VOORWAARDE VIR LANDSVREDE

Ds. A.E van den Berg

“ ...(as) my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees”(2 Kron.7:14).

Inleiding

Die Bybel leer dat staatkundige onrus dikwels die gevolg van geestelike afvalligheid is soos in die tyd van die OT se profete duidelik laat blyk. God het bv. vir Esegiël gebruik om Juda tydens die ballingskap tot bekering op te roep. Hulle moes goed verstaan waarom God hulle gestraf het – hul godsdiensafvalligheid!

Esegiël het oor God se onttrekking van sy guns aan Juda, gepreek sonder dat die woord ingang by die ballinge gevind het. Dit kon die profeet maklik moedeloos laat word en ophou preek het. God het hom egter ʼn toekomsgesig van Juda se vrylating en terugkeer na Jerusalem gegee wat hom met sy prediking laat volhard het.

'n Groot deel van die bemoedigende toekomsgesig handel oor die herstel van die tempel in Jerusalem. Daarom het Esegiël ten spyte van die uiters ongunstige omstandighede waarin die ballinge verkeer bly profeteer dat hulle op God se tyd na Jerusalem sou terugkeer om die verwoeste tempel en stadsmure te herstel.

1.   Die verval

Juda se straf was eerstens oor hul ongehoorsaam aan God en tweedens ʼn verdraagsaam teenoor misleier-leraars te wyte. Laasgenoemdes se valse vredesverkondig is deur blind-lojale kerkgangers vir soetkoek opgeëet en het straf verdien. Juda kon geen vinger van beskuldiging na God wys nie. Dit was alles hul eie skuld. God het hulle jare lank deur profete gewaarsku dat daar ʼn oorlog gaan kom en hulle hul vryheid sal verloor:

So sê die Here HERE: Onheil op onheil, kyk, dit kom! ’n Einde kom, die einde kom, dit word wakker teen jou; kyk, dit kom!” (Eseg.7:5,6).

Juda se onverskilligheid het die land in ʼn staatkundige warboel laat beland en niemand het raad of leiding van die volksleiers verkry nie. Die koning, leraars, priesters en oudstes kon geen oplossing bied nie en mense het tevergeefs na vrede gesmag.

Juda se tevergeefse soeke na staatkundige vrede is niks vreemd aan die OT nie. In Jes. 48 sê God dat ʼn volk wat na sy gebooie luister vrede sal ervaar. Juda het nie geluister nie en die smartlike gevolge gedra.

Alles was egter nie vir die ballinge tevergeefs nie. God sou uit vrye wil genade aan hulle betoon. Daarom sluit Esegiël met die gesig van die terugkeer van God se heerlikheid na Juda en die herstel van die tempel af. Die belofte van herstel bereik 'n hoogtepunt in hoofstuk 47 as Esegiël water onder die drumpel van die tempel sien uitvloei wat spoedig 'n magtige rivier word en in die Dooie See inloop en alles wat dood is laat lewe; die toonbeeld van Juda se volksherstel.

2.   Godsdiensmisleiding

Esegiël het nie doekies omgedraai nie en die vinger op die wond gelê. Benewens haar ongehoorsaamheid aan God het Juda haar godsdienstig laat mislei. Die profeet het die eertydse leraars aangekla wat Juda met valse vredesboodskappe bestook het. Hulle moes eerder God se oordeel oor die plaaslike verkondig en mense tot bekering oproep:

Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe” (Esegiël 18:32).

Om alles te vererger, het die betrokke leraars hul ook op gesigte beroem; gesigte van staatkundige vrede terwyl daar geen vrede in die vooruitsig was nie. Dit het oneindige skade aangerig:

So sê die HERE aangaande die profete wat my volk verlei, wat as hulle maar iets het om met hulle tande te byt, vrede verkondig; maar teen hom wat niks in hulle mond steek nie, verklaar hulle ’n heilige oorlog! Daarom sal dit nag word vir julle, sonder ’n gesig, en duister vir julle, sonder waarsêery; ja, die son sal oor die profete ondergaan, en die dag oor hulle verduister word” (Miga 3:5,6).

Die vredesprofete het verkondig dat, omdat God in beheer van die hele wêreld is en die tempel in Jerusalem was, Hy die stad nooit sou prysgee nie. Hierdie Sion-teologie was die kernhoofstuk in die tragiese verhaal van ʼn volk wat vrywillig ten gronde gegaan het.

Die profeet Miga het ook geweet dat Juda se volharding in sonde God se straf onafwendbaar sou maak en Juda gewaarsku. Die plaaslike leraars het dit afgelag en met hul gewilde vredesprediking voortgegaan.

Jeremia was net so ontsteld en by God oor Juda se valse gerustheid gekla:

Toe sê ek: Ag, Here HERE, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle’n duursame vrede gee in hierdie plek. En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ’n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart. Daarom, so spreek die HERE: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie — dié profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom. En die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê vanweë die hongersnood en die swaard sonder dat iemand hulle begrawe; hulle, hulle vrouens en hulle seuns en hulle dogters. So sal Ek dan hulle boosheid oor hulle uitstort” (Jer.14:13-16).

“So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie. Hulle sê gedurig aan my veragters: Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie” (Jer.23:16,17).

Waarom het Juda se leraars nie die waarheid verkondig en mense gewaarsku nie? Omdat hulle nooit deur God tot diens geroep is nie. Hulle was werktuie in Satan se diens!

3.   Die nuwe Herder

Esegiël het die leraars verwyt dat hulle God se kudde nie versorg, maar eerder laat verstrooi het.God het egter beloof om die verstrooides bymekaar maak en die verbond van weleer opnuut laat geld. Die verbond van vrede het ʼn driehoek gevorm - God, volk en die herstel van grondgebied.

God het beloof om na die vrylating self as herder van Juda op te tree. Hulle sou weer sy geseënde volk wees en deur nasies erken word:

En hulle sal weet dat Ek, die HERE, hulle God is, daaraan dat Ek hulle in ballingskap laat gaan het na die nasies, maar hulle weer versamel het in hulle land en dáár niemand meer uit hulle agter laat bly het nie” (Eseg.39:28).

Slot

Landsvrede word slegs in ʼn herstelde verhouding met God ʼn werklikheid. Daarvoor moet die leuen gehaat en die waarheid omarm word. Kerkmisleiding versprei tans soos ʼn veldbrand aan die suidpunt van Afrika. Die misleiers kom nie net uit sekte-geledere nie, maar veral uit hoofstoomkerke wat geen leertug teen ontspoorde teoloë uitoefen nie. Mense dink nie, maar volg hierdie mense blindelings.

Siener van Rensburg het in een van sy gesigte gesien dat God die Boerevolk genadig gaan wees en (soos ʼn Juda van ouds) weer vrygaan maak. Hy sien dat hierdie vrymaking opslae in die wêreld maak. Laat ons dus nooit ophou om mekaar se wagters te wees nie!