GEPEUPEL

Ds A.E. van den Berg

ʼn Regering wat deur geweld ontstaan, stort maklik weens die optrede van ʼn gepeupel ineen. Dis die skuim wat opborrel sodra ʼn volk begin kook; dwase wat van die ordelike samestelling van ʼn beskawing ontslae wil raak en hul eie mense in vrees en vullis laat voortleef.

Omdat geweld die hoofdis op sulke mense se spyskaart is, wil hulle altyd alles in hul pad vernietig sonder om oor die gevolge na te dink. Sodra mense se emosies sterker as hul verstand is, trek ʼn volk aan die kortste end. Hulle kom in die hoogste versnelling voordat hulle verstand in rat is.

Daarna word misdaad ʼn plesiertog van vernietiging en hul optredes so deurspek van onverdraagsaamheid, dat hulle vergeet wie hulle is en waarvoor hulle eintlik in opstand is. Om een boosheid met ʼn ander een te vervang, verbeter niks nie. Jy steek nie jou bed aan die brand om van vlooie ontslae te raak nie!

Ongelukkig sien so ʼn gepeupel nooit die duiwels van hul eie optredes raak nie en plunder die vestings van beskaafdes ten einde van die reëls van ʼn ordelike gemeenskap ontslae te raak. Hierdie dwaasheid vind altyd in koppe met min verstand neerslag, word deur versteende wraaksug gevoed en verdrink in die vloedwater van onsinnigheid.

ʼn Gepeupel verkwalik graag vooruitstrewende mense vir hul ellende terwyl hulself daaraan aandadig is. Wie kla dat die bal vir hulle verkeerd spring, het dit gewoonlik self laat val. Ongelukkig dink mense met gebalde vuiste nooit logies nie en word maklik deur die stormwind van hul eie onverskilligheid weggewaai.

Die optrede van ʼn gepeupel moet egter nie heeltemal onderskat word nie. Dis gewoonlik die gevolg van leë beloftes wat in diepgewortelde frustrasies ontaard en reeds die doodsgeroggel van ʼn swak regering geword het.