Leer van ʼn Farao
Ds. A.E van den Berg
“Die weg van ’n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad” (Spr.12:15).
Die regering se dreigemente van grondonteiening sonder vergoeding is niks anders as roof wat op die nodige wetgewing wag nie. Dwase politici glo vas dat dit die sg. Onregte van die verlede sal regstel en ekonomiese voorspoed vir die land beteken.
Ramaphosa het in 2018 gesê dat onteiening sonder vergoeding Suid-Afrika in ʼn tuin van Eden gaan verander. Die geskiedenis leer egter dat drome nie huise bou nie en dat onwerklike verwagtinge gereeld skipbreuk ly. Sulke lugkastele kom nie verder as die kelderverdieping nie.
In Genesis het die maer koeie in die Farao se droom die vettes opgevreet en ʼn ramp veroorsaak. Dit gaan ook aan die suidpunt van Afrika gebeur. Die rigting waarop die ANC-regering afstuur, kan geen tuin van Eden oplewer nie, maar eerder nog kommissies van ondersoek, waarvoor belastingbetalers moet opdok.
Ons land lê met tragiese landboumislukkings besaai. Al hoe meer produktiewe plase gaan tot niet weens opkomende boere wat so goed as niks laat opkom nie. Ramaphosa se geïdealiseerde tuin van Eden lewer slegs dorings en distels op. ʼn Eertydse minister van landbou skat die grondmislukkings op minstens 90%!
Onteiening sonder vergoeding sal private eiendom in staatshande laat beland en dit is sosialisties. Die regering moet eerder die voorbeeld van die Farao in Josef se tyd volg. Hy het Josef se kennis en bevoegdheid raakgesien en hom in ʼn baie verantwoordelike pos aangestel wat hongersnood in Egipte voorkom het.
Dat Josef ʼn uitlander was, het die Farao nie gepla nie. Hy het nie regstellende aksie of Egipties- ekonomiese bemagtiging toegepas nie. Josef se bevoegdheid was al wat getel het. Hy het Egipte ʼn hongersnood laat oorleef en selfs met ʼn oorskot gelaat waarmee buurlande gehelp is. Josef se sukses kan in moderne taal as ʼn triomf vir pragmatiese, tegnokratiese denke omskryf word.
ʼn Regering wat sy boere bystaan en nie kniehalter nie, is altyd voorspoedig. Ongelukkig sien die ANC nie die duiwels van hul eie skeppings raak nie en volhard met hul aggressiewe dwaasheid. Hulle herhaal foute maar verwag telkens ander uitslae!
Suid-Afrika het die nodige kundiges om dit te red. Ongelukkig word hulle in ʼn politieke rioolpyp afgedruk, onkundiges daaruit opgetrek en in doodloopstrate voortgespoed. Onteiening sonder vergoeding gaan die ANC se lugkastele in puinhope en dagdrome in nagmerries verander!