Die misbruik van God se naam
Ds. A.E van den Berg
"Want u Naam is, troue Heer, vir u volk tot troos naby." (Beryming Ps.75:1).
Kinders gee nie aan hulself name nie. Dis ouers se voorreg. Niemand het egter vir God ʼn naam gegee nie. Hy het sy eie Naam gekies om daarmee te sê wie Hy is. Sy Naam is, soos wat die Israeliete name verstaan het sy identiteit, en derhalwe onlosmaaklik aan die Persoon self verbind.
Wie die naam van God gebruik, raak die kern van sy goddelike persoonlikheid aan. Die derde gebod verbied niemand om dit wel te gebruik nie. God gee dit vir mense om persoonlik met Hom te praat en ʼn liefdesverhouding met Hom te bou. Hy verbied wel die misbruik van sy Naam.
Niemand mag dit of op ʼn leë, onnadenkende manier gebruik asof God nie van belang is nie. Desondanks word hierdie Naam goedsmoeds in sake gebruik wat niks met Hom te doen het nie. Sy heiligheid en eer is nie daar ter sprake nie!
Vir gelowiges is en bly God se naam heilig en mag slegs met eerbied gebruik word. Dit gebeur nie. Mense word op ’n daaglikse basis deur die media aangemoedig om dit as’n kragwoord te gebruik. Vreemd genoeg gebruik niemand Allah, Boeddha of enige ander afgodse naam as ’n kragwoord nie! Of is dit juis nie vreemd nie...
Dwaalleraars maak hulle ook skuldig aan die verbreking van die derde gebod as hulle sê: so sê die Here, terwyl dit nie so is nie. Valse profete verdraai en pas die Bybel by die gees van die leuen aan en preek wat mense graag wil hoor. Hulle dien die Naam van God met die sous van hul eiesondige gedagtes en mooiklinkende woorde op. Dis hoe die ontsondiging van homoseksualiteit bv. ontstaan het!
Die Naam van God moet eerder groter en ryker word. By die skepping was dit alreeds groot. Met die verlossing in Christus het dit nog groter en wonderliker geword:
“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God” (1 Kor.10:31).
Die misbruik van God se Naam druis teen sy wet in en word gestraf:
“Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie”.
Ongelukkig word niemand vir die misbruik van God se Naam (die G-woord) vervolg nie. Wie egter die K-woord gebruik, beland in die sop. Dit druis teen die Grondwet in. Wat dan van die misbruik van God se Naam; druis dit nie op ‘n gruwelike wyse teen sy Wet in nie?