DIE TWEE GROOT VERLOSSINGS
Ds A.E van den Berg
Inleiding
Deuteronomium is die verhaal van hoe Israel deur God se leiding tot op die walle van die Jordaan rivier gevorder het; slaggereed om die beloofde land wat hulle beloof is, in besit te neem. Daar was egter ook voorwaardes:
“Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem.Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel” (Deut.4:1,2).
Die Israeliete moes die Sabbat as ʼn dag van rus van hul arbeid eerbiedig. God het hul werksdae tot ses dae beperk. Dit het nie net vir die Israeliete gegeld nie maar ook vir vreemdelinge in hul midde.
Toe Israel in Egipte slawe was, is daar nie op ʼn rusdag aangedring nie. As die Egiptenare gerus het, het die slawe gewerk. God het Israel verbied om ook hul slawe op die Sabbat te laat werk soos wat met hulle as volk in Egipte die geval was. Die Sabbatsgebod het dit verhoed.
God het Israel verseker dat hulle nie vir altyd in Egipte sou wees nie. Hy sou hulle op sy bepaalde tyd na hul land van herkoms laat terugkeer:
“Ek sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek sal jou gewis ook weer laat optrek...“ (Gen.46:4).
Ten spyte van die moeisame ompad deur die woestyn was daar vir Israel verlossing in die vooruitsig. Hulle was beslis nie per ongeluk in Egipte nie. God het dit so beplan. Sy ingryping in hul treurige situasie en die wonderlike verlossing daarna, het Israel gewillig verplig om God deur die onderhouding van die Tien Gebooie gehoorsaam te wees:
“Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het”(Ex.20:2).
2. Seën vir die nasies
God het met die Egiptiese slawerny sy doel met Israel bereik en sy belofte gestand gedoen:
“En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees” (Gen.12:2).
Die nageslag van Abraham sou ʼn bron van seën vir al die nasies wees. Daarvoor moes hulle vir die wêreld ʼn voorbeeld stel van wat reg of verkeerd is. Die onsekerheid oor hul toekoms, vreemdelingskap en vernedering as slawe in ʼn vreemde land was noodsaaklik vir ʼn nuwe volksbegin. Israel moes eers afgebreek word om ʼn nuwe begin te kon maak.
Alhoewel God op die sewende dag van sy skepping gerus het, was dit nie toe al ʼn gebod nie. Dis eers 2,500 jaar later tydens die woestyntog ingestel en as rusdag eerbiedig. Dit moes die Jode aan God se genadige verlossing herinner waaruit hulle hulself nie kon bevry nie.
Die Sabbat was egter ʼn voorafskaduwing van ʼn groter, ingrypende verlossing wat op die hele mensdom gewag het, ʼn slawerny waaruit niemand kon loskom nie. Dit het eeue later met die offerdood van Jesus en sy opstanding uit die dood verwerklik – die mensdom se verlossing van die slawerny van sonde:
“ ... want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword” (2 Pet.2:19).
3. Die dag van die Here
Omdat Jesus op die eerste dag van die week (Sondag) uit die dood opgestaan het, is dié dag deur Christene as rusdag eerbiedig – steeds een uit sewe dae soos wat die gebod bepaal het. Daarmee het Christene hul duidelik van die Jode onderskei. Hulle het nie meer besny nie, maar gedoop en nie meer die pasga gevier nie, maar die nagmaal; alles duidelike onderskeidingstekens van die bevryding in Christus.
Gelowiges het na die Sondag as die dag van die Here verwys; die dag van Jesus se opstanding uit die dood. Daarna is die Heilige Gees ook op ʼn Sondag uitgestort en het die Gees vir Paulus gelei om die rusdag op ʼn Sondag te vier:
“Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ʼn mens ontvang of geleer nie, maar deur ʼn openbaring van Jesus Christus” (Gal.1:11,12).
Paulus het nie toevallig op die eerste dag van die week gepreek nie. Nog minder het gemeentes toevallig op die eerste dag van die week nagmaal gebruikof geld vir behoeftiges ingesamel. Gelowiges het die Skrif verstaan en is deur die Gees gelei om op die eerste dag van die week byeen te kom, te bid en die gemeenskap van die gelowiges te beleef.
Christus het met sy dood die Ou Testamentiese wet vervul. Christene was nie meer onder die wet nie, maar onder die genade:
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Efes.2:8).
Christene is onder geen verpligting om die Ou Testamentiese wette te onderhou nie behalwe een – die liefdesgebod (Mt.22). Let daarop dat elkeen van die Tien Gebooie in die NT noukeuriger behandel is behalwe die een oor die sabbat.
Paulus sê dat die Ou Testamentiese feeste nie op Christene van toepassing is nie:
“Laat niemand julle dan oordeel in spys en drank of met betrekking tot ʼn fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ʼn skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol.2:16,17)
Baie dinge in die Ou Testament was voorafskaduwees van groter dinge wat aan die kom was. Dis soos ʼn persoon wat om ʼn hoek staan en net sy skaduwee vir ander sigbaar is. Dis slegs ʼn teken van sy naderende koms. So was die onderhouding van sekere Ou Testament se seremoniële wette, feeste en sabbatte net skaduwees van groot dinge wat sou kom.
Die Heilige Gees het die vroeë kerk gelei om Jesus se opstandingsdag as rusdag te eerbiedig. Dis vir gelowiges ʼn geestesverrykende geleentheid om op hierdie dag die gemeenskap van die gelowiges te ervaar, maar nie as ʼn nuwe wet nie.
“Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie meer onder die wet nie” (Gal.5:18).
Sondagheiliging het nie in die plek van die sabbat gekom nie. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, is die Joodse sabbatsonderhouding finaal beëindig. Gelowiges het voortaan spontaan op Sondae byeengekom. Dit was dieselfde reëlmaat van een dag uit sewe. Soos wat die sabbat die Jode aan God se bevryding uit hul Egiptiese slawerny herinner het, het Sondagheiliging gelowiges aan Jesus se bevryding uit die slawerny van sonde herinner.
Dit gaan wesenlik nie oor ʼn spesifieke dag van die week nie maar oor die reëlmaat van een uit sewe:
“Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here ...” (Rom.14:5,6).
Slot
Christene moet die herlewing van godsdienswettisisme ernstig teenstaan. Die Bybel het geen goeie woord daarvoor nie. Paulus was ontsteld toe hy van gelowiges in Galasië verneem het wat in wettisisme verval het. Alhoewel hulle Jesus bely het, het hulle nogtans van bekeerdes verwag om van die Joodse voorskrifte te volg en moes Paulus hulle ernstig berispe:
“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Gal.5:1).
Jesus se opstandingsdag is die grondslag van gelowiges se Sondagsviering. Ten spyte van die duidelikheid van die Bybel oor die Christelike rusdag, is daar steeds mense wat die uitgediende Joodse sabbat (die skaduwee) wil onderhou. Mag God hulle tot ware insig bring!