PINKSTERSONDAG

Egte geestesgemeenskap

Ds A.E. van den Berg

En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en almal het een taal. En dit is net die begin van hul onderneming ... Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar.....   So het die Here hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi....” (Gen.11:6-8).

“en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?” (Hand.2:7,8).                          

In Gen.2:18 staan daar:

Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas” waarna Hy vir Eva gemaak het. God het die mens van die begin af vir ʼn gemeenskapslewe bestem om bruikbaar te wees, veral in ʼn geloofsgemeenskap. Gelowiges is soos ʼn bondel stokke wat saamgebind is. As die een aan die brand gesteek word, steek dit ook die ander aan. Iemand het eenmaal gesê: Miere sou goeie burgers kon wees omdat hulle gemeenskapsbelange bo eie belang stel.

Om as ʼn gemeenskap tot eer van God te leef, is wonderlik. Ons bely dat ons in die gemeenskap van die gelowiges glo. Ongelukkig leef baie gemeenskappe nie tot God se eer nie. Gen.11 is die verhaal van so ʼn gemeenskap met net een taal en ʼn sondige versugting na mag. Hulle was so boos dat hulle selfs ʼn toring probeer bou het waarmee hulle tot by God in die hemel wou opklim om met Hom kragte te gaan meet.  

Wat destyds in Babel gebeur het, is daarna telkens in die geskiedenis herhaal; saamgesnoerde gemeenskappe wat hul rieme met God styfgeloop het!   Sowat 2000 jaar ná die toringbouery het daar weer ʼn bose ding in Babel plaasgevind toe die koning hom bo God wou verhef en hard gestraf is. Die opskrif van Jes.14 lui: “Die val van die koning van Babel”

“Hoe het jy uit die hemel geval. O morester, seun van die dageraad? Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God.... Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!” (12-15)

In Gen.11 verydel God die Babiloniërs se bose strewe op twee aanskoulike wyses. Eerstens vernietig Hy hul onvoltooide toring en tweedens laat hy die bewoners deur ʼn spraakverwarring uitmekaar spat. Wat die Babiloniërs destyds gedoen het, was lynreg teen God se bevel. Ná die sondvloed gee God vir Noag en sy gesin opdrag om te vermeerder en oor die aarde te versprei. In Babel doen hulle net die teenoorgestelde; hulle trek onder ʼn koning in Babel saam om nie apart te wees nie, maar saam te koek.

Daarom het God ingegryp en hulle met ʼn spraakverwarring apart gedwing sodat die groot mensefamilie nie langer kon voortbestaan nie. Hulle het op ʼn harde manier ʼn les geleer wat mense tot vandag toe nog nie leer nie - wat God geskei het, mag geen mens saamvoeg nie!

Sulke kunsmatige mense-samevoegings bring spanning en onderlinge haat soos die reënboognasie aan die suidpunt van Afrika ʼn sprekende voorbeeld van is! In Openbaring waarsku God dat daar voor die wederkoms van Christus ʼn bose wêreldfamilie gaan ontstaan wat deur ʼn wêreldleier aangevoer word nl. die Antichris. Sy ryk word dan ook simbolies Babilon genoem.

Gen.11 vertel hoe God mense gestraf het. Hand.2 vertel hoedat Hy eeue daarna in die Heilige Gees ʼn nuwe familie op Pinksterdag begin vorm en geseën het. Die 14 verskillende volke wat op daardie dag in die tempel was, het die boodskap van verlossing in hul eie taal gehoor. Wat ʼn ommekeer van wat in Gen.11 by Babel gebeur het!

ʼn Wêreldfamilie is alleenlik goed as dit uit gelowiges bestaan. Selfs wanneer jy met gelowiges van ander volke in aanraking kom, vind jy aansluitings by hulle.

Kyk weer na Gen.11. Nimrod en sy onderdane wou God nie aanbid nie. Hulle het so veel van hulself gedink, dat hulle eerder met Hom wou meeding.   Dit was immers die sonde van Adam en Eva se tyd af – mense wil God nie aanbid nie, maar eerder hulself.   Babel is gestraf. Die toring is verwoes en hul taal verwar. Dit het hulle genoodsaak om oor die aarde te versprei soos God hulle beveel het!

Op Pinksterdag het God weer op mense neergedaal. ʼn Sterk wind, tonge van vuur en die dissipels se vermoë om in 14 ander verstaanbare tale te spreek, het mense hierdie keer nie uit mekaar laat spat nie, maar saamgesnoer. En elkeen wat die Naam van die Here aangeroep het, is gered. Die Gees van God het mense tot ʼn nuwe eenheid saamgevoeg – kinders van God.

Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh.1:12).

Die kerk van Christus is nie ʼn klub vir godsdienstige mense waar Sondae bymekaar gekom word nie. Dis ʼn geseënde gemeenskap met so ʼn besondere verhouding dat hulle mekaar as familie beskou en as broers en susters aanspreek. Wat bind hulle saam? Die nuut-word in Jesus; die wedergeboorte. Daarsonder is alle godsdienstige handelinge niks anders as toneelspel nie!   Die Fariseërs was in Jesus se tyd ʼn toonbeeld van sulke toneelspel. Daarom het Jesus en Johannes die Doper hulle telkens hard daaroor aangespreek.

Die dissipels het almal, op een na, die wedergeboorte gesmaak en soos eie familie liefdevol by mekaar ingeskakel. Ons moet egter op die misleiding van Satan bedag wees. Die geloofsgemeenskap verskil hemelsbreed van wêreldse gemeenskapvormings.   Die geloofsgemeenskap is nie struktureel en kan nie sigbaar gemaak word soos wat die Belhar-Belydenis voorstaan nie.

Dit was Babel se fout; Nimrod het hom vir strukturele eenheid beywer en misluk. Hy was ongelukkig nie die laaste politikus wat met hierdie dwaasheid gepoog het nie. Deur die eeue heen was daar talle soortgelyke mislukkings sonder een enkele suksesverhaal. Die reënboognasie is die jongste mislukking!

Hoe lyk egte geloofsgemeenskap? Dis nie sigbaar nie. Jesus sê:

Ek het nog skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde een herder” (Joh.10:16).  

Die klem val op verskillende skape, verskillende stalle maar in die gees een Herder.

Satan hou aan die mensdom ʼn geheel ander gemeenskap as rolmodel voor; die Babiloniese model van saambondeling - een waaroor die Antichris aan die einde gaan heers. Kyk maar net hoeveel kerke het die afgelope paar dekades met strukturele eenheid-proefnemings misluk en uit mekaar gespat!  

Kerke slaan die verkeerde rigting in. Jare gelede wou ʼn Britse Jood met ʼn bus Trafalgar plein toe ry en vra die kondukteur hoeveel dit gaan kos. “Two and six” antwoord hy. Die Jood besluit toe om ʼn rukkie agter die bus aan te hardloop met die hoop dat dit dan minder sal kos. Na ʼn myl skreeu hy vir die kondukteur: Mister conductor, how much to Trafalgar Square?”“Three and six; you’re running in the wrong direction” antwoord die kondukteur.

Dis presies wat op kerklike terrein gebeur – kerke hardloop al hoe verder van die waarheid af weg. Kom ons verheug ons egter op Pinkstersondag in die egte gemeenskap van die gelowiges soos wat God dit bestem het. Laat ons doen wat die Bybel vra en nie wat ʼn Antichris-gedienstige wêreld op ons wil afdwing nie!