ʼn Wesenlike Afrika-probleem
Ds. A.E van den Berg
“Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God”
(1 Pet.2:15,16)
Afrika het soveel probleme dat dit moeilik is om die grootste daarvan uit te sonder. Swartes se verwronge beeld van vryheid staan egter hoog op hierdie lys en laat regerings voortdurend in trurat voortbeur.
Vryheid is die suurstof van die siel waarsonder geen beskawing gedy nie en verantwoordelikheid die fondament daarvan. Daarsonder is ʼn land soos ʼn skip sonder ʼn roer en beland onafwendbaar op die rotse.
Vryheid mag nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie want dan is die kans daar om dit verloor. Dit moet eerder sorgsaam opgepas word. Vryheid wat deur mag ontneem word, kan met mag teruggeneem word. As dit egter prysgee word, is dit vir altyd verlore soos Suid-Afrika op ʼn harde manier geleer het!
Vryheid beteken vir dwase iets anders as vir wyses. Afrika het geen benul van vryheid nie omdat dit hoofsaaklik met die beker van bitterheid en haat in die hande gekry is. Sulke vrede is kunsmatig en lyk eerder na oorlog met grypsugtige leiers aan die spits wat hulle die reg aanmatig om die staatskas te plunder en van korrupsie ʼn nasionale sport maak.
Vryheid is kosbaar. Die geskiedenis van die mensdom getuig van volke se behoefte aan vryheid op ʼn eie grondgebied wat nie op ʼn skinkbord verkry is nie maar eerder met ywer en die genade van God. Gevolglik durf ʼn volk nooit sy vryheid prysgee nie, want hy gee ook sy nalantenskap prys!
Ongelukkig het ongebondenheid die godsdiens van die tyd geword. Losbandigheid word verkeerdelik as vryheid gesien. Ware vryheid verwerklik slegs deur dissipline en dinge wat wettig en in ooreenstemming met God se Woord is, na hartelus te doen. Dit gee aan mense die geleentheid om goed te wees.
Vryheid is vir gelowiges ʼn ernstige saak. Al leef hulle onder die genade van God, is hulle nie vry om te sondig nie. Hulle is deur Christus vrygemaak:
“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh.8:36).
“Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe” (Rom.6:1,2).
Daarom floreer vryheid oral waar die geloofslewe sterk staan en die Bybel deur landsburgers eerbiedig word.
Ongelukkig is min mense waarlik vry omdat vryheid verantwoordelikheid insluit en die Afrika-mens nie daarvoor kans sien nie. Die prys is te hoog en selfverryking te maklik. Ongelukkig kan diegene wat hul verantwoordelikhede ontduik, nie aan die gevolge daarvan ontsnap nie. Elkeen sit op een of ander tyd aan die tafel van sy eie toedoen!