AS DIE KERK ONTSPOOR

Ds A.E. van den Berg

“'n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê....”(Jer.5:30,31).

Voordat die Bybel voltooi is, het God hoofsaaklik deur profete met sy volk gepraat: Die Hebreërskrywer skryf: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete.....” (Heb.1:1). Sommige van hierdie profete was met koninghuise verbind om konings met raadgewing te bedien. Jeremia was egter onverbonde en is in ʼn tyd van volk- en kerkverval deur God tot diens geroep om God se komende oordeel oor Juda aan te kondig.  

Daarvan het die koning en sy tempel-skoothondjies niks gehou nie en Jeremia onmiddellik teengestaan. God het hom egter bemoedig. Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie(Jer.1:17).

Min profete het so ʼn volk- en kerkverval soos Jeremia beleef. Die geskiedenis leer dat volk- en kerkverval hand aan hand gaan. Voordat Nebukadneser Juda in 607vC ingeval het, het Juda se politieke en kerklike verval Jeremia baie ontstel.

Sy volk was geestelik en sedelik terminaal siek. Die son wat altyd so helder oor hulle geskyn het, het oornag verdwyn en alles donker laat word. Waarom het dit gebeur? Wat was die oorsaak van Juda se verval? Die kerk wat nie meer na die Skrifte wou luister nie en ontspoor het.

Die groot fout het by die kerk se ongehoorsaamheid gelê! As die kerk nie geval het nie, het die volk nie geval nie. Alles het begin toe die Satan die kerk van Juda binnegesypel en dit ʼn politieke rol begin speel het. Die ergste was dat die mense dit verwelkom het! “die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê....”(Jer.5:30,31).

Die gevolg daarvan was dat God se wet opsy geskuif is sodat kerklui kon oorneem en hul eie mag uitoefen. Baie van die beperkings en strawwe van God se Wet is opsy skuif. Kerklui het mense verseker dat God hulle nie daarvoor sou straf nie. Dit was glo nuwe wendings om die bediening te verruim.

Klink dit bekend? Ja, dit het ook in die Tuin van Eden gebeur. God het aan die eerste mensepaar gesê om ʼn sekere boom te vermy anders sou hulle sterf. Satan het Eva mislei en kyk wat gebeur het. Met die kerk van Juda was dit dieselfde – God se Wet het een ding gesê en die kerk ʼn ander ding. Juda moes kies en het verkeerd gekies!

Waarom wou Juda haar aan God ontworstel? Om soos die omringende heidene losbandig te kon leef. Die vlees het teen die gees begeer. Die Bybel lê klem op korrekte sedelike gedrag omdat sedelikheid die weerhaan van ʼn volk is en hul lewensrigting aandui; of na of weg van God. Hoe het Suid-Afrika se weerhaan vir jare gelyk en hoe lyk dit vandag? Dui die kerk enigsins God se rigting aan?

God het deur die eeue sekere mense as die gewete van ʼn volk aangestel om sy wil duidelik te maak: En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Efes.4:11,12).

So gesien, is daar geen verantwoordeliker werk op aarde as dié van ʼn leraar nie. Hulle moet mense waarsku as daardie weerhaan in die verkeerde rigting draai. As dit gebeur, ontstaan 'n ontsettende en afskuwelike ding in die land soos in die tyd van Jeremia gebeur het – kerk-en volksverval!

Juda se ontsporing het nie ʼn afname in kerkbesoek veroorsaak nie. Mense het nie tussen God en godsdiens onderskei nie. God was vir hulle godsdiens en nie anders om nie. Mense het nog tempel toe gekom. Al wat verander het, was die aanbiddingspraktyke. Mense het blind lojaal kerk toe gekom en geoffer. Gevolglik was dit vir Jeremia bitter moeilik om hul te oortuig dat die kerk hul mislei het. Niks het dan volgens hulle verander nie.

Die probleem was dat hulle teen ʼn etiket vasgekyk het. Die etiket van die kerk was presies dieselfde, maar nie die inhoud nie. Dié het drasties verander! Net die etiket het vir Juda saak gemaak en na die voëls met die res! Dit het ook in Suid-Afrika gebeur – mense klou aan ʼn etiket vas!

Omdat Juda nie oor die suiwerheid van haar godsdiens gewaak het nie, het bose magte wat daarop uit was om haar te vernietig agter die skild van priesters en profete geskuil en haar godsdiens ongesiens afgetakel. Die geskiedenis leer dat van al die plae wat ʼn volk kan tref, kerklike misleiding die dodelikste is.

Valse kerklui het Juda se verstand met valse, optimistiese preke getroos. Hulle het wyd en syd verkondig dat solank as wat die tempel in Jerusalem gestaan het, geen vyand Juda sou verower nie. Hierdie valse sin van veiligheid wat vir die waarheid gepreek is, het Jeremia genoodsaak om kerkgangers te waarsku: “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie — wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit” (Jer.7:4).

God het die misleiding tot op ʼn punt geduld en toe drastiese ingegryp en Juda in drie sarsies in ballingskap laat wegvoer. Na die eerste een het Jeremia vir ʼn tyd lank ʼn houtjuk as simbool van Juda se onderhorigheid aan die volksvyand gedra. Dit het die kerkleiers so ontstel, dat ʼn leier van die valse profete hom voor die tempelhof gedaag en daarna geprofeteer het dat die krygsgevangenes almal binne twee jaar sou terugkeer. Die volk het dit vir soetkoek opgeëet. Dit was egter alles leuens. God spreek dit in hoofstuk 23 aan:

So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie. Hulle sê gedurig .... Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie. Want wie het in die raad van die HERE gestaan, dat hy sy woord sou sien en hoor? Wie het sy woord beluister en gehoor? Kyk, ’n storm van die HERE, grimmigheid het uitgegaan, ja, ’n dwarrelstorm! Op die hoof van die goddelose mense breek dit los. Die toorn van die HERE sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en tot stand gebring het die raadslae van sy hart..... Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer....” (Jer.23:16-22).

Die weerhaan het verkeerd gestaan en Juda haar vryheid vir baie jare laat verloor. En so het haar kerkverval die kernhoofstuk in die tragiese verhaal geword van ʼn uitverkore volk wat vrywillig ten gronde wou gaan.

Die kerk van vandag kan baie uit Jeremia se stryd teen die valse kerklui leer. Dit wat destyds gebeur het, gebeur vandag weer. Die kerk verloor haar sedelike kompas, die weerhaan wys verkeerd en God se straf volg:

“...omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword .... Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword .... Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer .... en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid” (Rom.1:22-26).

Siener van Rensburg het gesien dat daar ʼn groot herlewing in ontspoorde kerke kom. Mag God ons volk genadig wees dat dit gou gebeur!