Ds A.E. van den Berg
“Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” (Rom.10:14).
God maak Hom op twee maniere aan die mens bekend; eerstens deur die natuur en tweedens deur die Bybel. Vir Bybel-openbaring het Hy skrywers begeester om heilige geskrifte te skryf en sekere mense tot sy diens geroep om dit aan mense te verduidelik. Dit maak van prediking ʼn heilige beroep.
“Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom.10:14).
Prediking is ʼn ontmoetingsgeleentheid tussen God en mens met die doel om hulle insig in die dinge van God te gee. Daarom vind swak prediking geen ingang by mense nie. So ʼn leraar is soos ʼn dokter wat met ʼn pasiënt oor sy swak gesondheid praat, maar hom sonder ʼn voorskrif huistoe stuur. Hy het die dokter gesien en die dokter het hom gesien en dis al!
Prediking het ewigheidswaarde wat deur die Skrif en nie deur toeligtingsverhale gedryf moet word nie. Toeligtingsverhale is wel handig en help die hoorders slegs om die waarheid beter te verstaan. Jesus het gereeld daarvan gebruik gemaak. Dit was egter nooit die dryfkrag van sy prediking nie, maar wel die Skrif.
Predikers moet nooit aanvaar dat mense met die heilsfeite van die Skrif vertroud is nie. Dit bly die prediker se heilige plig om die ou-ou tyding van die verlossing in Christus so duidelik te bring dat mense dit sal verstaan, hul bekeer en reg leef.
Let op prediking. Wie praat in die kerk? Die prediker of God? Laasgenoemde praat deur die prediker. As ʼn prediker iets in stryd met die Bybel verkondig, eien hy God se gesag vir homself toe en is niks anders as verbloemde roof nie!
Ongelukkig wemel kerke vandag van programme en benaderingsmetodes wat geensins met die Bybel strook nie. Hierdie probleem was al in die Ou Testamentiese tyd aanwesig:
“Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?” (Jer.8:9).
Mense wat kerkgang gestaak het, gaan nie omdat hulle ʼn afkeer aan prediking as sulks het nie. Hulle het ʼn afkeur aan die gebrek aan Skrifprediking. Sodra prediking van die Bybel afwyk, vervaag die verskil tussen die koninkryk van God en dié van die wêreld en begin die kerk na die wêreld lyk. Dit verwar baie mense en laat hulle eerder tuis bly.
Die doel van Skrifprediking is dat God deur die leraar met sondaars praat en hulle as geloofsgemeenskap die woorde van Ges.6 ervaar wat lui:
“God is hier teenwoordig, laat ons biddend nader hier waar ons voor Hom vergader”. Dis ʼn heilige belewenis wat ongelukkig weens oppervlakkige, flou en niksseggende prediking in kerke skaars geword het. Eredienste word subtiel gesaboteer. Onvanpaste musiek, kanseldrama en vermaaklikheidstegnieke verongeluk die heiligheid van die erediens. Mense gaan leeg huis toe.
Die eertydse Hervormers het destyds ʼn stryd gevoer om Skrifprediking weer in die kerk gevestig te kry. Na al die eeue duik die selfde probleem weer in talle Protestantse kerke op. Daarom het baie mense vandag geen behoefte aan egte Skrifprediking nie, slegs aan kanselvermaak.
Leraars het vandag so met die tydsgees behep geraak, dat hulle net soos die wêreld dink en doen. ʼn Groter orkes,moderne musiek en sentimentele liedere bring mense se emosies in beroering maar voed geen siel nie. Alleenlik Bybelse prediking voed siele omdat dit op God se Woord gegrond en gesaghebbend is.
Egte Skrifprediking skep by gelowiges ʼn verwagting–dat God deur die leraar met hulle gaan praat. Dit gee aan die leraar unieke gesag – Woordgesag. Baie mense hou nie van gesag nie. Hulle sien dit as ʼn bedreiging van hul vryheid. Daarom gee baie predikers hul aanspraak op Skrifgesag prys net om mense nie aanstoot te gee nie en word egopoetsers en baie gewild, maar het niks om vir hul gemeentes te sê nie.
Gehoorsame predikers preek nie net oor Jesus se liefde en genade nie, maar ook oor sy oordeel al maak dit sommige mense kwaad. ʼn Leraar het twee stemme; een om die skape bymekaar te bring en ʼn ander een om wolwe mee weg te jaag.
God roep deur die eeue predikers om sy Woord aan mense te verduidelik en om by hulle aan te dring om volgens die voorskrifte van die Skrifte leef. Esra is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Nadat die bondsvolk uit die ballingskap teruggekeer het, het hulle verwag dat God met hulle sou praat en Esra daartoe versoek:
“En Esra het die boek oopgemaak voor die oë van die hele volk.... en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan” (Neh. 8:6).
Die terugkerende ballinge het die regte ingesteldheid gehad. Hulle het geglo dat God deur die prediker met hulle sou praat. Dit moet vandag nog so wees –die gemeente hoor die Woord, ontvang die boodskap en pas dit in hul lewens toe.
Wat ʼn behoefte aan prediking was daar nie in die harte van die terugkerende ballinge nie! Hulle het Esra versoek om daarin voort te gaan en ʼn kansel vir hom gebou. Dis mos hoe daar met heilige bewoënheid met prediking te werk gegaan word. Wat het vandag daarvan geword?!
Leraars het ʼn basiese opdrag:
“Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim.4:2).
Wie dit gehoorsaam, ontvang God se seën. God beloof deur Jesaja dat elke leraar wat sy taak getrou uitvoer, vrugbaar sal wees:
“...so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terug keer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jes.55:11).
Skrifprediking is die geestelike bestuiwing wat hoorders vir Jesus laat blom. Daarvoor moet ʼn preek ʼn hamer sowel as salf wees; ʼn hamer om harde harte mee stukkend te slaan en salf om stukkende harte mee te genees.
Ons betreur die ontsporing in baie hoofstroom Protestantse kerke. Waar kom dit vandaan? Van teologiese onverskilligheid wat ʼn kerklike donkerte op ons land laat neerdaal het en leraars deur die stormwind van hul eie onverskilligheid weggewaai het. Dan praat ons nie eens van die verwarde lidmate nie!
Kom ons bid dat kerke sal besin en na die ou paaie terugkeer
en die Skrif met gesag verkondig. Mense het ʼn behoefte daaraan.
Ek sluit met die woorde van ʼn baie bekende ou Halleluja-lied af:
“Bring my die ou-ou tyding, die tyding van Gods heil,
van Jesus sondaarsliefde, die liefde sonder peil,
o bring dit my eenvoudig, soos vir ʼn kindjie klein
want ek is swak en nietig, ja, hulpeloos en onrein.
Bring my die tyding duidelik dat ek dit kan verstaan;
vertel my hoe die Heiland my van die vloek ontslaan...”