BLOEDSONDES

Ds A.E. van den Berg

Bestaan daar iets soos bloedsondes?

“ ...... die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees” (Eseg.18:20).

Talle mense glo dat daar so ʼn iets soos bloedsondes is. Dis oorgeërfde sondes wat kinders vir die sondes van hul voorouers aanspreeklik hou. Nee, God dra nie sondestraf van die een geslag na die volgende een oor nie. Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie” (1 Kor.13:4,5),

Waar kom mense aan die idee van bloedsondes? Hulle grond dit nie op die Bybel nie, maar eie ervarings. Meer as 2,500 jaar gelede was daar al vrae oor bloedsondes en in Eseg.18 opgeteken met God wat self tot die debat toetree om dit af te wys.

Die Jode het bloedsondes as God se straf op ergerlike sondes beskou waarvoor nasate moes boet. Dit was onwaar. Mense kan miskien hul ouers verwyt vir dinge wat in hul lewe skeef loop, maar dis nie bloedsondes nie.

In Eseg.18 skiet God die Jode se siening van bloedsonde af omdat dit nie met die Bybelse leer oor sonde strook nie. In vers 2 vra God vir Juda waarom hulle die gesegde gebruik: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword”? God sê vir Juda dat dit onwaar is en dat kinders gevolglik nie vir hul voorsate se sondes verantwoordelik gehou word nie.

In vers 3 eis God dat Juda hierdie gesegde in hul gesprekke moet vermy: “...dit sal julle nie meer in die gedagte kom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie” . God is ʼn regverdige God. Elke mens dra sy eie las.

In vers 4 sê God dat alle mense sy eiendom is en net die een wat sondig, gestraf word. Niemand dra ʼn ander een se straf nie.   In vers 9 sê God iets belangrik oor gelowiges; hulle sal lewe. Paulus sê: “Want die geregtigheid van God word daarin openbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe” (Rom.1:17).   Dit trek ʼn streep deur sg. Bloedsondes.

In vers 13 praat God oor die ongelowige: “Hy sal nie lewe nie; al hierdie gruwels het hy gedoen; hy moet sekerlik gedood word; sy bloedskuld is op hom”. Elke ongelowige dra sy eie skuldlas en nie die oortredings van voorsate nie. Net sy eie.   In vers 17 herhaal God hierdie waarheid – gelowiges word nie weens die ongeregtigheid van voorgeslagte veroordeel nie.

Daarna draai God die situasie om. Kan ʼn gelowige vader vir sy seun se sondes gestraf word?   Dit gebeur dat ouers hul kinders reg opvoed en hulle daarna soms handuit ruk. Kan dit voor die deur van ouers gelê word? Nee, as hulle hul doopbelofte nagekom en alles moontlik gedoen het om sondes hok te slaan, sal hulle nie vir hul kinders se oortreding aanspreeklik gehou word nie.  

In vers 18 sê God waarom ʼn mens sterf: “Hy sal weens sy ongeregtigheid sterwe”.   Wie sterf?   Die onregverdige. Waarom? Weens ongeregtigheid (sonde). Wie se sonde? Sy eie!

Israel het egter die mite van bloedsondes bly glo en was nie met God se antwoord tevrede nie. Waarom kon die seun nie die straf van sy vader se oortredings deel nie? God antwoord: “Maar die seun het reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou en dit volbring — hy sal sekerlik lewe!” Indien hy regverdig met God is, sal God ook regverdig met hom wees.

In vers 20 verduidelik God die mens se aanspreeklikheid: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtig-heid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die godde-lose sal op hom wees.” Israel moes nie twyfel nie.   Niemand word vir ʼn ander een se oortreding gestraf nie. Elkeen dra sy eie las.

In vers 21-23 sê God dat as iemand hom bekeer, hy sal lewe al het hy gesondig: “Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe”. Koning Dawid skryf: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Ps.103:12).

Johannes beklemtoon dieselfde waarheid: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sonde te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:9).   Dit spreek van God se liefde vir sondaars: “Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?” (Eseg.18:23).

God wil nie dat iemand verlore gaan nie. Hy verheug Hom saam met die engele oor elkeen wat tot bekering kom: “So, sê ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer” (Luk.15:10). Geen sonde is so groot dat God dit nie kan vergewe nie. Nie eens moord nie. Dink aan die veroordeelde man langs Jesus aan die kruis!

God wil dat sondaars die ewige lewe smaak. Dit geskied deur die bekering van eie sondes en nie iemand anders s’n nie.   Sondaars hoef dus nie soos heidene in sak en as te sit en sekere rituele uit te voer om van bloedsondes ontslae te raak nie. Eseg.18:24 waarsku gelowiges om hulle nie aan heidense gruwels skuldig te maak nie. Wie dit doen, kanselleer as’t ware God se genade.

In verse 26-28 som God dit weereens op; wie sy geregtigheid versmaai en onreg doen, sterf vir ewig.   In vers 29-32 sê God dat Israel sy wil moet doen en ophou om leuens te glo dat die kinders vir die sondes van die vaders boet.  Die Bybel sê dat die mens verantwoording vir elke daad gaan doen.   Ons gaan nié verantwoording doen vir dit wat ons oupas en oumas of ander familielid miskien begaan het nie.  

Wat dan van Ex.20:5: “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ʼn jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat”. Word hier nie van bloedsondes gepraat nie? Nie as hierdie vers binne sy verband gelees word nie. Dit gaan hier om die oortreding van die tweede gebod.

Die klem val op die woorde ”.... van die wat My haat”. Wie afgode dien, haat God. Ex.20:5 is ʼn waarskuwing aan ouers wat hul met okkultiese dinge ophou. Omdat kinders dikwels in hul ouers se voetspore volg, kan dit ʼn negatiewe uitwerking op hul kinders hê. Ouers se lewens is die handboek wat kinders leer hoe om te leef. Ex.20:5 waarsku ouers dat okkultiese gebruike tot vier geslagte kan neem om uitgewis te kry.  

Gevolglik dwaal Charismate met hul leer van bloedsondes. Die Bybel stel gelowiges gerus: “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word” (Deut.24:16).

In sake sonde gee Jesus ons die versekering: Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37). Geen sonde is te groot dat Jesus dit nie kan vergewe en geen sondaar so ver van Hom dat Hy hom nie kan vind en deel van sy heilige kudde maak nie!