Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat eensaamheid jou met hartseer na ander mense se samesyn kyk? Daar kom 'n draaipunt wanneer jy besef die HERE se teenwoordigheid is vir jou genoeg; wanneer jy besef dat alleentyd kosbare werkstyd is. Dan ervaar jy slegs dankbaarheid, geen eensaamheid nie.
GEESTELIKE LOUHEID
Ds A.E. van den Berg
“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug”(Openb.3:15,16).
Laodicea was ʼn stad in Klein Asië (vandag Turkye) wat op die kruispunt van twee hoofhandelsroetes aangelê was. Die een roete het vanaf Rome ooswaarts na Klein Asië en die ander een na Egipte deur Damaskus geloop. Die twee hoofpaaie het talle vertakkings na ander gebiede van die Romeinse ryk met kleiner stede en dorpe gehad. Laodicea was egterdie grootste stad en weens die ligging daarvan suksesvol handel gedryf en die rykste stad in Klein-Asië geword.
Hierdie stad het drie hoofindustrieë gehad. Eerstens ʼn gewilde materiaalbedryf wat oa ʼn glinsterende swart wolmateriaal gemaak het wat mense van heinde en verre met baie geld na die stad laat stroom het.
Die tweede industrie was ʼn aptekersbedryf wat ʼn wonderoogsalf genaamd Kolluron gemaak en baie aftrek gekry het. In die woestynagtige gebied van die Romeinse ryk was oogprobleme baie algemeen wat mense na die stad vir hierdie oogsalf laat stroom het.
Die derde industrie was bankwese. Laodicea was sentraal op die hoofroetes geleë en het bankdienste aangebied. ʼn Paar jaar vóór die brief van Jesus aan die gemeente afgelewer is, het ʼn verwoestende aardbewing die stad en omliggende gebied getref. Talle geteisterde stede het die Romeinse Senaat om geldelike hulp vir heropbou gevra, maar nie Laodicea nie. Die inwoners het eie fondse gebruik om die stad mooier as tevore op te bou. So ryk was die mense!
Alhoewel Laodicea in die materiaal-, medisyne- en bankbedryf uitgeblinkhet, het dit een reuse probleem gehad – drinkwater. Dit moes met pype oor afstande na die stad gelei word. Kolosse met sy waterbron was wel 20 km daarvandaan geleë maar teen die tyd dat die water die stad bereik het, was dit louwarm en soos met die water van die nabygeleë Hierapolis, onsmaaklik.
Jesus gebruik Laodicea se waterprobleem as ʼn metafoor in sy aanklag teen die gemeente se geestelike louheid. Met die stigting van die gemeente was almal vuur en vlam vir die Evangelie maar het mettertyd, soos met die stadswater, lou en onsmaaklik geword. Mense het destyds louwarm water as ʼn braakmiddel gebruik. Nou verstaan ons Jesus se woorde: “Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug”.
Wat het die eens vuur en vlam gemeente geestelik laat verarm? Materialisme. Dit het ʼn onafhanklike, hoogmoedige gees in die stad laat ontstaan wat na die gemeente deurgewerk het. Hierdie onafhanklike, selftevrede gees het in ʼn onafhanklikheid van God ontaard. Hulle kon vir hulself sorg en het God nie nodig gehad nie. Wat kon Hy hulle bied wat hulle nie self kon doen nie?
Laodicea het geestelik blind en arm in God se oë geword: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (:17). Hulle het aardse skatte, nuttelose goud en rykdomme vergader –alles dinge wat ná die dood alle waarde verloor. Laodicea het verkeerd belê!
Die gemeente het egter aanhou bestaan en voortreflik voorgekom. Eredienste is goed bygewoon en lidmate het die samehorigheid van mense geniet MAAR daar was geen egte Godsbelewenis in die gemeente nie. Hulle was geestelik lou: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug”(15,16).
In die verbeelding sien ons ʼn moeë woestynreisiger op ʼn kameel. Hy is dors en soek na ʼn waterplek. Dan sien hy water, spring van sy kameel af en skep daarvan. As hy dit drink, spuug hy dit uit want dis louwarm en ondrinkbaar. So het die gemeente in Jesus se oë gelyk!
Louheid in die geloof verraai ʼn gees van selfgesentreerdheid en wêreldlikheid in ʼn gemeente en soms so subtiel dat mense dit nie raaksien nie. Lidmate met ʼn lou geloof spandeer baie tyd en energie aan eie belange maar bereik telkens die verkeerde doelwitte omdat hulle voorkeure verkeerd is. Dit was Laodicea se probleem – hulle het dinge bo God in die lewe gestel.
Wie dit doen, dien net homself. So ʼn persoon kan selfs kerklik betrokke wees maar nie met sy hele hart nie. Hy gaan Sondae kerk toe maar die res van die week is godsdiens bysaak en doen hy selfs dinge buite God se wil; veral as dit selfverryking beteken. Hy het geen behoefte om van God afhanklik te wees nie. En dis juis wat elkeen moet wees. Jesus se eerste saligspreking lui: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is....” (Mt.5:3).
As jy weet dat jy siek is, kan jy iets daaraan doen. Maar as jy dit nie weet nie en jy dink dat jy gesond is, het jy probleme. Jesus sê vir Laodicea dat sy ryk maar arm is! Jesus wil hulle gesond sien en raai hulle aan om drie dinge ter genesing te doen: “Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien” (:18).
Die wit klere waarvan Jesus praat, staan metafories in kontras met Laodicea se swart wol materiaal, beeld van die sonde van materialisme. Daarbenewens het die gemeente ook metafories naak voor Jesus gestaan: “...en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie...”
Jesus het ook ʼn derde aanbod: “... en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien”. Laodicea het geestelike genesing nodig gehad. Hulle hoef nie na ʼn dokter te gaan nie. Die dokter het na hulle gekom: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop...”. Hulle moes net die deur vir hom oopmaak.
Laodicea was siek. Die dokter het aan die deur geklop, maar dis nie oopgemaak nie. Haar rykdom het haar nie net geestelik blind gemaak nie, maar ook doof! Dis tragies as een meen dat sy geestelike lewe vol is terwyl dit in werklikheid leeg is omdat Jesus daarin ontbreek. Jy kan die mooiste huis, duurste motor en beste beleggings hê; as Jesus in jou lewe ontbreek, is jy arm en siek.
Die hemelse Dokter staan elke dag voor siek mense se deure en klop. Daar is geen konsultasiefooi nie. Dis wel ʼn duur behandeling maar gratis. Die Dokter het met sy bloed daarvoor betaal het. Siekes moet net die deur oopmaak.
Wie dit nie doen nie, gaan ʼn ewige dood tegemoet. Laodicea het nie vir Jesus oopgemaak nie en is kort daarna deur nog ʼn verwoestende aardbewing met die grond gelyk gemaak. Dit kon nie weer herbou word nie. Die bouvalle het ʼn toeriste-aantreklikheid geword.
Wat leer ons uit Laodicea se geskiedenis? Dat daar met Jesus in jou lewe ʼn eindelose hoop is. Maar sonder Hom net ʼn hopelose einde! Waak teen geestelike verval want Jesus kom vir seker!