Ds. A. E van den Berg
Van al God se gawes aan die mens is kinders van die grootstes. Wie hulle eerbaar opvoed, betuig hul dank teenoor Hom want dis waaruit gesonde gemeenskappe gevoed word. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar en is sommige ouers aan die ontsporing van hul kinders aandadig. Hulle word nie so gebore nie, maar so grootgemaak.
God verwag van ouers om hul kinders reg op te voed want opvoeding sonder streng geestelike waardes maak van kinders slim duiwels. Dit gebeur gereeld met ouers wat hul doopbelofte nie nakom en die doop net as ʼn kerkformaliteit beskou. Van hierdie kinders lê later selfs belydenis van geloof af, maar ontspoor as hulle die ouerhuis verlaat.
Opvoeding het weinig waarde indien ouers nie tot kinders se harte deurdring nie. Ouers se lewens is die handboek wat kinders leer hoe om te leef. Ook in die huwelik. Wie hul kinders hier nie teleurstel nie, sal ook nie later in hulle teleurgestel wees nie.
Dit wat egter in ʼn huis verkeerd loop, word nie maklik daarbuite reggestel nie en loop dikwels op ʼn saamblyery uit.Ouers draai ʼn blinde oog na hierdie spottery met die huwelik en swyg uit vrees vir moontlike verkeerde gesindhede. En so vrees hulle die gawe (kinders) meer as die Gewer (God)!
Mislukte kinderopvoeding ontaard toenemend in ernstige teen-sosiale gedrag. Homoseksualisme en psigopatie is twee daarvan. Geen kind word so gebore nie, maar so gekweek. Homoseksualisme is by seuns die gevolg van te sterk moeder- en by dogters te sterk vaderbindinge. Satan gebruik hulle om God se skeppingsordening van een-man-een-vrou in die huwelik omver te probeer gooi.
Psigopatie is ook aan foutiewe kinderopvoedingte wyte en die gevolg van oorbeskerming. Psigopate word nie geleer om verantwoordelikheid vir hul verkeerde optrede te neem nie. Een van die ouers neem dit vir hulle. Dit maak die kind selfgesentreerd, ʼn gewoonte leuenaar, impulsief en ʼn manipuleerder. Hy kom miskien nog op skool daarmee weg, maar loop sy rieme in die lewe styf as die ouer hom nie meer uit die pekel kan kry nie. Talle beland in die tronk!
Ouers maak elke dag depositos in die geheue-bank van hul kinders. Skoon stroompies vloei nie uit vuil bronne nie. Toe die jong Rodney Axe jare gelede lewenslange gevangenisstraf opgelê is vir moord, het die regter tydens sy vonnisoplegging gesê dat sy pa na reg die straf moes ontvang het.
Kinders wat reg opgevoed is, is soos reën - heilsaam waar dit val. Ouers wat kinders verkeerd opvoed, sit altyd met die uitgebrande as van ontnugtering. Dit wat ʼn mens na die lewe gooi, kom altyd soos ʼn boemerang na jou toe terug.
Die toekoms van ons volk lê in geseënde kinderopvoeding waarvoor gelowige ouers onontbeerlik is. Hulle is padwysers na die hemel en die tafel wat eerbare kinders voed, altyd baie geseënd!