DIE ANTICHRIS

Ds A.E. van den Berg

Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word ..... die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is”(2 Thess.2:3,4).

Net voor die wederkoms van Jesus gaan die Antichris die mensdom betower: En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges. En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word” (Dan.8:24,25).

Die Antichris gaan ʼn mensdom en kerk sonder enige behoefte aan Jesus laat ontstaan. Die nuusmedia gaan elke woord en beweging van die Antichris dek; sy wêreldgesag, haat vir gelowiges en meesterlike politieke spel. Hy sal die mensdom laat glo dat goed sleg is en sleg goed:

“En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mt.24:12).

Die Antichris gaan ʼn wêreldregering en godsdiens op die been bring om ʼn valse vrede op aarde te vestig. Dit sal ʼn herlewing van die ou Romeinse keiserkultus met sy absolute gesag wees. Hy sal as ʼn wêreldvredeseksponent aanbidding-eenstemmigheid by alle kerke afdwing en godsdiens tot ʼn stelsel van mensgerigte projekte afwater en gevestigde Bybelse waarhede ontwortel.

Daniel sien dat die Antichris ʼn sewe jaar verbond met Israel gaan sluit en dit in die helfte daarvan verbreek:

En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit .... “ (Dan.9:27).  

Paulus skryf dat hy in die nuwe tempel stelling gaan inneem gaan en homself as God verklaar:

“Die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:4).

Hierdie tempel is die derde een wat binnekort in Jerusalem gebou gaan word. Om dit moontlik te maak, moet ʼn ooreenkoms tussen Jode en Islamiete bereik word. En dis hier waar die Antichris na vore tree. Wie vrede tussen Israel en die immer strydende Islamiete bewerkstellig, sal een van die grootste wêreld-probleme oplos, vereer en aanbid word.

Die Antichris gaan in die naam van wêreldvrede mense doodmaak:

“Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ’n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ’n mond wat groot dinge spreek. Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin” (Dan.7:8.21).

Hierdie gesig stem met Openb.17 ooreen wat ʼn tien-nasie bondgenootskap met die Antichris as wêreldhoof beskryf. Hierdie tien konings gaan aanvanklik sy magsbasis vorm waarna hy van drie ontslae raak.   Openb.13:12 waarsku dat die Antichris ʼn godsdiensleier sal verwek en hom bemagtig om alle wêreldgodsdienste te verenig om hom te aanbid:

En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid.”

Die Antichris dwing mense in die eenwêreldstelsel in om geld te kan verwissel. Hulle ontvang sy merk waarsonder geen sodanige verwisseling kan plaasvind nie. Wêreldekonomieë, godsdienste en regerings beweeg in die rigting van ʼn enkel geldsisteem en politieke beheer. Hulle kort net ʼn leier. En hy kom!

Dis alles deel van God se plan:

Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woorde van God volbring is(Openb17:17).

Daar gaan alreeds baie stemme vir ʼn eenwêreld-geldstelsel op. In 2011 het ʼn raad van die Vatikaan ʼn verklaring uitgereik wat vir ʼn eenwêreldregering vra. Vrede, ontwapening, wapenbeheer, beskerming van menseregte, omgewingsbeskerming, ekonomiese beheer en die beskerming van swak nasies teen uitbuiting, word as rede hiervoor aangevoer.  

Dit wat tans in die Vatikaan gebeur, het eeue tevore met die bou van die toring van Babel gebeur; die mens se ydele poging om die mensdom in ʼn eenheid saam te snoer. Die laaste sin van die Roomse dokument lui:“Only a spirit of concord that rises above divisions and conflicts will allow humanity to be authentically one family and to conceive of a new world with the creation of a world public Authority at the service of the common good

Die skrif is aan die muur; die mensdom staan op die drumpel van die groot verval waarvan die Bybel praat. Alles gaan vandag oor ‘vrede’. Wêreldvrede is ʼn hersenskim wat geen hoop, rus of vreugde kan bied nie en die mensdom oneindige skade gaan berokken deur hulle in ʼn willose gemeenskap te dompel. Die Antichris se wêreldvrede is nie ʼn droom nie, maar eerder ʼn nagmerrie!

Die Roomse Kerk (RK) is voor in hierdie wanklank-koor en poog nie net om kerke met mekaar te verenig nie maar ook met afgodsdienste.  Die pous het al tussengeloofvergaderings in die Vatikaan gehou waartydens Islamitiese gebede vir die eerste keer in dié plek gehoor is. Kerke word na die wêreldkerk van die Antichris gedryf; veral Protestantse kerke wat hoek, lyn en sinker daarvoor val!

Gelowiges durf geen gemene sake met enige afgodsdiens hê nie. God se opdrag ten opsigte van afgode is duidelik:

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie....” (Ex.20:3,5).

Oud-Israel het in tye van godsdiensverval telkens in die strik van ʼn afgodiese vermenging getrap en die slegte gevolge daarvan gedra.   Die NT verbied dit ook:

Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?... Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here....”(2 Kor.6:13-17).

Kerke raak al hoe meer met die Antichris se ideaal van wêreldvrede besiel. Die Bybel sê dat daar nooit ʼn mensgemaakte vrede op aarde sal wees nie. Ware vrede is slegs in gehoorsaamheid aan God se Woord en deur die bekering tot Jesus te vind:

“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh.14:27).

Die Antichris gaan teen Jesus verloor. Openbaring beskryf hierdie einde:

En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (20:10).

Die dier is die Antichris en die valse profeet wat sy setel in Babilon, vandag se Rome, het.  

Maak seker van jou redding en staan vas in die geloof. Wat Jesus vir die gelowiges in Smirna belowe het, beloof Hy vir alle gelowiges:

“Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).