ENGELE

Ds A.E. van den Berg

“...want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie”(Ps.91:11,12)

Kinders is oorwegend bang vir die donker en loop nie sommer alleen in ʼn donker kamer in nie. Maar as ʼn ouer saamloop, verdwyn die vrees want iemand groter as hy is by hom.Soos wat ʼn mens groter word, maak ander dinge hom bang soos slegte omstandighede, siekte, misdaad, onreg ens.   Bang mense vrees altyd dinge wat hulle nie verstaan nie.  

Deur die bekering word ons rustiger omdat die Bybel sê dat niks met ons gebeur waarvan ons Hemelse Vader nie weet nie. “Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees” (Ps.103:13).  

Jesus stap soos ’n vader saam met sy kinders die donker kamer van die lewe in. Hy is die Een wat groter is en met Hom by ons is daar niks om te vrees nie.   Hy leer ons selfs om onder slegte omstandighede ons kop in die geloof regop te hou. En daarvoor het ons sy Woord.   Hoe meer ons dit lees, hoe beter verstaan ons die lewe en as dit donker in ons lewe word, hoe minder vrees ons. Wie met Jesus in die sonskyn wandel, het geen rede om die skadu’s te vrees nie! 

 

Ps.91 roep gelowiges op om onwrikbaar op God en sy beskerming te vertrou. En as die storms van die lewe woed, by Hom skuiling te vind.   Hy gee vir elke kind van Hom persoonlik om en beskerm hom dienooreenkomstig op drie besondere maniere.

Eerstens deur net te praat. Dink aan die storm op die See van Galilea toe Jesus die storm onmiddellik laat bedaar het:“…Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe en hulle het bedaar en daar het ’n stilte gekom” (Luk.8:24). Tweedens beskerm Hy ons deur ander mense in ons nood na ons te stuur. Dink hier aan Dawid wat Goliat verslaan en die vyand hakskene laat wys het. En derdens deur engele te gebruik: “...want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou wee. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie” (Ps.91:11+12).

In Mt.4 lees ons van Jesus wat onsuksesvol deur Satan versoek is. Hy het Jesus na die hoogste punt van die tempel geneem en gesê dat Hy moes afspring omdat God Hom volgens Ps.91:11,12 sou bewaar. Satan haal die Bybel aan maar Jesus het hom uit Deut.6:16 tereggewys waar daar staan dat jy God nie mag versoek nie.

Gelowiges in nood bid nie tot God om hulle deur engele te beskerm nie. Hy beskerm hul op sy eie tyd en manier. Dink aan die verhaal van Job.

Die mens wat biddend afhanklik van God leef, weet dat sy Hemelse Vader ’n Beskermer is. Dawid getuig: “Here Here, Sterkte van my heil, U beskut my hoof in die dag van stryd” (Ps.140:8).   Daarbenewens bring die Heilige Gees rustigheid in ’n lewe: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:7).  

God se beskerming beteken egter nie dat ons nie onaangenaamhede sal beleef nie. Hy bewaar ons in die sin dat die storm verby gaan en ons geestelik sterker daaruit kom. En daarvoor gebruik Hy ook engele om ons van, in en deur die gevare te bewaar. Artikel 12 van die Nederlande Geloofsbelydenis sê van engele: “…Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien”.

Engele is hemelwesens wat God se opdragte uitvoer. Ons weet nie wanneer hulle gemaak is nie, maar wel vóór die skepping van die mens. Engel beteken gesant of gestuurde.   In Openb.2 en 3 lees ons telkens: “En skryf aan die engel van die gemeente…” Dis nie ’n goeie vertaling nie. Die N.A.V. vertaal dit met leraar en al is dit nie ’n direkte vertaling nie, kom die bedoeling van gesant of gestuurde hierin duideliker na vore.

Engele het ook name.   Die Bybel noem twee daarvan – Gabriël (Dan.10) en Migael (Openb.12).   Engele het gewone en uitsonderlike take gehad. Eerstens om gelowiges te bewaar. Tweedens om Hom te dien en derdens om saam met God bly te wees as ’n sondaar hom bekeer: “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer…” (Luk.15:7).  

Engele bewaar gelowiges van gevare. Ps.91 sê dat engele ons van die gevare van onheil en nood bewaar.   By geleentheid het die Assiriërs Jerusalem lank beleer en het dit met Juda baie sleg gegaan.   Hulle het op daardie stadium egter ’n godvresende koning (Hiskia) gehad wat God om verlossing gebid het. En toe die nood op sy hoogste was, het God op ’n besondere manier die verlossing gegee: “En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtig duisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg klaarmaak, was dit almal dooie liggame” (2 Kon.19:35).

Engele bewaar ons op God se bevel in gevare.   In ’n noodsituasie hou Hy sy kinders vas soos toe geen Assiriër destyds Jerusalem binnegedring het nie. God bewaar ons ook deur gevare.   Dink aan Daniël in die leeukuil en sy antwoord aan Darius: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie..” (Dan.6:23).  

Daar was ook ’n engel saam met Daniël se drie vriende in die vuuroond: “Toe het koning Nebukadneser verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? ... Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ’n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos die van ’n godeseun” (Dan.3:24,25). God verlaat nooit sy kinders nie!  

Engele bewaar mense egter nie ongekwalifiseerd nie. Ps.91 sê watter mense deur engele beskerm word – wie hul lewenstoevlug tot God neem; gelowiges. God het hulle uitverkies om Hom te dien en te verheerlik. Daarom is engele in diens van God en nie van mense nie. Ons sien hulle nie. Ons praat nie met hulle of bid tot hulle nie. Ons soek by God alleen beskerming.

Al kry gelowiges ook swaar op die aarde en voel dit asof God van hulle vergeet het, bly hulle op sy Woord vertrou: “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Rom.8:38 en 39).      

Een ding waarna gelowiges moet uitsien, is om in die hemel saam met die engeleskaar God vir ewig te prys! Luister hoe sluit Dawid Ps.103 af: “Loof die Here, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die Here, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen! Loof die Here, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die Here, o my siel!” (:20-22)

Dank God vir sy ewige beskerming hetsy direk of deur sy engele. Daarom kan ons soos koning Dawid uitroep: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my; u stok en u staf die vertroos my” (Ps.23:4).