Ds A.E. van den Berg
“........ Kom, maak vir ons gode wat voor ons uittrek....”(Ex 32:1).
Mense het ʼn aangebore behoefte aan leiers, nie om hulle te oorheers nie, maar om leiding vir ʼn sinvolle lewe te gee. Daarom is daar leiers en volgelinge. As ʼn leier egter nie daarin slaag om te lei nie, word hy mettertyd vervang. Hulle word uitgestem, uitgedwing of soms selfs vermoor. Ongelukkig hoor ʼn mens ook van leraars waarvan die band met hul gemeente losgemaak is omdat hulle die betrokke gemeente nie verder tot stigting kon dien nie.
Moses was ʼn besondere leier. Toe God hom tot diens geroep het, was Israel al vir 400 jaar slawe in Egipte. Hy moes hulle uitlei na die land wat God aan hul beloof het. Sommige volksgenote het hom aanvanklik gewantrou totdat die plae hulle tot ander insigte gebring en ʼn skouspelagtige uittog gevolg het.
Die 40 jaar woestyn-tog was nie sonder probleme nie. Kos, water en veiligheid was maar altyd op die agenda. God het egter altyd die nodige uitkoms gebied:
“Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het” (Ex.19:4).
Indien Israel hierdie tog in eie krag aangepak het, sou niemand dit oorleef het nie.
Moses se verhouding met God was deurslaggewend. Hy was ʼn uitmuntende leier. ʼn Goeie leier is ʼn skakel tussen God en sy volk. As hy sterf, is die toekoms donker omdat ʼn volk se toekoms met goeie leierskap verweef is. Dink aan die moord op dr. HF Verwoerd op 6 September1966. Die volk was verslae. Wie gaan nou lei? Wat gaan die toekoms inhou? Alles was skielik onseker.
So ʼn onsekerheid het Israel by Horeb beetgepak toe Moses op die berg geklim het om die Wet van God te ontvang en baie lank weggebly het. Mense het later gewonder of hy nie dalk dood is nie en het hulle soos ʼn uil op ʼn kluit tevergeefs op sy teruggekeer sit en wag. Later het selfs Aäron, hul dominee, skepties geraak.
Met Moses as navigator het hulle geweet waarheen hulle op pad was want hy het sy rigtingaanduiding direk van God gekry; ʼn wolkkolom bedags en vuur snags. Sonder hom was hulle sonder rigting en om sonder rigting te wees, is om sonder toekoms en net sowel as dood te wees.
Die lewe het daar in die bloedige woestyn skielik donker geword. Iets moes gedoen word. So is hulle na die dominee met ʼn voorstel: “Kom, maak vir ons gode wat voor ons uittrek”. Aäron het hulle nie bestraf nie, maar aan hul wens voldoen:
“En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my. Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ’n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het” (:2).
Interessant genoeg het net vroue, seuns en dogters oorringe gedra. As Aäron vandag so ʼn opdrag moes gee, sou hy waarskynlik meer oorringe by mans as vroue gekry het! Maar waarom word net seuns en nie mans genoem nie? Omdat ʼn seun destyds eers na sy 14de verjaarsdag as manlik geag is. As jong faro’s voor hulle 14de verjaarsdag oorlede is, het hulle hom in die vallei van die koninginne begrawe. Oorringe is net tot op ouderdom 14 gedra. Dit het nie by ʼn man gepas nie. Manlike prostitute het oorringe aan die linkeroor gedra.
Dat Aäron die ringe geneem, gesmelt en ʼn kalf daarvan gemaak het, bewys dat die heidense invloed nog sterk onder die Israeliete aanwesig was. Egipte het ʼn kalf-afgod gehad en was Israel nog glad nie reg vir die Beloofde Land nie. Gevolglik het God ingegryp en die reis wat ongeveer drie maande sou duur op die ou einde 40 jaar laat duur. God sou hulle geestelik oor en oor was totdat hulle rein genoeg vir ʼn nuwe lewe tot sy eer in Kanaän was!
Wat het nie alles deur Moses se gemoed gegaan toe hy op die afgodiese spul aan die voet van die berg afkom nie! Hy het die Wet van God gebring en hier oortree hulle die eerste sowel as die tweede gebod! Geen wonder dat hy kwaad geword en die kliptafels stukkend gegooi het nie. God het hom later ʼn tweede stel gegee.
Afgodery is ʼn wêreldprobleem. As mense aan afgode dink, dink hulle uitsluitlik aan beelde soos Boeddha, Vishnu of Semiramis (die Roomse Maria). Nee, afgodery is meer as net beelde-aanbidding; dis ʼn versaking van Godsaanbidding. As jy enigiets hoër as God ag, maak jy jou aan afgodery skuldig. Die gewildste afgod is geld. Vandaar die uitdrukking – hy sal sy siel vir geld verkoop.
Jesus gee opdrag:
“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie;maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees”.
Baie mense sal enigiets vir geld doen en sloof hulle selfs daarvoor af. Sommige beland selfs in die tronk. Vergeet geldgieriges dat hulle ʼn siel het? Glo hulle dat daar ʼn lewe na die dood is? Die meeste sê dat hulle daaraan glo, maar glo dit in werklikheid nie. Waarom sê ek so? Kyk hoe verkeerd lewe hulle. Jy kan mos nie verkeerd leef en verwag om reg sterf nie! Die logiese gevolgtrekking is dat ʼn persoon wat verkeerd leef nie in ʼn lewe hierna glo nie.
Enigiets wat vir mense belangriker as God is, word ʼn afgod want wat is afgodery anders as wantroue in God? Ondersoek jouself - wie dien jy werklik? Kyk na die gebeure by Horeb. Waarom het Israel, wat God se die leiding duidelik gesien het, tog besluit om ʼn afgod te maak en dit nogal met die dominee se hulp? Hulle het geglo dat hulle God deur die goue kalf kon dien. Die kalf het God verbeeld. Hierdie misgissing het duisende se dood beteken:
“Toe Moses sien dat die volk bandeloos was ....het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel. En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak. En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drieduisend man geval”(:25-28).
God verdra geen afgodery nie!
Mense kan die fout maak om te dink dat hulle God dien. In werklikheid dien hulle net die beeld wat hulle van God gemaak het met allerlei verwagtinge wat nie met die Woord van God ooreenstem nie. En hulle is gelukkig daarmee tot op ʼn dag dat dinge in hul lewe verkeerd loop en hulle ontnugterd God die skuld daarvoor gee. Dis tog so verkeerd. Die fout lê nie by God nie maar by hul voorstelling van Hom wat nie die nodige Bybelse gronde het nie. Hulle het al die tyd ʼn afgod aanbid!
Hoe sien jy vir God? As ʼn vader wat vir sy kinders sorg en deur die bekering tot Jesus Christus verlossing van sonde en ʼn ewige lewe bewerkstellig het of is Hy bloot net ʼn kerkkarakter waarvan Sondae in die kerk gepraat word en daarna agter toe deure tot die volgende Sondag bly?
Maak seker dat jy werklik die God van die Bybel aanbid. Moenie ʼn God wil dien soos wat jy wil hê nie, maar soos Hy is. Ons is uiteraard na God se beeld geskep; moenie Hom na jou beeld verander nie!