SODOMIE EN DIE BYBEL

Ds. A.E van den Berg

“Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word;...” (Openb.22:11).

Inleiding

Namate die wederkoms van Christus nader kom, word die mensdom al hoe boser. Euwels soos aborsie word gewettig en onreinheid ontsondig om die egtheid en goddelikheid van die Bybel in twyfel te trek en mense te verwar:

“Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike kettery heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ʼn vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikheid navolg, en om hulle ontwil sal die Weg van die waarheid gelaster word.” (2 Pet.2: 1,2).

1. Suikerlagie

Sonde kry ʼn suikerlagie en smaaklik opgedis. Let op misbruik van die woord gayvir homoseksualisme; ʼn Engelse woord vir mense wat opgewek en gelukkig is. Homoseksuele mense is alles behalwe ʼn gelukkige klomp, al gee hulle so voor. Hulle versprei o.a. dodelike geslagsiektes soos VIGS wat vir die eerste keer juis by sodomiete ontdek is.

Homoseksualisme spot met die goddelike instelling van die huwelik.   God het man en vrou vir mekaar gemaak en nooit aan sy plan verander nie. Wie daaraan peuter, leef onder die oordeel van God en kan nooit gelukkig wees nie:

“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk,... Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer — Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;.. mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:22,24,26-29, 32).

2. Geen onduidelikheid nie

Die Bybel veroordeel sodomie in geen onduidelike taal nie:

Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel. En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle al twee iets gruwelik gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle”(Lev.18:22;20:13).

“Daar mag geen hoer uit die dogters van Israel wees nie; en daar mag geen skandseun uit die seuns van Israel wees nie. Jy mag geen hoereloon of hondeprys in die huis van die HERE jou God as enige gelofte offer bring nie; want dié al twee is vir die HERE jou God ’n gruwel” (Deutr.23:17,18).

“En hy het die huise van die skandseuns afgebreek wat in die huis van die HERE was, waar die vroue tente geweef het....” (2 Kon.23:7).

Skandseuns was manlike prostitute en tydens die koningskap van die gelowige konings Asa en Josia verban. Vóór dit is sodomie ongesteurd bedryf en het die kerk van destyds ʼn blinde oog daarna gedraai. Soos wat geestelike herlewing destyds nie sonder die uitroei van homoseksualisme geskied het nie, sal dit ook nie vandag gebeur nie!

3.   Die sonde van Sodom

Die woord sodomie kom van die Bybelse Latyn peccatum Sodomiticum - die sonde van Sodom. Die OT verwys telkens na die verwoesting van Sodom (Deut.29:23; Jes.1:10; 3:9; 13:19; Jer.49:18; 50:40; Klaag.4:6; Amos 4:11 en Sef.2:9).

God het Sodom en Gomorra weens die gruwel van homoseksualisme verwoes (Gen.19) en mense deur die eeue telkens daaraan herinner:

“...deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel en as voorbeeld gestel vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees.” (2 Pet.2:6).

Kerke wat homoseksualisme goedpraat, is in werklikheid niks nuut nie. Tydens die geestelike verval van Juda gee God die leraars van Jerusalem die skuld daarvoor omdat hulle nie daadwerklik teen sodomie opgetree het nie. Die gevolg was dat hulle die hande van die kwaaddoeners versterk en spoed aan die verval verleen het!

“...maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra” (Jer.23:14).

In Eseg.16 vergelyk God die koninkryk van Israelmet dié van Sodom:

Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom.... toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het... (Eseg.16.49,50).

Alhoewel Esegiël nie uitdruklik van seksuele oortredings melding maak nie, was dit ʼn begeleidende verskynsel in tye van verval soos wat die woord gruwelikheid hier indirek aandui - seksuele wangedrag.

Die NT verwys ook na Sodom as ʼn plek van God se toorn:

En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan. Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens” (Judas:6-8).

Hierdie vreemde vlees kan net sodomie wees, teen God se wil, onnatuurlik en derhalwe weersinwekkend.   Josephus skryf in 96nC oor die Sodom-gebeure dat die welgestelde stadsbewoners God vergeet en ongeërg teenoor hul medemens opgetree het. Vreemdelinge is nie verdra nie en verkrag. Die woord sodomie is eers na 500nC vir hierdie gruwel gebruik.

4. Onheiligheid

Sodomiete word ook in die Bybel honde genoem omdat hulle soos honde geen sedes het nie:  

Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen” (Openb.22:15).

Homoseksualisme is nie ʼn genetiese siekte soos wat sommige wysneuse beweer nie. Geen mens gaan hel toe omdat hy siek is nie en skreeu kerke se aanvaarding van homoseksualisme as alternatiewe erotika, teen God se Woord. Geen riool-lewe kan ooit vir God goed ruik nie:

Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet.1:15,16).

“Jesus antwoord en sê vir hom : Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Joh.3:3).

ʼn Onrein leefwyse is ʼn sterwenswyse!

5.   Latere jare

Talle ou Romeinse wette het ook homoseksuele gedrag verbied. Die Lex Scantinia (149vC) en Lex Julia (17vC) het die doodstraf deur onthoofding vir hierdie oortreding voorgeskryf.   Tydens die Middeleeuse Inkwisisie (1184) het die Roomse Kerk haar teenstanders soos die Waldense nie net valslik van Satanisme beskuldig en vervolg nie, maar ook van sodomie. Nadat die teenstanders uitgewis is, het die Inkwisisie hul op heksejag toegespits en dit ook met sodomie verbind.

Gedurende die 18de eeu is talle verkragtingsake in die Old Bailey (Londen) aangehoor. Regters het oortreders soms tegemoet gekom behalwe vir sodomie wat in 1780 weens ʼn toename tot halsmisdaad verklaar is. Tussen 1730 en 1733 het Nederland ʼn vlaag van sodomie beleef waartydens 276 mans tereggestel is.

Oud Britse en Amerikaanse regters het sodomie in skerp taal soos “die mees verfoeilike sonde”, “weersinswekkende misdaad” en “dit wat nie onder Christene durf genoemword nie” veroordeel.

Teen die 1950s het al die Amerikaanse state wette gehad wat sodomie as ʼn misdaad gesien het. Toe daar in 1961 met die omkeer van hierdie wette begin is, was daar geen keer nie wat later selfs tot ʼn ontsondiging deur ontspoorde kerke gelei het!

6. God se oordeel

Die Bybel is reguit oor sodomiete se ewige eindbestemming:

Wie My verwerp en My Woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel : die Woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.”(Joh.12:48).

“Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaad sprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Kor.6:10,11).