AS KINDERS ONTSPOOR

Nalatige doopbeloftes

Ds. A.E van den Berg

ʼn Volk se krag hang ten nouste van die gehalte van sy gesinslewe en geseënde kinderopvoeding af. Ongelukkig beland al hoe meer jongmense vandag in tronke. Een van die redes hiervoor is nalatige doopbeloftes. Die meeste ouers glo dat hul doopbelofte verval as kinders die ouerhuis verlaat terwyl dit ʼn lewenslange verantwoordelikheid is.

Baie mense sê dat hulle gelowiges is, maar laat met hul kinderopvoeding God’s water oor God’s akker loop. Hulle het met hul doopbelofte vir God gelieg en is derhalwe aan die ontsporing van hul kinders aandadig. Mense wat vir God lieg, kan uiteraard nooit opreg met mense wees nie.

Omdat die ouerhuis die smidswinkel is waar lewenswaardes op die aambeeld van die lewe gevorm word, eis God van ouers om hul kinders in sy vrese op te voed. Wie dit nalaat, kweek slim duiwels, maar sien nie die duiwels van hul eie skeppings raak nie. Talle ouers maak so ʼn mislukking van kinderopvoeding dat hulle vir die res van hul lewe daaronder ly!

 

Opvoeding het min waarde as ouers nie tot kinders se harte deurdring nie. Hul lewens is die handboek wat kinders leer hoe om reg te leef. Wie hul kinders nie teleurstel nie, sal ook nie maklik in hulle teleurgestel word nie. Wat egter in ʼn huis verkeerd loop, word selde daarbuite reggestel. Uit verrotte hout word niks goed gekerf nie.

ʼn Kind se lewenspad begin by sy gesin. As hy nie hier lewenswaardes leer nie, sal hy dit nêrens anders leer nie. Die gesin waaruit hy kom, is net so bepalend soos die een wat hy eendag self gaan hê. Daarom moet ouers self deugsaam wees want as hulle hul eie lewe nie kan beheer nie, hoe kan hulle hul kinders s’n beheer?

Ouers moet ʼn goeie voorbeeld in die huwelik stel. Indien nie, sal kinders geen agting vir die huwelik hê nie en deur in sonde saam te woon ʼn spottery daarvan maak. Dis dan dat ouers uit vrees vir moontlike negatiewe gevoelens maar ʼn blinde oog daarna draai en vrees die gawe (kinders) meer as die Gewer (God)!

Ouers wat hul doopbelofte gestand doen, se kinders is soos reën – heilsaam waar dit val. Sulke kinders maak ’n merk in die lewe en los nie ʼn vlek nie. Dit wat ouers na die lewe gooi, keer soos ʼn boemerang na hulle toe terug. Ouers wat hul doopbelofte verwaarloos en kinders verkeerd opvoed, sit gou met die uitgebrande as van ontnugtering. Dan kla hulle dat die bal vir hulle verkeerd gespring het terwyl hulle dit self laat val het!

‘n Gesin wat God vrees en hul doopbelofte nakom, is een van God se grootste meesterwerke. Sulke ouers word raakgesien en geëer. Dis as’t ware God se hand op hul skouer. Hul name is op harte van hul kinders gegraveer en is ʼn pragtige lewensverhaal vir ander om te lees.