Ds. A.E van den Berg
“Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur,gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet” (Gal.4:4).
Inleiding
Die OT eindig met Maleagi 4. Die daaropvolgende hoofstuk plaas die leser onmiddellik in die NTmet ʼn tydverloop van 400 jaar tussen in; ʼn tyd waarin die profetiese stem in Israel stil geword het. Wat het in dié vier eeue in Palestina, soos wat Israel toe bekend gestaan het, gebeur?
Toe Maleagi geskryf is, was Israel as ʼn verenigde volk alreeds terug op eie bodem. Die Tienstammeryk van Israel is in 732vC na Assirië en die Tweestamme ryk van Juda in 607vC na Babel weggevoer. Toe die Perse later die nuwe wêreldheerser geword het, is die Bondsvolk in sy geheel toegelaat om in ongeveer 537vC na Palestina terug te keer en die verwoeste tempel en stadsmure van Jerusalem te herbou.
Alhoewel die herboude tempel kleiner as die vorige een was, kon priesters weer daarin diens doen soos wat die wet van Moses voorgeskryf het. Hierdie priesters was die direkte nasate van Aaron en sy seuns en kon dus voortgaan waar hul voorsate met die aanvang van die ballingskap moes ophou. Daar was egter geen regmatige koning in Israel nie, maar slegs ʼn marionet aan ʼn Persiese toutjie. Gelukkig was Israel toe sonder faksies of strydende partye.
As Matteus oopgemaak word, heers daar ʼn geheel ander atmosfeer in Palestina as voorheen. Die wêreldmag het intussen van die Ooste na die Weste verskuif met Rome as hoofkwartier. Die Jode het egter nooit hul staatkundige onafhanklikheid na die twee ballingskappe herwin nie.
Die Romeinse Ryk het die Jode wel toegelaat om ʼn marionettekoning te hê. Herodes was ʼn afstammeling van Esau in plaas van Jakob soos dit na reg moes wees. Daarbenewens was die hoëpriesters nie meer regstreekse afstammelinge van Aaron nie, maar gehuurde amptenare wat die Romeinse owerheid goedgesind was en die amp as politieke guns ontvang het.
Alhoewel die tempel in Jerusalem steeds die middelpunt van die Joodse godsdiens was, het sinagoges oral in Palestina opgeskiet. Dit was kleiner gebedehuise en baie gewild. Dit was ook nie lank nie of die Jode het in drie groepe verdeel – die Fariseërs, Sadduseërs en Esseners. Laasgenoemde was egter baie klein.
1. Die profetiese stilte
Die afsluiting van die OT kanon was die einde van die OT profete waarna 400 jaar van profetiese stilte aangebreek het; God se tyd om die leer van die OT by die Jode te laat insink. In hierdie tyd het die wêreldtoneel ingrypend verander amper soos dekorwerkers wat ʼn verhoog verander nadat die gordyn gesak het en voor dat dit weer opgaan.
Toe Assirië destyds die Tienstammeryk van Israel in ballingskap geneem het, is die ballinge oor die hele Assiriese ryk verstrooi. Die Babiloniërs het weer baie anders te werk gegaan en van die Joodse ballinge Babiloniërs probeer maak. Daniël en sy vriende het bv. Babiloniese name ontvang. Toe die Perse die Babiloniërs later oorwin het, is al die ballinge toegelaat om na die land van hul herkoms terug te keer, ook dié in Assirië omdat dit alles Persiese ryksgebied geword het. Die storie van die sg. tien verlore stamme van Israel hou geen water nie.
2. Die Griekse ryk
Toe die Persiese mag in 330vC deur Alexander die Grote in ʼn geskiedkundige slag gebreek is, het die Griekse ryk tot stand gekom. ʼn Jaar later het Alexander met sy leërs deur Sirië op Egipte afmarsjeer en was van plan om Jerusalem op pad daarheen te verower. ʼn Joodse hoëpriester en ʼn gesantskap het hom ʼn ent buite die stad ontmoet en oorreed om van sy plan af te sien.
Alexander is in 323vC aan alkoholvergiftiging oorlede en slegs 33 jaar oud. Omdat hy geen opvolger gehad het nie, het sy vier generaals die ryk onder hulle verdeel. Ptolemeus het Egipte en die Noord-Afrika kolonies en Seleucus vir Sirië en die noorde van Palestina verkry. Op daardie stadium was die res van Palestina by Egipte ingelyf.
Die Griekse invloed het so sterk in Palestina toegeneem, dat dit selfs ʼn nuwe party onder die Jode laat ontstaan het – die Helleniste. Hulle was gretig om hul met die Griekse kultuur en gedagtegang te vereenselwig en die eng Joodse wette te verwater. Dit het ʼn breuk onder volksgenote veroorsaak.
Die Fariseërs (nasionaliste) wou die Mosaïese wette en tradisies behou en het vreemde invloede hewig teengestaan. Hulle was eng wetties, huigelagtig en skyn-vroom. Daarom het Jesus hulle dikwels sterk aangespreek.
Die Grieksgesindes (Helleniste) het al hoe meer politieke invloed verkry en ʼn eie party gevorm – die Sadduseërs. Hulle was vrysinnig en het van die streng vertolking van die Wet afgesien. Daarbenewens het hulle in geen bonatuurlike dinge soos bv. die opstanding geglo nie.
In daardie tyd het ʼn jong Joodse priester met ʼn Samaritaanse vrou getrou, in opstand teen Joodse wette gekom en ʼn eie tempel op die berg Gerizimas laat bou wat ‘n opposisie vir die tempel in Jerusalem was. Dit het ʼn vyandige verhouding tussen Jode en Samaritane veroorsaak.
Gedurende die regering van een van die Ptolemeus konings in Egipte is die Hebreeuse Bybel in 284vC in Grieks vertaal. Hy het 70 Joodse geleerdes daarvoor gebruik en is die Septuagint genoem wat 70 beteken en na die 70 vertalers verwys het.
3. Jerusalem ontheilig
In 203vC het Antiochus die Grote in Sirië aan bewind gekom, Jerusalem verower en oor Palestina regeer. Hy is kort hierna deur ʼn seun, Antiochus Epiphanus, opgevolg wat die Jode erg vervolg het. Hy het die hoëpriester in Jerusalem ontslaan en ene Jason wat nie van priesterlike afkoms was nie in sy plek aangestel. Jason was nie lank in die amp nie waarna sy broer Menelaos dit op ʼn bedrieglike wyse bekom het.
Terwyl Antiochus in Egipte geveg het, is ʼn vals berig ontvang dat hy gedood is. Die Jode was oorstelp van vreugde en het onmiddellik vir Menelaos afgesit. Toe Antiochus daarvan te hore kom, het hy na Jerusalem teruggekeer en wraak geneem deur nagenoeg 40,000 Jode binne drie dae dood te maak. Asof dit nie erg genoeg was nie, het hy ʼn vark op die tempel altaar laat offer!
Sy optrede was ʼn voorafskaduwing van wat aan die einde van die tyd in die laaste tempel gaan gebeur:
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet” (Mt.24:15).
Die ontheiliging van die tempel het presies 2300 dae geduur voordat dit onder leiding van Judas Makkabeus herower en gereinig is.
“En hy het vir my gesê: Tweeduisend-driehonderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word” (Dan.8:14).
Judas Makkabeus het saam met sy vader en vier broers teen die Siriese koning in opstand gekom en gewen. Die Makkabeërs het daarna ʼn lyn van priesters gevorm wat Jerusalem vir vier geslagte lank regeer het. Gedurende hierdie tyd het een van die priesters ʼn verbond met die opkomende Romeinse mag gesluit om hulle teen ʼn dreigende Siriese aanval te beskerm. Dit het Rome binne die Palestina-prentjie te lande laat kom.
Na etlike botsings met Siriese magte het Palestina in 63vC onder Romeinse gesag gekom. Hulle het Antipater as die prokurator van Judea aangestel wat sy twee seuns konings van Galilea en Judea gemaak. Die een in Judea was Herodes die Grote (Mt.2:1,2).
In daardie tyd het die heidenryke rondom Palestina begin verkrummel. Mense was keelvol vir veelgodedom en die leegheid van heidense gelowe. Die Jode het self ʼn rowwe tyd beleef en nie kon net nie hulle voete vind nie. Hul enigste hoop was die belofte van die Messias wat sou kom.
Toe die ster oor Betlehem verskyn, het die wyse manne uit die Ooste wat ook oplossings vir hul probleme gesoek het, moed geskep en na die Een kom soek na wie die ster gewys het.
Die begin van Jesus se bediening 30 jaar later is deur ʼn man ingelei wat in die woestyn gepreek het - Johannes die Doper. Johannes het die 400 jaar se profetiese stilte met ʼn bekendmaking verbreek wat baie soos dié van die OT profete geklink het:
“In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judea gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom”(Mt.3:1,2).
Die berig dat daar weer ʼn profeet is, het die ore van die Jode in Jerusalem bereik en mense na die woestyn laat stroom. En so is die 400 jaar van profetiese stilte verbreek.