WIE IS ‘N HEIDEN?

Ds. A.E van den Berg

As ʼn selfstandige naamwoord dui heiden op onbekeerde mense/volke in die algemeen. As ʼn byvoeglike naamwoord verwys dit na diegene wat die God van die Bybel nie eerbiedig nie. Hierdie woord (Hebreeus gojim) is in die OT vir alle volke buite die Jodedom gebruik ten einde hulle van die Jode, as die volk van God, te onderskei:

“...dat julle met hierdie nasies wat met julle saam oorgebly het, nie meng nie; julle mag ook die naam van hulle gode nie vermeld en daarby nie laat sweer nie, en julle mag hulle nie dien en julle voor hulle nie neerbuig nie” (Jos.23:7).

In die Nuwe Verbond het heiden ʼn ander inhoud verkry – almal wat die geloof in Jesus Christus as die Seun van God verwerp het wat ook onbekeerdes uit die Jodedom ingesluit het. Jesus het vooraf gewaarsku dat dit gaan gebeur:

“Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Mt.21:43).

Alhoewel die OT ʼn duidelike verskil tussen Israel en nie-Jode gemaak het, maak talle Skrifgedeeltes wel melding van die geestelike eenwording van alle nasies onder Christus:

”Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en hulle voor u aangesig neerbuig, Here, en hulle sal u Naam eer” (Ps.86:9).

Almal wat die Woord hoor en Jesus as die Messias aanvaar, het die ewige lewe. Dit het die taak van die kerk geword:

Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:19).

Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof” (Hand.15:7-9).

Vandag beskryf die woord heiden goddelose optredes in die algemeen; veral barbaarse en onbeskaafde gedrag waaraan agterlike mense hulle maklik skuldig maak. In ʼn geestelike sin dui heiden egter op almal wat buite die Christen-geloof staan en dinge leer wat nie met die Bybel strook nie.   Dit stem baie met die OT betekenis daarvan ooreen. Elkeen wat buite die Joodse geloof gestaan en hul met dinge wat vreemd aan die leer van die Tora was, besig gehou het, was as heidene geag.

In die OT het die Jode hulle op hul afstamming van Abraham beroem. Alles in die vlees. Christene het niks in die vlees om op te roem nie. Sommige van hulle was eens heidene en is slegs deur die genade van God in Christus gered:

Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus” (Efes.2:11-13).

Geen heiden is egter te sleg om tot bekering te kom en gered te word nie:

“En die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk” (Hand.11:1,18).