Ds A.E. van den Berg
“En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang” (Mt.27:5)
Min dinge ruk families en vriendekringe soos selfmoord. Prof. Schlebush van die departement van gedragsgeneeskunde aan die Universiteit van Natal het ʼn tyd gelede bevind dat 8000 mense per jaar in Suid-Afrika selfmoord pleeg. Dis 667 per maand, 154 per week en 22 per dag. Meer mense pleeg ook tydens die Kerstyd selfmoord omdat die emosionele put waarin hulle hul daardie tyd van die jaar bevind net te diep vir hulle word.
Wat word van die siel van ’n selfmoordenaar? Selfmoord kom nie net onder ongelowiges voor nie, maar ook onder gelowiges. Die Bybel lewer geen direkte uitspraak oor selfmoord nie. Dit maak wel van vier persone melding wat selfmoord gepleeg het waarvan die gewese dissipel Judas die bekendste is.
Wat word van ’n mens wat selfmoord pleeg se siel? Gaan hy per se hel toe? Nee, dit hang af of hy ʼn gelowige was. Indien wel, is hy op grond van sy bekering gered. As ons Jesus se verlossingsboodskap verstaan, hou geen sonde’n gelowige uit die hemel nie; selfs nie eens selfmoord nie.
Selfmoord is ’n vorm van moord en ’n verbreking van die sesde gebod. Iemand wat ’n lewe neem, behalwe uit selfverdediging of ter beskerming van iemand anders se lewe, oortree die sesde gebod.
Daar is nie klein en groot sondes in die sin dat sommige minder ernstig as die ander is nie. Alle sondes is ewe ernstig. Sekere sondes het egter wel ernstiger gevolge en verdien groter veroordeling. In die gelykenis van die waaksame dienskneg in Luk.12 sê Jesus: “En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word…” (:47,48).
Al leef gelowiges hoe vroom bly hulle steeds sondaars. Deur die bekering word ons van slegs van die slaafse mag en eindoordeel van sonde verlos. Dit as sodanig waarborg ons hemelse erfenis. Geen sonde hou ’n kind van God uit die hemel nie. “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Baie mense glo dat selfmoord hierdie genade laat verval. So ʼn siening ontbreek aan Bybelse bewys. En maal kind van God, altyd kind van God. Selfmoord is nie ’n onvergeeflike sonde nie. Ons leef almal in ’n gebroke wêreld en is nie teen die gevolge daarvan gevrywaar nie. Daarom ly sommige gelowiges ook aan depressie en pleeg soms as gevolg daarvan selfmoord. In sommige gevalle is dit ’n chemiese wanbalans wat die gesonde werking van die brein beïnvloed het. Dit sny hulle nie noodwendig van God se genade af nie.
Al is gelowiges van die mag van sonde bevry, is hulle nie teen die invloed daarvan gevrywaar nie. ’n Gelowige kan so deur omstandighede oorweldig word, dat hy sy eie lewe neem. Hy het verkeerd opgetree en nie op God vertrou soos wat hy moes nie: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor.10:13).
Selfmoord beïnvloed nie gelowiges se redding nie. Mense kyk ʼn belangrike punt mis: Dit gaan nie oor die manier waarop die persoon gesterf het nie, maar oor hoe hy geleef het. Het hy ooit tot bekering gekom? Was hy ’n gelowige?
Selfmoord is soos enige ander sonde wel teen God se wil. Omdat die lewe van God kom, slaan die Bybel die lewe hoog aan. Andersins is die dood deel van menswees. Ons leef elke dag daarmee saam.
Die meeste mense ken nie die donkerte van depressie waarmee selfs gelowiges sukkel nie. In Ps.18:5 sê Dawid: “Bande van die dood het my omring en strome van onheil het my oorval.” Luister na Elia toe hy vir sy lewe moes vlug en onder ’n besembos gaan lê en tot God gebid het: “Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here, want ek is nie beter as my vaders nie” (1 Kon.19:4). Ja, depressie vat jou die woestyn van die lewe in waar jy wens om te sterf! Die sterkste swemmer is nie teen verdrinking gevrywaar nie.
Dis duidelik dat Job ook met depressie geworstel en die dood begeer het. Ja, daar kom ’n punt in sommige gelowiges se lewe waar hulle die dood bo die lewe verkies omdat dit na die enigste ontvlugting lyk. Dit is en bly egter ’n onnatuurlike toestand. Die dood skreeu teen die mens se natuur want ons sterkste drang is om te lewe.
Is selfmoord ʼn swakheid? Beslis! Selfmoordenaars het ’n laagtepunt in hul gees en geloof bereik wat nie van krag getuig nie. Dit verg wel moed om selfmoord te pleeg. Moed moet egter nooit met krag verwar word nie.
Selfmoord los geen situasie op nie. Dis in werklikheid selfsugtig want dit skep probleme vir hulle wat agterbly en veroorsaak skuldgevoelens. “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie” (Rom.14:7).
Sondig ’n selfmoordenaar? Ja, dis moord op jouself. Weet egter dat geen mens hemel toe gaan omdat hy nie gesondig het nie terwyl ’n ander een hel toe omdat hy gesondig het nie. Ons gaan hemel toe omdat ons tot bekering gekom het. Mense gaan nie hel toe bloot omdat hulle gesondig het nie, maar omdat hulle God se verlossingsaanbod in Jesus nie aanvaar het nie.
God is ’n genadige God wat ons swakhede verstaan, ook as gelowiges tydens ʼn geesteslaagtepunt hul eie lewe neem. God se genade is baie groter as enige sonde wat die mens in sy swakheid begaan.
Die Bybel sê baie duidelik dat niks gelowiges van die liefde van God skei nie. “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenswoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal skei van die liefde wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Rom.8:38) . Selfmoord is een van die baie sondes waarvoor Jesus gesterf het!
Die teoloog Karl Barth het iets veelseggend oor selfmoord en sonde gesê nl. dat hoogmoed die grootste sonde in God se oë is. Dit was die heel eerste sonde en het Satan die hemel gekos. Barth het gesê dat selfmoord die sonde is wat die verste van hoogmoed verwyder is omdat ’n selfmoordenaar op ’n laagtepunt verkeer en geen hoogmoed of eiewaan ervaar nie. Die gevolge is net erger.
In ou Persië was daar ’n wet wat bepaal het dat niemand ongenooid voor die koning durf verskyn nie. Hy kon tereggestel word mits die koning sy septer na hom toe uitgesteek het wat genade aangedui het. Selfmoord is soos om jou weg na die hemelse Koning oop te beur en nie op Hom te wag totdat Hy jou ontbied nie. God sal sy septer na die gelowige wat selfmoord uitsteek. Dit beteken egter nie dat Hy daardie persoon se optrede goedkeur nie.
Samevattend kan gesê word dat selfmoord nie ʼn gelowige se toegang tot die hemel versper nie. Dit is en bly egter ’n ernstige sonde. Geen omstandighede, hoe donker ook al, regverdig selfmoord nie. Gelowiges moet juis anders as die wêreld wees. Die dood is God se besluit. Hy besluit waar en wanneer ’n mens sterf. Niemand het die reg om hierdie mag uit sy hande neem nie!
Selfmoordenaars glo dat hulle so met hul lewe misluk het, dat daar geen ander uitweg is nie. Nee, ons almal misluk soms. Soms moet ons lewe eers uitmekaarval alvorens ons dit agtermekaar kan kry. Mislukkings is ʼn wond en nie ʼn tatoeëermerk nie. Laat dit egter ’n onderwyser en nie ’n begrafnisondernemer wees nie. Dit moet ons hoogstens vertraag maar nie vernietig nie. Dis ʼn ompad en nie ’n doodloopstraat nie.