Ds A.E. van den Berg
“Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God”(Openb.21:3).
Jare gelede was ʼn padkaart noodsaaklik om ʼn onbekende bestemming te bereik. Vandag word ʼn GPS gebruik wat selfs ook die verkeerde pad kan aandui. Die Bybel is God se GPS wat vir gelowiges die pad na die ewige eindbestemming aandui en telkens teen verkeerde paaie waarsku.
Wie by hierdie GPS hou, reis tot by die Nuwe Jerusalem. Dis nie ʼn maklike reis nie. Ons is sondaars en lief om van die verkeerde paaie te neem. Sommige paaie lyk oënskynlik goed maar laat mense die pad na die Nuwe Jerusalem byster raak en gereeld verongeluk. Salomo skryf: “Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr.14:12).
Daarom is dit uiters belangrik om God se GPS-aanduidings te volg soos oral in die Bybel opgeteken is:“U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad” (Ps.119:105). Ongelukkig maak sonde mense blind vir God se GPS en skep ʼn begeerte om moontlike opwinding op die afdraaipaaie te gaan soek.
Alle afdraaipaaie is doodlooppaaie en noodlottig indien nie betyds omgedraai word nie. Dink aan die verlore seun van Luk.15 wie se afdraaipad hom tussen varke laat beland het en toe tot besinning gebring het. “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig... “ (:18). In vandag se taal sou hy sê: “Pa, ek het nie na die God se GPS geluister soos pa my geleer het nie. Ek het die pad byster geraak, maar ek het omgedraai; terug na pa toe”.
God se GPS-aanduidings eindig met die dood. Vir sommige is die pad kort soos vir die jong man in die gelykenis van Lasarus en die ryk man. Vir ander is dit weer lank. Tog voel dit vir almal asof dit altyd vinnig verbygaan. “Want al ons dae gaan verby .. ons bring ons jare deur soos 'n gedagte” (Ps.90:9).
God se GPS-aanduidings is slegs vir ons aardse lewe bedoel. Dit beteken egter nie dat die dood die eindbestemming is nie, want dan is ons niks beter daaraan toe as diere wat doodgaan, oor en verby nie. Nee, so anders as diere, het ons siele wat voortleef. Salomo skryf: “...en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Pred.12:8).
Wat gebeur met die siel na die dood? Daar tree ʼn groot verskil in. Sommige mense bevind hulle in die paradys: “En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:43). Baie meer mense bevind hul in die doderyk: “En die ryk man het ook gesterwe .... En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem”(Luk.16:23).
Wat veroorsaak hierdie verskil tussen vreugde en smarte? Die bekering! En dis ʼn bewustelike keuse om in ʼn geestelike verhouding met Jesus te leef. Baie het soos Paulus ʼn spesifieke dag en datum van hul bekering. Ander gelowiges het nie, maar weet van vroeg af dat hulle ʼn verhouding met God het. Samuel en Timoteus is sprekende voorbeelde hiervan. Hulle het nie datums gehad nie maar wel verhoudings. En dis al wat tel – ʼn verhouding met Jesus Christus.
Pas egter op vir blote godsdienstigheid. Dit kan baie gevaarlik wees. Baie mense glo dat godsdiens as sulks jou die geluksaligheid sal besorg, soos, lees jou Bybel gereeld, bid en gaan gereeld kerk toe en jou siel is gered. Dis ʼn leuen wat jou die Nuwe Jerusalem gaan laat mis! Sulke godsdiens red niemand nie, slegs ʼn geestelike, persoonlike verhouding met Jesus. Wie sonder hierdie verhouding sterf, beland in die doderyk al was jy die hoof van ʼn kerk of die koning van ʼn land!
Niemand gaan na die dood direk hemel of hel toe nie. Daar is twee wagkamers. Die paradys is die wagkamer vir gelowiges wat ʼn verhouding met Jesus gehad het: “In die huis van my Vader is daar baie wonings .... Ek gaan om vir julle plek te berei” (Joh.14:2). Wat ʼn opgewondenheid is daar nie alreeds vir gelowiges in hierdie wagkamer nie want as die tyd aanbreek gaan hulle vandaar na die Nuwe Jerusalem – die salige eindpunt.
Die hemel is die uitsluitlike woonplek van God en sy engele. Geen mens gaan direk na sy dood daarheen nie. Jesus sê self: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het...” (Joh.3:13).
As van Henog en Elia gesê word dat hulle in die hemel opgeneem is, word na die paradys as die wagkamer na die Nuwe Jerusalem verwys. In die paradys ervaar gelowiges alreeds ongekende vreugde. Met ongelowiges is dit anders; hulle gaan na die doderyk – die wagkamer na die hel!
Die Bybel skets die doderyk as ʼn plek van ʼn geween en ʼn gekners van tande om wat erge berou beskryf. Wie daarin verkeer se lot is vir ewig verseël en te laat vir bekering is. “... en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:13,14).
Die Bybel sê dat die Nuwe Jerusalem ná die oordeelsdag uit die hemel neerdaal. Dan verlaat die gelowiges die paradys vir hul ewige woning. Gelowiges het al in die tyd van die OuTestament van die ewige stad geweet. Van die profete soos Jesaja het selfs ʼn toekomsgesig daarvan ontvang: “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie... (Jes.65:17). Abraham het ook daarvan geweet: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebr.11:10).
Vir Johannes het die Nuwe Jerusalem soos ʼn diamant gelyk wat die heerlikheid van God uitstraal en net vir gelowiges toeganklik is: “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam” (Openb.21:27) .
Die stad is die vervulling van God se belofte: “Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet.3:12,13).
Die hartklop van Openb. 21 en 22 is die volmaakte, glorieryke teenwoordigheid van God in die Nuwe Jerusalem. Die ou wêreld is verby. God het ʼn nuwe wêreld geskep. “En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam” (:22).
Die nuwe hemel en die nuwe aarde is nou een. God en die gelowiges is nie meer geskei nie. Sy woonplek is by die gelowiges self: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openb.21:3).
Maak baie seker dat jy die bekering gesmaak het en in ʼn geestelike verhouding met Jesus staan. Volg God se GPS enduit want dan sal Jesus binnekort ook vir jou sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg... Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Mt.25:23).