Ds A.E. van den Berg
“Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle” (Jes.3:12).
Luk.15 vertel die verhaal van ʼn verlore seun wat tot besinning gekom en teruggekeer het. Suid-Afrika het baie verlore seuns wat nie terugkeer nie omdat hulle verkeerd grootgemaak is. Amerika het dieselfde probleem; seuns word deur dogters oorheers. Wat lees- en skryfvaardigheid betref, is Amerikaanse seuns meer as 18 maande by dogters agter. Hulle druip meer as dogters, word meer geskors. Minder voltooi matriek as dogters.
Om dinge te vererger, raak die Westerse kultuur al hoe meer feministies; seuns word soos dogters grootgemaak. Al hoe meer vroue beklee kerk ampte; iets wat volstrek onskriftuurlik is.
God het die man en vrou se rolle duidelik onderskei. Hulle is twee helftes. Nadat Adam geskep is, het God in Eva vir hom ʼn hulp gemaak. In die huwelik word hierdie twee helftes een. God het die man as hoof van die vrou geskape en die vrou as sy hulp; nie anders om nie!
Satan probeer van meet af aan hierdie verhouding belemmer. Met sy aanslag op Eva, het hy haar oortuig dat God haar te na wou kom waarna sy oortree en Adam haar voorbeeld gevolg het. Dit sou nie die eerste keer wees dat ʼn swak man aan ʼn vrou toegee nie. Agab en Isebel is ʼn verdere voorbeeld, nie eens van Salomo te praat nie wat deur sy volksvreemde vroue tot afgodery verlei is waarna God sy koninkryk as straf verdeel het.
Sedert die sondeval poog Satan om God se huweliksorde om te keer. Adam is veronderstel om die sterker een te wees met Eva wat volg. Satan keer hierdie rolle tot vandag toe nog om!
Jesaja skryf oor die boosheid van sy tyd: “Want kyk, die Here HERE van die leërskare sal uit Jerusalem en Juda wegneem die stut en die steun…” (3:1). Hoe weet ʼn volk as God hul straf? Hul gemeenskapslewe val soos in die tyd van Jesaja uitmekaar! God neem die manlike leierskap weg; vooraanstaandes, profete, oudstes, owerstes en ambagslui (: 2,3). Toe Hy die leierskap van Juda af wegneem, trek die gemeenskapstruktuur skeef!
Dieselfde het met Suid-Afrika gebeur. Wat het van ons volk se sterk manne, onkreukbare leiers, eerbare generaals, leraars met profetiese insigte en rotsvaste gesinshoofde geword? God het hulle weggeneem!
Tot so ʼn paar dekades gelede was vaders nog die middelpunt van hul gesin – hoof van die huis, broodwinner, beskermer, morele opvoeder en gesagsfiguur. Vandag vind jy skaars twee van hierdie eienskappe by hulle. Dis ʼn rolsversaking en die rede waarom ons seuns swaar kry!
Jesaja spel die tragiese gevolg van die rolsversaking van sy tyd uit: “En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers” (:4). Seuns raak al hoe meer ʼn verleentheid vir ʼn samelewing: “En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander, die seun sal die grysaard en die veragtelike die agbare stormloop”(:5).
Ons volksseuns veragter teen ʼn ontstellende tempo. Mits vaders nie dringend na God se weë terugkeer nie, gaan die verval vererger. Dit stuur op twee uiterstes af - vaders wat seuns grootdoenerig (macho) grootmaak of moeders wat hul seuns verwyfd maak - beide gruwels vir die Here!
Abraham Lincoln is ʼn voorbeeld van regte oueropvoeding. Hy was ʼn man van staal en fluweel, ʼn kragtige politikus en diep gelowige. Hy was ʼn man van oorlog en vrede - oorlog as hy sy eie moes beskerm; andersyds vrede. Lincoln was bedagsaam, vriendelik, geduldig, nederig en vergewensgesind, maar nie oordonderend nie. En dis wat God verwag.
Daar was ook Iemand anders by Wie hierdie beskrywing nog beter gepas het – onse eie Here Jesus. Kunstenaars doen Hom oneer aan as hulle Hom as ʼn maer, verwyfde, sagmoedige Neelsie teken. Nee, Hy was ʼn ware man en sterk. ʼn Swakke sou nooit as timmermans deug nie!
By geleentheid het Hy selfs die geldwisselaars met ʼn sweep uit die tempel verdryf. Die Jode wat dit gesien het, was bang vir Hom. Daarom het niemand Hom teengegaan nie. Jesus was waarlik man! Hy het oor al die fluweel eienskappe beskik wat Hom ʼn gebalanseerde lewe laat lei het. Hy het die dissipels met sy voorbeeld geleer; ook dat ʼn dienskneg nie groter as sy meester is nie. Jesus was nederig en het by geleentheid selfs die dissipels se voete gewas.
Jesus het was ook meegevoelig. Blindes, dowes en kreupeles het na Hom om genade geroep en genesing ontvang. Vroue het met hul probleme na Hom gekom en aan sy voete geween. Jesus was die toonbeeld van ware manlikheid. Hy was nie net ʼn man van staal wat sy gesag op mense wou afdwing nie, maar ook ʼn man van fluweel; sterk, moedig, dapper, goedig, geduldig en nederig. Hierdie goddelike vorm van manlikheid het mense na Hom getrek.
Ons volk het ʼn nood aan gesonde gesinslewens. Waar dit ontbreek, trek dinge skeef. Die geslagsrewolusie word groter. Om seuns soos dogters en dogters soos seuns groot te maak, is bewustelike opstand teen God se skeppingsordening. Om dinge erger te maak, aanvaar kerke hierdie sataniese ommekeer en bevestig mense van dieselfde geslag selfs in die huwelik! Weet hulle dan nie wat die Bybel sê nie?
“...mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen (Rom.1:32).
God straf elkeen wat sy skeppingsorde omkeer. Hy laat volke oes wat hulle gesaai het! Goddelose gesinslewens en omgekeerde lewensstyle eis ʼn lelike tol - seuns weet nie meer hoe om man te wees nie!
Elke man behoort soos Jesus te wees. Alhoewel min van sy jeugjare opgeteken is, kan afgelei word dat Hy aan sy aardse ouers gehoorsaam was en in ʼn intieme verhouding met God was. Sy ouers en hemelse Vader het Hom geleer hoe om man te wees. En dis die oplossing. Ons volk gaan nie vanself regkom nie. Kyk na Jesus!
Gedragswetenskaplikes bied talle moontlike oplossings vir die euwels in ons volkslewe. Dit gaan niks help alvorens God nie in die sentrum van ons gesinslewe teruggeplaas word nie. Ons moet uit Juda se foute leer. Daarvoor het ons die Bybel. Hierdie groeiende verrotting gaan op geen ander manier gekeer word nie!
Deutr.6 spel God se erns van die vaderfiguur in die gesin duidelik uit: “...en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (:7)
Wat ʼn heilsame uitwerking sal dit nie op ons volk se kinders hê as ouers meer ag op hul kinders se opvoeding slaan en nie God’s water oor God’s akker laat loop soos wat dit tans gaan nie. Die eindresultaat sal ʼn gesonde volk wees.
Bid God om ons volk van hierdie omgekeerde geslagsrolle te genees. Hierdie verlore seuns moet huis toe kom want uit die hierdie verrotte hout in ons land kan niks goed gekerf word nie!