DIE TOLSTOY-SINDROOM

Om teen die beterwete te stry

Ds. A.E van den Berg

Die Tolstoy-sindroom is ʼn gedragspatroon wat na die Russiese skrywer Leo Tolstoy (1828-1910) in ʼn skrywe wat hy gebruik het, vernoem.   Dit kom voor by mense wat, ongeag voldoende teenoorgestelde bewyse, aan hersenskimme bly vasklou. Hulle vrees dat die waarheid hul in ʼn swak lig sal stel.

Ingewikkelde sake kan aan leke verduidelik word as hulle nie bevooroordeelde menings daaroor het nie. Eenvoudige waarhede kan egter nie by dwase tuisgebring word nie. Hulle bly die waarheid minag.

Dwase verander nie maklik van denkrigting nie al loop hul telkens ʼn bloutjie.   Hulle kyk die werklikheid vol in die oë maar ontken dit. Hulle raak selfs in die dwase politiekery waarin hul hulself toegespin het, verstrengel maar versink eerder in hul ideologiese dryfsand as om ʼn ommekeer te maak. Hulle sien nie die duiwels van hul eie skeppings raak nie, herhaal foute en verwag telkens ’n ander uitslag. Die reënboognasie-fiasko is een daarvan.

Verwarde denke los geen probleem op nie maar herrangskik dit eerder. Ongelukkig sien politici wat deur gevoelens in plaas van deur hul verstand gelei word hul dwaasheid net so min as hul eie ore raak. Hulle kan die waarheid nie sluk nie en verstik gevolglik gereeld aan leuens.

Vrysinnige blankes het ten spyte van talle waarskuwings, die ontwrigting wat die reënboognasie-fiasko gebring, nie voorsien nie en die nuwe bedeling geesdriftig verwelkom. Groot was die ontnugtering toe booshede soos ʼn stofwolk opgerys het en daar op die puinhope van apartheid geen beter bedeling verrys het nie maar eerder ʼn skrikbewind in die naam van demokrasie!

Verloopte blanke politici en kerklui het aan ʼn tou getrek sonder om te weet wat aan die einde daarvan sou wees. En toe die einde verskyn, wou niemand die flater wat hulle begaan het erken nie. Die ontwrigting wat dit in eerbare samelewings veroorsaak het, is as groeipyne van ‘n nuwe era voorgehou wat skynbaar spoedig sou verdwyn.   Dit het nie. Misdaadstatistieke bevestig dit. Desondanks word diegene wat die werklikheid van die reënboognasie uitspel, gereeld van rassehaat en ander ongunstige opmerkings beskuldig.

Wie hulself wys maak dat die booswigte eintlik goeie bedoelings het, maak ʼn swaard vir hul eie bors skerp. Afrika se geskiedenis is ʼn eindelose herhaling van die verkeerde manier van leef.

Die reënboognasie is die droewige verhaal van mislukte planne, onwerklike verwagtings en ʼn ideologiese flater waarmee volhard word. Dis die Tolstoy-Sindroom op sy duidelikste!