AS DIE TEENOORGESTELDE GEBEUR

Heyns se dodelike misgissing

Ds. A.E van den Berg

Johan Heyns was van 1986-1990 moderator van die NG Kerk wat vir baie jare ʼn morele en teologiese ondersteuner van die regering se apartheidsbeleid was. Toe hy in 1980 by die kritiek teen die kerk se ondersteuning van apartheid betrokke geraak het, was die skrif aan die muur – die kerk gaan dit spoedig afsweer. Heyns het in tussentyd aan Kerk en Samelewing gewerk, ʼn dokument wat in 1986 na sy verkiesing as moderator, as nuwe beleidsrigting aanvaar is.

Voor dit het talle internasionale kerkorganisasies die NG Kerk se teologiese en morele verdediging van apartheid as kettery en teenstrydig met ʼn kerk se Gereformeerde karakter veroordeel wat haar geloofwaardigheid in gedrang gebring het.

Die Algemene Sinode het in 1982 teen hierdie agtergrond vergader en die status quo gehandhaaf. Dit was vir Heyns en sy vrysinnige bondgenote ʼn geweldige teleurstelling en as ʼn hindernis op die weg van sg versoening betreur.

Heyns was een van agt hoëprofiel teoloë wat hul besorgdheid oor die NG Kerk se skynbare magteloosheid om versoening tussen blankes en swartes te verwesenlik, uitgespreek het. Die kerk was basies in twee kampe verdeel; voor- en teenstanders van verandering. Eersgenoemdes was daarvan oortuig dat as die NG Kerk apartheid nie afsweer nie, geen vreedsame oplossing vir Suid-Afrika se rassespanning bereik kon word nie. Sy was die gewete van die volk.

Heyns het hom egter ten doel gestel om die kerk van binne af tot ander insigte bring en in 1986 daarin geslaag toe hy as moderator van die Algemene Sinode verkies is. Hy is egter in behoudende kringe as ʼn verraaier verag. Die ongelukkigheid onder die behoudendes het tot die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk in 1987 gelei. Heyns het dit later as die hartseerste gebeure van sy loopbaan bestempel.

Na 1986 het Heyns hom vir ʼn terugkeer na internasionale ekumeniese liggame beywer. Om lidmaatskap te bekom moes die NG Kerk apartheid afsweer wat sy toe ook agt jaar voor die staatkundige verwerping daarvan onder dawerende internasionale applous gedoen het.   Daarna is sy as lid van die Gereformeerde Ekumenies Raad (1992), die Wêreldbond van Geformeerde kerke (1998) en die Wêreldraad van Kerke (2015) her-toegelaat.

Heyns was een van die grootste verraaiers in die geskiedenis van die Boerevolk. Sy drome van ʼn Suid-Afrikaanse Utopia het die Boerevolk hul staatkundige vryheid in 1994 laat verloor. Geen volk kan vry wees as dit nie apart is nie!

Die NG Kerk het haar met rasseversoening misgis en tot haar skok gesien hoe blankes op feitlik elke gebied die prooi van swart vergelding word. Die chaos wat direk na die bewindprysgawe ontstaan het, is as die groeipyne van ʼn nuwe bedeling verskoon. Dit was in der waarheid niks anders as die verfoeilike optrede van mense met geen benul van versoening nie. Versoening is as ʼn swakheid beskou wat uitgebuit moes word.

Heyns het hom lelik misgis. Na die 1986 Sinode het hy met ʼn stralende gelaat gesê dat die Heilige Gees nog nooit ʼn sinode soos daardie een gelei het nie. Indien hy reg was, sou sake in die land en die kerk heel anders verloop het. Die teenoorgestelde het gebeur. Heyns het hom met die leiding van die Gees misgis en sy eie vrysinnige ideale op Hom oorgeprojekteer.  

Die NG kerk was een van die hoof kokke in die kombuis van oorgawe en kon die gevolge van die mynveld wat sy help opstel het nie vryspring nie. Sy kon geen oog verroer toe heidene die Christen-grondwet in 1996 afgeskaf het nie!

Dit wat daarna gevolg het, skreeu ten hemel. Haar ontsondiging van gruwels soos homoseksualisme het die gat in die Boerevolk se morele osoonlaag vergroot. Elke afdraaipaadjie het in ʼn doodloopstraat en ontnugtering geëindig.

Dit as sulks het dwaalleer onder die dekmantel van vernuwing ʼn vastrapplek laat verkry en het die NG Kerk aan die sondige wil van mense begin toegee. Dit was ʼn herlewing van ʼn ou probleem in die vroeë kerk:

En baie sal hulle veranderlikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:2).  

Duisende lidmate het die NG Kerk vir ander kerke verlaat. Sommige het bloot kerkgang gestaak. Lidmaatregisters was vol, maar kerkbanke leeg. Al wat in die NG Kerk oorgebly het, is vrysinnige en/of blind lojale mense; ʼn patetiese verskoning van die rotsvaste kerk wat sy eens was.

Die Boerevolk is nie deur een of ander bose mag verslaan nie, maar deur die enorme masjien van staatkundige en kerklike verraad verpletter. Dit maak van die NG Kerk een van die kernhoofstukke in die tragiese verhaal van ʼn volk wat vrywillig ten gronde wou gaan!