OORLEWERINGS EN DIE ROOMSE TRADISIE

Ds.A.E. van den Berg

Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou….” (Mt 16:17)

’n Rots staan baie vas.   Daarom verwys die OT dikwels na God as ’n rots:

Want wie is God buiten die HERE en wie is ’n rots behalwe onse God?” (Ps.18:32).

Jesus is die rots waarop die kerk gebou is. Petrus skryf:

Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie” (1 Pet.2:6).

Die Christenkerk verkondig dat die kerk op Jesus, die Rots van die eeue, gebou is. Die Roomse Kerk (RK) glo weer dat Petrus die rots is en nie Jesus nie.   Dis aan ’n foutiewe vertolking van Mt.16 te wyte. As Jesus sê:

Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou….” verwys Hy na sy belydenis: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (:16).

Satan het die RK mislei om te glo dat daardie rots ’n mens is en Petrus as die eerste pous aangewys en as onfeilbaar beskou. So ook sy opvolgers. Wanneer ’n pous amptelik (ex cathedra) spreek, heg die kerk dieselfde gesag daaraan as dié van die Bybel. En so het ’n bron van sg. goddelike kennis in die RK ontstaan en uit eeu-oue pouslike uitsprake bestaan. Dit word ‘n tradisie genoem en is ʼn dwaling wat miljoene mense al die pad na die ewige lewe byster laat raak het.

Gelowiges ken slegs een bron van goddelike kennis – die Bybel. Nêrens in die Bybel word menslike oorlewerings op gelyke voet met God se Woord gestel nie. Die Bybel leer gelowiges om God se woorde eerder te eerbiedig:

“Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Pred.12:13).

Niks vergelyk met die Bybel nie:

“...want julle is wedergebore nie uit onverganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Pet.1:23). “Want die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as ’n tweesnydende swaard en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg en is ’n beoordelaar van al die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Heb.4:12). Dit kan nooit van enige menslike oorlewerings gesê word nie!

God het self opdrag gegee dat die Bybel geskryf moes word.

Gaan dan nou in, skryf dit op ’n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid” (Jes.30:8).

Nadat Moses die Wet ontvang het, gee God hom nog 603 gebooie om op te teken.

“En Moses het al die woorde van die Here opgeskrywe….” (Ex.24:4).

Daarna het Moses telkens opdrag ontvang om die woorde van God op te teken: God se Woord is heilig en daaraan mag nie gepeuter word nie.

“Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen…. Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie en julle mag daar niks van weglaat nie….” (Deut.4:1,2).  

Dieselfde waarskuwing word in Openbaring herhaal:

Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe” (Openb.22:18,19).   Wat ’n oordeel wag daar nie op die RK nie!

In die Gelykenis van die Goeie Herder waarsku Jesus teen valse herders wat Hom gaan buikspreek om die kudde te mislei, maar sê ook dat Hy sy kudde sal bewaar:

“Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie” (Joh.10:5). Wie die stem van vreemdes (dwaalleraars) geniet, is nie deel van God se heilige kudde nie!

Die Woord van God was vir Israel ’n wegwyser na die lewe:

Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat Ek jou vandag beveel moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op die pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deut.6:5-7).  

Paulus beskryf ʼn gelowige as ʼn waarheidstryder:

“...een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê” (Tit.1:9).

Sonder om die Bybel in ag te neem, hou geen menslike oorlewering’n lewenspad suiwer nie:

Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord” (Ps.119:9).

Waarom slegs die Woord? Salomo antwoord:

“Elke woord van God is gelouter…” (Spr.30:5).  

Dit kan nie van oorlewerings gesê word nie.   Jesus sê:

Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het” (Joh.15:3). Oorlewering/tradisie maak niemand rein nie.

Nêrens het die Bybel ’n goeie woord vir tradisie nie, maar leer dat die kerk op die leer van die apostels gegrond is. Beslis nie dié van enige kerklui nie. Die RK leer dat die apostels se leer op die kerk gegrond is. Hulle sê dat baie van hul tradisie van mondelinge oorlewerings van die apostels afkomstig is. Dis ʼn leuen. As dit kwansuis so belangrik is, waarom is dit nooit aangeteken nie?

Die woord oorlewering kom 14 keer in die NT maar nie een maal in die OT nie. Jesus praat agt keer daarvan, maar nooit positief nie. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is, want terwyl hulle die gebod van God nalaat, hou hulle aan die oorlewering van mense vas… En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark.7:7-9). God se woorde is aan mensewoorde gelykgestel.  

Net die Bybel alleen is God se woord. Paulus sê:

“…. om nie te dink bo wat geskrywe is nie…” (1 Kor.4:6).

In Joh.10:35 sê Jesus dat die Skrif nie ongedaan gemaak kan word nie. Hy het altyd die Skrif as die enigste bron van gesag gebruik en gelowiges aangemoedig om dieselfde te doen, getrou daaraan te bly en nie daarvan af te wyk nie.

In die NT kom die woorde het julle nie gelees nie en soortgelyke uitdrukkings 92 keer voor.   Mense was destyds lui en het nie die Skrif self gelees nie maar alles wat die leraars gesê het, geglo. Jesus berispe die kerklui:

“... Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie….” (Mt.22:29). Dis vandag nog net so.

Nog noot in ons volksgeskiedenis het mense op godsdienstige gebied gedwaal soos vandag nie. Waar kom al die dwalings vandaan? By mense wat nie hul Bybel ken nie! Deur die Bybel bloot meganies te lees, of ʼn komp tekste te kan opsê, leer jou basies niks van die Bybel as God se Woord nie.

Wanneer ken iemand die Bybel? As hy aan die hand van die Bybel die waarheid van die leuen kan onderskei. Dit verg deeglike studie en getuig van ‘n opregte liefde vir Jesus:

As julle My liefhet, bewaar my gebooie. As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar …. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woord nie… (Joh.14:15,23,24).

Pas op vir dwaalleraars. Hulle maai onder ons volk.

Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van mense…. en nie volgens Christus nie” (Kol.2:8).

Stry vir die waarheid en staan baie vas in God se Woord.