KINDERS EN VERANTWOORDELIKHEID
Ds A.E. van den Berg
Die lewe is ʼn lening van Godwaarmee baie verantwoordelik omgegaan moet word omdat ʼn dag gaan aanbreek dat dit terugbesorg moet word. Mense kan verantwoordelikhede ontduik, maar nie die gevolge daarvan nie. In dié opsig is die lewe soos ʼn boemerang - dit wat jy daarheen gooi, keer later na jou toe terug. Elkeen sit op een of ander tyd aan die tafel van sy eie doen en late.
“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Ouers wat hul kinders verantwoordelik opvoed, is ʼn seën vir ʼn gemeenskap. Hulle leer hul kinders van kleins af om verantwoordelikheid vir hul dade te neem. ʼn Kind kan ʼn seën of ʼn skandvlek wees.
Wie sonder ʼn verantwoordelikheidsin grootgemaak word, is gewoonlik ʼn ergernis vir sy samelewing. Hy byt maklik die hand wat hul voed en laat ouers met die uitgebrande as van ontnugtering sit. En alles begin in die ouerhuis. Kinders wat oneerbiedig teenoor ouers optree, eerbiedig niemand anders nie. En wie die bron vergiftig moenie verwag dat die stroompies vars sal wees nie.
Ouers se lewens is die handboek wat kinders leer hoe om te leef. Die gesin is die smidswinkel waar hul lewenswaardes op die aambeeld van die lewe gevorm word. Wie hier nie verantwoordelikheid vir sy dade leer neem nie, leer dit nêrens anders nie en loop vir die res van sy lewe mank.
Ouers skuld kinders meer as wat hulle hul ooit kan bied. Die grootste geskenk wat ouers aan kinders kan gee, is die wortels van verantwoordelikheid en vlerke van onafhanklikheid.
Ouers kla maklik as die bal vir hulle verkeerd spring. In baie gevalle spring dit deur hul eie toedoen verkeerd omdat hulle hul kinders nie geleer het om verantwoordelikheid vir hul optredes te neem nie. Sulke ouers is laksmanne en nie wagters nie! Jy kan ʼn kers doodblaas, maar nie ʼn vuur nie. Daarom is voorkoming beter as genesing en die pyn van verantwoordelike opvoeding beter as dié van berou!