POLITIEK MAAK MENSE DOM

Ds. A.E van den Berg

“Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr.14:12).

Sommige mense glo dat politieke mislukkings hoofsaaklik aan oningeligte kiesers te wyte is en dat beter inligting sinvoller politieke besluite sal oplewer. Dit werk ongelukkig nie so nie. Baie kiesers stem bewustelik teen die waarheid. Hulle weet wat waar is, aanvaar dit nie en stem blind lojaal vir ʼn bepaalde politieke party – die weg van die minste weerstand en om aansien in hul gemeenskap te verwerf.

Hierdie kiesers stem vir dit wat vir hulle voorgesê word sonder om vas te stel of dit feitelik korrek is. Hulle hoor die waarheid, besef die nut daarvan maar glo nogtans die leuen. Die invloed wat welsprekende misleiers op mense het wat geen snars van politiek weet nie, is vir enige land rampspoedig.

Ongelukkig laat ʼn dwaas se verstand geen opening vir rede nie. Hulle luister na wolwe, minag voor die hand liggende feite en versink eerder in die ideologiese dryfsand van misleiding eerder as ʼn sinvolle ommekeer te maak. Geen dwaasheid is vir sulke mense te vergesog om dit nie as evangelie te beskou nie en word geen onsinnigheid as ʼn hindernis geag nie.

Nugterdenkende mense kan nie met mense wat voor die hand liggende feite minag, saamwerk nie. Feite is hardkoppige waarhede. As mense se feite reg is, sal hul oordeel ook reg wees. Wie sy oë vir feite sluit, leer deur ongelukke en is dit tydmors om mense van die kettings waarmee hulle hulself vasbind te wil bevry!