...EN KERKGEBOUE
Ds. A.E van den Berg
Kuba het sedert die vroeë 20er jare van die vorige eeu vir 50 jaar motors uit Amerika ingevoer. Na die Kubaanse Rewolusie het Castro die invoer van alle Amerikaanse motors asook onderdele verbied en was die Kubane genoodsaak om die motors self aan die gang te hou
Daar is nagenoeg 60,000 van die veteraanmotors in Kuba waarvan ongeveer 50% uit die vyftiger jare, 25% uit die 40er jare en 25% uit die 30er jare kom. Die motors word dikwels as erfstukke hanteer wat van die een geslag na die ander gaan. Die gebrek aan vervangingsonderdele het die plaaslike bevolking verbasend bedrewe in die instandhouding van hierdie voertuie gemaak.
Vandag is Kuba as’t ware ʼn lewende museum vir veteraan Amerikaanse motors. Die ou voertuie is nog steeds aan die gang met onderdele wat nie oorspronklik daarvoor gemaak is nie. ʼn 50er jare Chevy met ʼn Russiese dieselmasjien is ʼn algemene gesig in die strate van Havana.
Talle van die motors se ruite draai nie meer af nie, of die verfwerk is met lae verf opgedoen. Die oorspronklike masjiene bestaan feitlikglad nie meer nie. Dis met Russiese dieselmasjiene vervang. Indien ʼn motor onherstelbaar is, word dit vir onderdele gebruik.
Hierdie veteraanmotors laat my aan van ons eens trotse Protestantse kerke dink. Die uiterlike (bakwerk) is nog dieselfde, maar die leer (meganiese aandrywing) iets geheel anders!