of erkenning koester nie. Gehoorsaamheid aan God en die uitbreiding van sy koninkryk op aarde is al wat vir hulle moet saak maak.

5.   Die probleem vererger

Magsbeheptheid neem oorhand toe. Mense woon dikwels sosiale geleenthede by net om mense te soek wat hulle kan help om hoër op die gewildheidsleer te klim. Krag soek na meer krag en maak dat mense gebruik in plaas van gedien word.

Sulke mense praat graag oor akademiese prestasies of vooraanstaandes wat hulle ken net om agting te verkry. Hulle neem soos verkleurmannetjies die kleur van hul omgewing aan. Sommige praat in kerke soos gelowiges maar meen daarbuite net so maklik die teenoorgestelde standpunt in. Sulke ongeloof is nooit die teken van besondere verstandelike vermoëns nie, maar eerder van ʼn verdraaide wil!

Slot

Dit wat slegs met mag in standgehou kan word, sterf altyd ’n vroeë dood. Maglustiges vergeet dat die aardse lewe net tydelik is en dat elkeen aan die einde van die tyd geoordeel sal word:

Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).

Daar is net een geneesmiddel vir die liefde vir mag en dis die mag van die liefde. Dit laat alle gelowige leiers in dieselfde rigting te kyk – na God toe!