Ds. A.E. van den Berg
“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan”(1 Joh.4:1).
Charismate hou dikwels kerkkampe om mense te leer hoe om te profeteer. Dis ʼn ernstige dwaling want die Bybel sê duidelik dat profesie ʼn gawe van God is. Mense leer dit nie aan nie. God gee dit aan wie Hy wil.
Charismate glo dit vir geen oomblik nie en glo dat dit wel aangeleer kan word. Hulle glo dat God op so ʼn wyse boodskappe aan die moderne profete gee om aan mense mee te deel. Getalle neem ten opsigte hiervan oorhand toe! Jesus waarsku in Mt.24 teen die valse profete van die laaste dae en sê dat daar baie van hulle gaan wees met baie volgelinge wêreldwyd. Satan werk onder hulle!
Hierdie selfverklaarde profete is nie ʼn nuwe verskynsel nie, maar so oud soos die kerk self. Mense met ʼn swak Bybelkennis val hulle ten prooi. Jesus sê vir die kerklui van sy tyd dat hulle dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie. Dis vandag nog net so. Die beste teenvoeter vir dwaalleer is deeglike Bybelkennis. Dis gelowiges se knuppel waarmee leuens platgeslaan word: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16,17).
Dwaalleraars vind met hul valse vroomheid maklik aanklank by kerkmense. “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dis is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie” (2 Kor.11:13-15).
Net voor die wederkoms gaan dwaalleraars die grootste skade aanrig: “…in die laaste tye sal sommige van die geloof afvallig word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim.4:1-2). Mense hang nie goedsmoeds dwaalleer aan nie, maar word daartoe mislei. Daarna mislei hulle weer ander mense. En so ontstaan ʼn bose kringloop van leuens wat die waarheid verdring.
Wie word die maklikste mislei? Diegene wat glo dat hulle nie mislei kan word nie. Hulle aanvaar bonatuurlike gebeure sonder meer as van goddelike oorsprong en vergeet dat Satan ’n nabootser is. Van sy bose geeste doen hulle as engele voor en laat mense leuens glo.
Elke leuendienaar tree in die gees van die Antichris op: … hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen..” (2 Thess.2:9). Charismate getuig graag van wonders en tekens wat hulle in die Naam van Jesus gedoen het. Die vraag is: Watter Jesus? Om bloot net sy Naam te gebruik, waarborg nie dat dit die Jesus van die Bybel is nie. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here, sal ingaan in die koninkryk van God nie” (Mt.7:21).
Paulus berispe die Korintiërs wat baie godsdienstig was maar ongelukkig nie oor die suiwere leer van die kerk gewaak het nie: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor.11:4).
Om bloot godsdienstig te wees, vrywaar niemand van misleiding nie. Wie se godsdiens nie deeglik in ʼn kennis van God se Woord geanker is nie, word maklik mislei. Moenie na hulle luister nie! “So sê die Here van die Leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die Here nie. Hulle sê gedurig aan my veragters: Die Here het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie” (Jer.23:16,17).
God roep profete tot sy diens. Die OT profete het almal uitsonderlike diens vir Hom gelewer. Hulle moes Israel ook leer om afgesonder van die heidene te wees. Ongelukkig het Israel dikwels afvallig geraak en in afgodery verval waarna God dan profete gebruik het om hulle te bekering op te roep.
Omdat profete hul volk se sonde moes aanspreek, was hulle nie baie gewild nie. Sommige is selfs vervolg. Jeremia is bv. in ’n modderput gegooi om sy profetiese stem stil te maak.
God het ʼn toets aangelê om die egtheid van ’n profeet vas te stel. As hy in die Naam van God ’n toekoms-profesie uitspreek, moes dit werklik gebeur: “Hoe sal ons die woord weet wat die Here nie gespreek het nie? As die profeet in die Naam van die Here spreek en wat hy gesê het, gebeur en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die Here nie gespreek het nie…” (Deut.18:21).
Profete is uitsluitlik deur God geroep tot diens geroep. Geen mens kan op eie houtjie profeteer nie. Hier slaan Charismate die bal lelik mis! Profete was ook nie toekoms-voorspellers nie, maar moes sonde in die openbaar aanspreek en hul volksgenote tot berou en bekering oproep.
In die NT het die funksie van die profeet baie verander: “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur sy Seun” (Heb.1:1).
Maleagi was die laaste OT profeet waarna daar vir 400 jaar ʼn profetiese stilte was. Dieselfde het gebeur nadat Johannes die Openbaring geskryf het. Hierdie keer was dit die einde van die profete. Daarom waarsku Openb.22:18 om niks by die Bybel by te voeg nie. Paulus waarsku: “...moet nie dink bo wat geskrywe is nie…” (1 Kor.4:6).
Die NT profeet was vir ’n uitsonderlike bediening in die vroeë kerk bestem. Omdat die Bybel toe nog nie voltooi was nie, moes so ʼn profeet die woorde en leringe van Jesus aan mense verduidelik. “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:19).
Die gawe van profesie was uitsluitlik vir Evangelie-verkondiging bestem. Die ontvanger van hierdie gawe was nie ’n waarsêer nie maar ’n prediker wat die Woord reg en duidelik kon bring: “Hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging, want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word” (1 Kor.14:3, 31).
Gelowiges wat beweer dat God nuwe openbarings aan hulle bekend maak, betree baie gevaarlike gebied. Hulle stel hulself vir demoniese invloed oop wat die kerk al oneindige skade aangedoen het! Hulle is vir God ʼn groot ergernis:
“Daarom kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die Here, wat my woorde steel, die een van die ander... wat sê: die Here spreek! Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die Here en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie .”(Jer.23:30-32).
Moderne profesie is nie ’n gawe van die Heilige Gees nie, maar waarsêery; iets wat die Bybel al te duidelik verbied. Desondanks trap duisende van ons volksgenote in die strik van Satan en sy valse profete. Daar is net een manier om dit te verhoed – grond jou geloofslewe slegs op die Bybel en sorg dat jy dit goed verstaan en stop waar die Bybel sê stop!