DIE SWART CHRISTUS

Ds. A.E van den Berg

Die CristoNegrois ʼn afgodsbeeld wat in Panama met karnavalfeestelikheid vereer word. Dit het in die 17de eeu aan die plaaslike kus uitgespoel nadat die krat waarin dit verpak was tydens ʼn storm van ʼn skip afgegooi is om die vrag ligter te maak. Dis van baie donker hout gemaak en twee maal per jaar van nuwe kleding voorsien. Aanbidders skenk dit as teken van toewyding daaraan asook ʼn boetedoening vir hul sonde.    

Hierdie beeld word jaarliks op 21 Oktobermet die Fees van die Swart Christus luisterryk vereer en selfs wonderwerke daaraan toeskryf. Verhale van hoe gebede aan die beeld die omgewing in die 18de eeu van ʼn dodelike plaag gered het, is gewild. Pelgrims loop tot 85 km te voet vanaf Panamastad na die Iglesia de San Felipe, ʼn Roomse kerk,waar die beeld gehuisves word. Sommige van hulle kruip selfs die laaste kilometers om deur selfkastyding seëninge te verkry.

So veel as 60,000 pelgrims woon hierdie feesviering by waartydens 80 mans met kaalgeskeerde koppe die afgodsbeeld op ʼn vlot deur die strate van die stad dra. Daardie aand word musiek gemaak, gedrink en onophoudelik gedans. Dié pelgrimstog is veral onder wetsoortreders gewild wat dit as ʼn boetedoening vir hul oortredings ag en word al jarelank as die beskermheilige van wetsoortreders beskou en vereer.

Die Fees van die Swart Christus speel ʼn belangrike rol in die geskiedenis van Panama. Ongeveer 10% van die plaaslike bevolking is van Afrika herkoms en die meeste in die Portobelo omgewing gekonsentreer. ʼn Sensusopname het getoon dat 21% van die stadsbevolking op ʼn swart identiteit aanspraak maak. Gevolglik gee dit aan die feestelikheid ʼn kleur van protes teen Spaanse kolonialisme wat eeue tevore slawe uit Afrika daarheen gebring het.

Die beeld se donker kleur maak dit ʼn voorwerp van aanbidding onder swart Panamese en verteenwoordig hul sin van weerstand teen die eertydse slawerny en rassediskriminasie. Tydens die feestelikheid trek sommige hul soos die duiwel aan om die Spaanse slawemeesters en medepligtige kerklui voor te stel.

Die Roomse Kerk het geen probleem met die beeldverering nie. Dit stuit gelowiges egter teen die bors. Wie voor so ʼn standbeeld buig en dit aanbid, maak hul aan die verbreking van God se gebod skuldig:  

“Julle mag vir julle geen afgode maak nie; en ’n gesnede beeld of ’n klip pilaar mag julle vir julle nie oprig nie en ’n steen met beeldhouwerk in julle land nie opstel om julle daarby neer te buig nie; want Ek is die HERE julle God (Lev.26:1).