ʼn EIETYDSE FRANKENSTEIN-ERVARING
Ds. A.E van den Berg
Frankenstein is ʼn bekende roman wat in 1818 deur die skryfster Mary Shelley geskryf is. Dit vertel van Victor Frankenstein, ʼn jong wetenskaplike, wat met ʼn onortodokse proefneming lewe probeer skep het. Die eindproduk was ʼn monster vir wie hy spoedig vir sy lewe moes vlug.
Dit het ook op staatkundige gebied gebeur dat mense vir die produk van hul eie handewerk moes vlug. Baie mense het bv. geglo dat verteenwoordigende regering die towerwoord vir ʼn utopiese bestaan aan die suidpunt van Afrika sou wees en het soos Victor Frankenstein hul met hart en siel daarvoor beywer.
Groot was die opgewondenheid toe ʼn oudgevangene in 1994 as president van ʼn sg. demokraties verkose Suid-Afrika aangewys is. Ongelukkig het die skip van vryheid wat die hawe met hom agter die stuur verlaat het, buitekant die hawe op die rotse geloop – gatkant eerste!
Die gevolg daarvan was ʼn geweldgeteisterde land en duisende onskuldiges wat slagoffers van mense met barbaarse neigings geword het. Toe wolwe losgelaat is, is skape doodgebyt. Dit was allermins die groeipyne van ʼn nuwe bedeling wat spoedig sou verdwyn soos voorspel is, maar eerder die leefwyse van ʼn gepeupel wat in die naam van vryheid, van wet en orde ontslae geraak het.
Hierdie onverantwoordelike demokrasie bevlek Suid-Afrika al vir baie jare met die bloed van wetsgehoorsame burgers. Soos met Victor Frankenstein het baie mense se lugkastele in puinhope en dagdrome in nagmerries verander waarna die fiasko met allerlei morele verskonings doodgeverf is. Die paradys waarvan gedroom is, het in ʼn ommesien eerbare burgers se hel geword!
Demokrasie het twee verskyningsvorms. Met verantwoordelike demokrasie word koppe geweeg en met onverantwoordelike demokrasie koppe getel soos aan die suidpunt van Afrika gebeur het en edeles op dieselfde vlak as dwase geplaas. Twee idiote kon ʼn genie uitstem wat aan booswigte die geleentheid gegee het om onbevoegde mense in verantwoordelike poste aan te stel. Sulke kaderontplooiings het daarna vir gereelde nuwe dimensies van agteruitgang gesorg en ʼn spiraal van konflik veroorsaak wat nie maklik gekeer kon word nie.
Verantwoordelike demokrasie verwerklik slegs uit voorspoed en hoë werkverrigting. Stemgeregtigdes moet ʼn bepaalde opvoedkundige vlak hê om aan verkiesings deel te neem. Derhalwe is demokrasie nie ʼn rusbank waarop ʼn volk hom kan tuismaak nie. Wat in een land werk, is nie noodwendig in alle lande ʼn sukses nie. Alles hang van ʼn land se bevolkingsamestelling af.
Dwase het, soos Victor Frankenstein, nie die duiwels van hul eie skeppings raakgesien nie en selfs na die buiteland gevlug. Hoe kon daar ooit met ’n instansie onderhandel word wie se bose doelstellings ’n ope boek is? Vyf wolwe en een skaap kan mos nie om ʼn tafel sit om oor aandete te besluit nie!