Ds A.E. van den Berg
“Skiet die biesie op waar geen moeras is nie? Groei die riet sonder water? So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose; sy hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is ’n spinnerak. Hy steun op sy huis, maar dit bly nie staan nie; hy klem hom daaraan vas, maar dit hou geen stand nie” (Job.8:11,13-15).
Om ʼn huis te koop of te laat bou kos baie en is mense soms puntenerig met so ʼn koop. Maar, waarna kyk mense as hulle huis koop? Gewoonlik na alles behalwe die belangrikste – die fondament. Die mure, dak, vloer en binne afwerkings kry meer aandag. Dis soos ʼn man wat ʼn vrou trou net omdat sy mooi is. Alles gaan om die uiterlike. As dit reg is, is die wêreld reg.
So is dit ook met baie mense; as dit op stoflike gebied goed gaan, is alles reg. ʼn Dak oor die kop, ʼn betroubare voertuig en paar rand in die bank en die lewe is goed. Maar wat van die geestelike lewe? Is alles daar ook reg? Dit gebeur so dikwels dat as dit op stoflike gebied skielik sleg gaan, God daarvoor verkwalik word asof Hy mense ʼn gemaklike lewe skuld.
Hier is Job ʼn wonderlike voorbeeld. Hy was skatryk en het gemaklik geleef. Op een dag verloor hy alles; rykdom en tien kinders. Daarbenewens verlaat sy vrou hom toe ook. Hoe verskriklik om by ʼn oop graf van ʼn geliefde te staan, veral ʼn eie kind. Job verloor al tien kinders! Op daardie oomblik het die dak, mure en vloer van sy lewenshuis onder hom pad gegee en net ʼn kaal fondament oorgebly. En dit het gehou omdat dit op sy vertroue in God gevestig was.
In die gelese gedeelte kom Bildad, een van sy vriende met trooswoorde en skets twee soorte mense op aarde – een met ʼn geestelike fondament en die ander daarsonder. Wie sonder geestelike fondament is se huis word deur ʼn getygolf van beproewing vernietig. Wie ʼn geestelike fondament het se huis bly staan.
Bildad skets drie beelde om die twee groepe mense se lewens te illustreer – ʼn papirusriet, ʼn spinnerak en ʼn boom. Die papirusriet is ʼn bekende plant in die Ou Nabye Ooste en ʼn simbool van vrugbaarheid. Dis ʼn mooi plant omdat dit in ʼn goeie bodem gestaan het. As dit van die bodem ontneem word, verdor dit. Solank as wat dit in ʼn goeie bodem staan, gaan dit goed. So ook die gelowiges wat in die Woord van God geplant is.
In die Bergpredikasie praat Jesus ook van twee bouers. Een bou op die sand en die ander een op ʼn rots. Een huis val tydens ʼn storm en die ander bly staan want sy fondament was reg.
Bildad gebruik ʼn tweede voorbeeld, dié van ʼn spinnerak. Spinnekoppe werk hard en lank aan die spin van webbe. Dis egter broos en breek maklik. So is die mens sonder God in sy lewe. Hy spandeer baie tyd aan stoflike dinge. Alles hang egter aan brose draadjies en breek gou. Dawid skryf:
“Die mens — soos die gras is sy dae; soos ’n blom van die veld, so bloei hy.As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie” (Ps.103:15).
Bildad gebruik ʼn boom as derde voorbeeld. Dit gaan oënskynlik goed met die boom; selfs ʼn klipmuur is nie teen sy wortelstelsel bestand nie. So lyk baie goddeloses. Hulle het mag en aansien en maak en breek net soos wat hulle wil. Op ʼn dag kom die tuinier en kap dit met wortel en tak uit dat jy nie sou kon dink dat daar eens ʼn boom gestaan het nie. So sal goddeloses geheel vernietig word ongeag aardse roem en status. Die hemelse Tuinier sal almal uitroei wat die deur van hul harte nie wou oopmaak toe Hy geklop het nie!
Bildad het Job verseker dat goddeloses se stoflike voorspoed misplaaste vertroue is wat hulle in die ewige verderf sou laat beland. Koning Dawid skryf:
“Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog” (Ps.37:1.2).
Waarop vertrou jy regtig? Dis maklik om te sê dat jy op God vertrou as die son in jou lewe skyn en dit met jou goed gaan. Maar waarop vertrou jy as dit donker in jou lewe word en jy trauma beleef. Miskien die dood van ʼn geliefde, ʼn egskeiding of die verlies aan besittings of gesondheid soos ʼn Job van ouds?
Baie mense probeer in sulke tye aan hulself vashou. Die ergste trauma dryf hul nie eens na Jesus toe nie. God neem soms stoflike dinge weg om mense te laat besin. Baie mense skrik nie eens as die dood hulle eie lewe bedreig nie en vertrou dokters om dinge reg te maak. En as die dood onafwendbaar is, troos hulle hul daaraan dat daar polisse vir hul naasbestaandes is.
Die moderne mens het raad en oplossings vir alles. Hulle het God nie nodig nie. Hulle leef gemaklik, verdien goeie salarisse, bewoon ʼn gerieflike huis, ry ʼn goeie motor en besit talle ander stoflike dinge wat die lewe gerieflik maak; alles dinge waarmee God uitgeskakel word. Die eertyds afhanklike mens het in ʼn onafhanklike mens en selfversorgende wese geword wat elke oomblik soos die papirusriet in die water, die spinnekop op sy web en die boom wat stewig in die tuin staan, geniet.
Jare gelede het Jaap Zijlstra, ʼn Nederlandse ateïs, ʼn parodie op Ps.23 geskryf wat die moderne, selfvoldane mens treffend beskryf:
“Die stroom van welvaart is my weldoener, niks sal my ontbreek nie;
Dit laat my neerlê in groen weivelde
Na rustige waters lei dit my heen
Dit streel my maag; die geld lei my op regte spore
Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie
Want my polis is by my
My slaappille en aspiriene, die vertroos my
Die welvaart rig vir my ʼn dis aan voor die oë van onderontwikkelde lande
Hy sal my hoof bedruip met fraaie leuses, my liefdadigheidsbeker loop oor
Ja, vakansiebonus en kinderbystand sal my volg, al die dae van my lewe
En ek sal in die tempel van welvaart vertoef tot in lengte van dae”.
So is die moderne mens. Goeie medikasie en behandeling vervang die genade van God. Spaarplanne en polisse vervang die kinderlike vertroue in God se sorg. En so word die mens ʼn selfversorgende mensagtige masjien wat aan niemand verantwoording hoef te doen nie. Hy het niemand nodig nie tot op ʼn dag dat alles soos in Job se geval, wegval.
Wat het toe van Job geword toe die trauma hom soos ʼn getygolf tref? Het hy gevou? Nee, hy het bly staan omdat sy geestelike fondament gehou het. Niemand is van trauma gespaar nie. Dit kan enigeen van ons oorkom. Wat gaan jou lewenshuis laat bly staan? Alleenlik ʼn sterk fondament - die Rots van alle eeue, Jesus Christus.
Watter Ps.23 is in jou lewe waar – dié van Dawid of dié van Jaap Ziljstra? Mag die volgende woorde van jou lewe waar wees:
“Laat dit weerklink in alle ore, herhaal dit Heer van uur tot uur
Wie buite My is, gaan verlore, die dorre rank is vir die vuur.
Wil my al vaster aan U bind; hoe swakker ek myself bevind”(Ges.100:4).