Ds.A.E. van den Berg
“ .... as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”(Joh.3:3).
Indien jyvir ʼn sterwende uit die Bybel moet lees, wat sal jy lees? Ek sou Joh.3 lees omdat dit op lewendes sowel as sterwendes betrekking het. Dit vertel van ʼn soeker wat dit wat soekend was, gevind het. Nikodemus was ʼn fyn opgevoede Fariseër, opgeleide teoloog, lid van die Joodse Raad (Sanhedrin), iemand met baie invloed en deel van baie mense wat deur Jesus se wonders beïndruk was:
“En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen” (Joh.2:23).
Waarom het Nikodemus spesifiek in die nag na Jesus gegaan? Miskien om nie deur ander mense gesien te word nie of om ʼn steuringsvrye onderhoud te kry. Dit maak nie saak nie. Hy het ʼn vraag in sy hart gehad waarop hy ’n antwoord gesoek het – hoe word ek gered? Alhoewel hy dit nie direk gevra het nie, het Jesus sy hart geken en sy eintlike vraag beantwoord.
“ ... as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”.
Hierdie antwoord het die Jode se opvatting oor redding op grond van hul volkidentiteit behoorlik geskud. Hulle het op grond van hul herkoms uit die nageslag van Abraham aanvaar dat hulle outomaties ʼn plek in die hemel sal kry. Sommige rabbi’s het selfs verkondig dat Abraham by die poorte van die hel staan om seker te maak dat een van sy nasate nie per ongeluk daar beland nie!
Gevolglik het Jesus se antwoord aan Nikodemus die Jode se appelkar behoorlik omgekeer. Wat sê Jesus vir hom? Dat die eerste geboorte uit die vlees niemand in die hemel bring nie; alleenlik die tweede een - uit die Gees.
Die Jode het ʼn Messias verwag wat ʼn nuwe politieke bestel en wêreld sou bring met die Jode in die hoogste gestoeltes. Hulle het na ʼn nuwe wêreld in plaas van ʼn nuwe gees gesmag. Die teenoorgestelde is egter waar; Jesus het nie ʼn nuwe wêreld maar ʼn nuwe lewe gebring waarin Hy die voortreflike Een sou wees. Daarvan wou die Jode niks weet nie. Politieke bo geestelike vryheid!
Die woorde weer gebore beteken om van bo af gebore te word. Die eerste geboorte is aards en dus van onder; die tweede is vanuit die hemel en ʼn nuwe lewe. Dis nie ʼn sedelike of godsdienstige hervorming nie, maar ʼn heel anderse lewe; ʼn geestelike metamorfose en Godvererende gedaanteverwisseling.
Wie kon meer as Paulus daarvan getuig! Hy het die vroeë Christene vervolg en toe op pad na Damaskus tot bekering gekom het. Hy skryf:
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Dis die wonder van die wedergeboorte. Net die Heilige Gees bewerkstellig dit.
Die klem op die noodsaaklikheid van die wedergeboorte kom telkens in die NT voor.
“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode. As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ’n rein hart;want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike...” (1 Pet.1:3,22,23).
Nikodemus was aanvanklik verward. Hoe kan ʼn ou mens weer gebore word? Hy het as teoloog van God se belofte aan Israel geweet nl. dat Hy die verstrooide volk weer bymekaar sou bring, geestelik reiniging en later die Messias sou stuur.
Nikodemus het soos sy volksgenote geglo dat twee van die drie beloftes al in vervulling gegaan het. God het sy volk uit die twee onderskeie ballingskappe laat terugkeer waarna ʼn sterk geestelike beweging by name die Fariseërs op die been gekom het. Die Jode het geglo dat dit die verwagte geestelike hervorming was. Daarom was Jesus se eis van wedergeboorte vir Nikodemus vreemd. Het hulle dit nie alreeds gesmaak nie?
Jesus sê vir hom:
“ ...Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie” (Joh.3:5).
Wat is hierdie water? Kan dit die grootdoop wees soos wat die Charismate glo? Nee, dit beteken om deur die Heilige Gees skoon/nuut gemaak te word.
” ...nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord” (Efes.5:26).“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh.7:38).
Die Gees stof die sondaarsiel af en spoel die ou dinge weg. Dis skoon soos met water gereinig.
Nikodemus was baie godsdienstig. Aan sy uiterlike voorkoms sou jy dink dat hy reeds skoongespoel is. Maar hy was nie. Jesus se eis sluit alle moontlikheid van redding deur menslike verdienste uit. Die mens is so deur sonde besmet dat net die Heilige Gees hom kan was; iets wat op verskillende maniere plaasvind.
Jesus vergelyk die werking van die Heilige Gees met wind wat waai:
“Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is” (Joh.3:8).
Wat sê Hy vir Nikodemus daarmee? Dat hy nie alles van die wedergeboorte hoef te weet om dit deelagtig te word nie. Die Gees van God werk soms op maniere en plekke waar Hy nie verwag word nie soos bv. op Golgota waar ʼn sterwende misdadiger tot bekering gekom het.
Jesus berispe Nikodemus wat as teoloog niks van die wedergeboorte geweet het nie. Dit was tog duidelik in die OT uiteengesit en moes onder godsdiensleiers se aandag kom. Hoe kon Nikodemus dit gemis het? Ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat Nikodemus die wedergeboorte gesmaak het.
Die woorde die eerste maal in die nagdui daarop dat hy gereeld na Jesus gekom het en waarskynlik een van sy getroue volgelinge was. Die laaste wat van hom opgeteken is, was pas na die kruisiging:
“En ná hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat ’n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem. En Nikodemus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met ’n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig” (Joh.19:38,39).
Hy tree saam met Josef van Arimathéa as Jesus se lykbesorgers op. Net ʼn gelowige sou dit doen.
Nikodemus se aanvanklike mistasting is ʼn universele mistasting. Miljoene siele het al in die verderf beland; mense wat glo dat hul met vormgodsdiens genoeg krediete ʼn plek in die hemel sal verwerf. Lees gereeld die Bybel, bid, gaan kerk toe ens. Dit het geen Bybelse gronde nie. Godsdiens en geloof is nie noodwendig eenders nie. Satan laat mense so glo!
Baie mense se godsdiens bestaan net uit dit wat hulle wil glo, maar nie uit wat hulle behoort te glo nie. Hulle maak nie van God hul godsdiens nie maar van godsdiens hul God soos wat Nikodemus aanvanklik gedoen het. Moenie daardie selfde fout maak nie!