Ds. A.E van den Berg
Inleiding
Daar is al baie oorloë geveg, sommige kort soos Israel se sesdae-oorlog teen Egipte in 1967. Ander het jare geduur. Die oorlog van die Lam (Jesus) teen dié van die draak (Satan) duur al die langste en het reeds voor die skepping met ʼn opstand teen God se gesag begin:
“En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie.” (Openb.12:7,8).
Hierdie oorlog sal eers met die wederkoms van Christus eindig as die Lam die draak beslissend oorwin en hom en sy gesante in die hel werp. Intussen word hierdie oorlog teen die Lam vanuit talle oorde gevoer, self vanuit kerke!
1. Skakeling
Mense probeer van meet af aan om met God te skakel. Baie glo dat dit deur middel van godsdienstige handelinge en rituele gedoen kan word. Dis almal tevergeefs. Skakeling geskied nie deur werke nie, maar langs die weg van ware geloof en deur genade alleen:
“En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie” (Rom.11:6).
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie; dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Efes.2:9).
Die geloof in Christus as die enigste Verlosser is die enigste pad na die hemel. Daar is nie ander paaie nie:
“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie. Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.3:36; 14:6).
Die geloof in Christus moet in die oorspronklike vorm geleer word anders word dit maklik met die okkulte besmet. Talle Charismatiese kerke bevind hulle op gevaarlike paaie. Met hul eiesinnige leer en beoefening van die geestesgawes, trap hulle gereeld in die slagyster van die Satan waarteen die apostels eeue gelede baie ernstig gewaarsku het!
Die heidendom herleef wêreldwyd. Tatoeëermerke en liggaamsdeurprieming getuig daarvan. Die draak voer oorlog teen die Lam! Daarbenewens ontsondig talle kerke gruwels en verkondig dwaalleer. Mense besef nie dat hulle ʼn ander Jesus as die Een van die Bybel verkondig nie. Dis ʼn baie ou probleem:
“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het ... ...of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor.11:3,4).
Die oorlog van die draak teen die Lam gaan met groot lewensverlies gepaard. Die eerste vier eeue van die kerk se geskiedenis is met die bloed van martelare bevlek; gelowiges wat heidense praktyke in kerkgeledere teengestaan het. Jesus het dit voorsien:
“ Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie. Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ’n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys. En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was” (Joh.16:1-4).
Die geskiedenis word herhaal – kerke raak weer met heidenseleerstellings besmet; selfs Protestantse kerke wat van beter behoort te weet. God het Israel telkens gewaarsku om geen gemene sake met die gruwels van heidene te hê nie:
“’n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur:die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan” (Jer.5:30,31).
“Hoe lank nog? Is dit in die hart van die profete wat leuens profeteer en profete is van die bedrieëry van hulle hart —is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur Baäl?Die profeet by wie ’n droom is, laat hom ’n droom vertel; en by wie my woord is, laat hom my woord spreek in waarheid. Wat het die strooi met die koring te doen? spreek die HERE. Is my woord nie só, soos ’n vuur, spreek die HERE, en soos ’n hamer wat ’n rots vermorsel nie?.... Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die HERE spreek! Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die HERE, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie... As hierdie volk of profeet of priester jou dan vra en sê: Wat het die HERE gelas? — dan moet jy vir hulle sê: Júlle is die las. En Ek sal julle afwerp, spreek die HERE... mag julle nie meer melding maak nie; want vir elkeen sal sy eie woord die las wees: dat julle verdraai die woorde van die lewende God...” (Jer.23:26-38).
Paulus waarsku teen dwaalleer:
“Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg... Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand.20:28-31).
2. Die drie oorlogsfronte
2.1 Die Roomse Kerk
Satan is ʼn meester-misleier soos Eva in die tuin van Eden geleer het. Hy gebruik drie fronte vir sy oorlog teen die Lam. Eerstens die Roomse Kerk (RK). Die meeste van hierdie kerk se gebruike, rituele en tradisies is heidens van oorsprong. Beelde van heiliges, heilige water, ikone en relikwieë isenkeles daarvan. Die RK het standbeelde van afgode met dié van hul eie sg. heiliges vervang en bid selfs tot hulle. Dis ʼn ernstige verbreking van die tweede gebod en die verbod op gebede tot dooies:
“Daar mag niemand by jou gevind word wat ...’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel...” (Deutr.18:10,11).
Die RK sit die ou heidense tempelgebruike met hul skouspelagtige ampsdrag, brandende kerse, kruise en okkultiese hoofbedekkings voort. Sommige van hul kerke is op oudheidense grond opgerig. Die Notre Dame is die bekendste. Kan daar iets goeds uit iets slegs kom?
“En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook” (Rom.11:16).
Die geskiedenis van die RK is weersinswekkend. Dis ʼn verhaal van eeue lange verdrukking, marteling en moord op mense (ketters genoem) wat die dinge van die draak teengestaan het. Arm massas is oorheers en onkundig gehou.
2.2 Charismatiese kerke
Charismatiese kerke bevind hulle dikwels op gevaarlike grond! Sommige word so deur hul godsdiensywer en hunkering na buitengewone ervarings meegevoer, dat hulle onbewustelik met ʼn ander gees as die Heilige Gees skakeling vind. Dit gaan teen die einde ernstig toeneem:
“...hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het ... daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie... “ (2 Thess.2:9-12).
Charismatiese leerstellings wemel van dwaalleer. Wonderbewerkers wat mense bedrieg en baie geld daaruit maak, neem epidemiese afmetinge aan; goedkoop genade teen ʼn hoë prys!
“Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie” (2 Kor.5:7).
Die Bybel verwys nêrens na mense wat met die Evangelie toevertrou was en onsinnig opgetree het nie. Wie tekens en wonders najaag, minag baie duidelike Skrifwaarskuwings en stel nie die geeste op die proef nie:
“ Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh.4:1).
Die Bybel waarsku teen versugtinge na tekens en wonders:
“Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mt.24:24).
Gelowiges moet geestelik nugter wees:
“ En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid ... Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind” (1 Pet.4:7; 5:8).
Ongelukkig word Charismatiese kerke aan vlak Skrifbenaderings gekenmerk. Sommige leraars tree diktatoriaal op en maak hulle aan ʼn tipe van godsdienstige Nazisme skuldig. ʼn Leraar van God is ʼn dienskneg. Moses, Dawid, Johannes die Doper en Paulus was sprekende voorbeelde.
“’n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees” (Luk.6:40).
2.3 Die Ekumene
Die ekumeniese beweging is ʼn derde front waaruit Satan sy aanvalle loods en ʼn bedreiging vir die Christendom. Dis ʼn oproep tot wêreld-kerkvorming; mega-kerke (large and in charge). Al hoe meer Protestantse kerke bevind hul in die linie van die draak en help indirek om die verhoog vir die regering van die Antichris voor te berei.
Ekumenisme is versuikerde gif om Protestantse kerke mee te vernietig. Dit verwater Bybelse waarhede ten einde een wêreldkerk te vestig. Daar word gedurig aan eeu-oue manuskripte gepeuter om nuwe Rooms-georkestreerde Bybelvertalings die lig te laat sien. Die NAV (1983) is een daarvan!
Op internasionale vlak gaan alles om die totstandkoming van ʼn een-wêreldgodsdiens en een-wêreldregering onder een leier. Ekumene berei die pad vir hierdie wêreldgodsdiens voor. Robert Muller wat vir 40 jaar die assistent sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies was, het ʼn wêreld-onderwysstelsel bepleit om kinders te leer om wêreldburgers te word.
Daar is ʼn groot wêreldkerk voor die deur wat vanuit die Vatikaan beheer gaan word. Protestantse kerke staan alreeds in die ry van oorgawe. Homoseksualiste word bv. as lidmate en selfs op kansels verwelkom en selfde geslag huwelike in kerke bevestig. Sulke sedelike verrotting grens aan dié van Sodom en Gomorra!
Slot
Hierdie toename in sedelike grondverskuiwings ontnugter gelowiges wêreldwyd. As homoseksualisme en selfde geslag huwelike toegelaat word, wat verhoed kerke om pedofilie, bloedskande en selfs bestialiteit te ontsondig? Kerke laat die draak toe om vanuit hul loopgrawe sy oorlog teen die Lam te voer!
Hierdie baie lang oorlog staan einde se kant toe. Gelowiges word op kantlyne gerangeer. Wie ʼn eie kulturele erfenis voorstaan,word as rassiste gebrandmerk en wie homoseksualisme en aborsie kritiseer, word met vervolging gedreig. Gelowiges gaan teen die einde ʼn lewe van beperkte vryhede tegemoet.
Die stryd vir die Lam en sy Kerk is ʼn heilige oorlog wat enduit geveg word:
“... voer dan oorlog met goeie oorleg” (Spr.20:18).
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes.6:10-12).
In Jesus Christus is die gelowiges meer as oorwinnaars:
“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis.....(Openb.12:11).
“Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin — want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings — en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openb.17:14).