DIE TRANSGENDER OPSTAND

Ds A.E. van den Berg

Die transgenderdebakel waarvan soveel ophef gemaak word, is godsonterend en stuit gevolglik ware gelowiges teen die bors. Omdat hul uiterlike identiteit nie met hul innerlike identiteit ooreenstem nie ervaar transgender persone in werklikheid ʼn verskriklike identiteitskrisis al steek hulle dit weg. Hulle glo dat indien ʼn man dink dat hy eintlik ʼn vrou is, hy wel een sal wees en andersom. Die keuse lê vir hulle by die betrokke persoon self, so glo hulle.

Wat ʼn misgissing! Manlike chromosome kan nie met die beste wil ter wêreld in vroulike hormone verander nie. Uiterlike voorkomsverandering verander niks aan die biologiese samestelling van ʼn mens nie. Sielkunde keer nooit biologie om nie!

Gelowiges het hoogstens medelye met mense wat in die greep van ʼn sataniese geslagsverwarring vasgevang is maar ons durf nooit hul optredes goedpraat nie. Transgender mense is wandelende voorbeelde van gebrokenheid van die mens wat op die ontwrigting van God se skeppingsordening uitgeloop het.

Mense worstel almal met die gebrokenheid van hul liggaam, sondige begeertes en gedagtes. Nogtans weet hulle dat hulle ʼn eie godgegewe identiteit het. God het hul onderskei deur man en vrou met eie unieke identiteite te maak en dit sal tot die einde so bly.

Geen mens se identiteit word deur sy persoonlike keuse bepaal nie maar deur ʼn geskape identiteit. Om die biologiese geskapenheid van man- of vrouwees met transgender-ideale te wil korrigeer is ‘n gruwel in God se oog. So ‘n persoon gaan ‘n ewige verlorenheid tegemoet!