BORDJIE BOKANT DIE KRUIS

Ds A.E. van den Berg

“Pilatus het geantwoord: Wat ek geskryf het, het ek geskrywe” (Joh.19:22)                              

Mense van die ou tyd was oor titels erg begaan. Die hoogste titel wat iemand kon hê, was ‘koning’ want so 'n mens was nie net die eerste burger van die land nie, maar ook die magtigste. Hy het selfs mag oor lewe en dood gehad. Daarom is konings is geëer en in die ou nabye Ooste met die uitdrukking “Mag die koning vir ewig lewe” begroet. Toe koning Darius die oggend leeukuil toe is om te sien of Daniel leef, roep Daniel uit: “Mag die koning vir ewig lewe” (Dan.6:22).

Jesus het ook 'n titel gehad – talle Jode het Hom Rabbi genoem en Hom as iemand wat onderrig kon gee, eerbiedig, maar Hom nooit as 'n koning geag nie. Dit het 'n heiden egter gedoen; nie as 'n verering nie, maar eerder as spottery.

Op Golgota het Pilatus 'n bordjie bokant Jesus teen die kruis laat vasspyker: Jesus van Nasaret, die koning van die Jode, in drie tale – Grieks, Hebreeus en Latyn. Johannes het hierdie stukkie geskiedkundige inligting nie toevallig in sy Evangelie opgeneem nie, maar doelbewus as 'n kragtige boodskap vir al die omstanders en die kerk van alle tye.

Let op die skrille teenstellings op Golgota – bokant Jesus staan daar koning geskryf, maar daaronder hang 'n bebloede, sterwende 33 jarige Jongman. Is dit hoe 'n koning lyk?   Sit ʼn koning dan nie op 'n troon nie? Hierdie Koning hang aan 'n kruis! Dra 'n koning dan nie 'n kroon nie? Hierdie Een 'n doringkroon wat die bloed van sy hoof laat afdrup het! Dra ʼn koning dan nie mooi klere nie? Hierdie Een is half naak! Oefen 'n koning dan nie mag uit nie? Hierdie Een hang magteloos! Word 'n koning nie geëer nie? Hierdie Een word bespot! Wie sou enige heerlikheid in hierdie Gekruisigde raaksien?  

Pilatus het 'n doel met hierdie opskrif bokant Jesus gehad. Onthou, hy was 'n Romein in diens van die keiser en sou dit nie waag om iemand anders as die keiser te vereer nie. Met hierdie bordjie aan die kruis wou hy met die Jode spot en hul belaglik laat voorkom. Is dit hoe julle koning lyk? 'n Koning het immers 'n goeie agtergrond gehad; Jesus nie. Hy kom uit Nasaret, 'n agtertangse dorpie. Luister wat vra Nataniel vir Filippus toe hy hom van Jesus vertel: “ .... Kan daar uit Nasaret iets goeds wees? (Joh.1:47).

Benewens 'n ontbrekende agtergrond, ontbreek dit die Man aan die kruis aan mag. Hy hang daar geheel en al magteloos. 'n Koning sonder mag, is net so min werd as 'n weermag sonder soldate. Pilatus spot met die Jode – hulle koning hang soos 'n misdadiger tussen hemel en aarde! Hierdie spot het die kol getref. Dit het die Jode onthuts. Hulle het 'n koning verwag wat die Romeine sou verdryf – 'n politieke bevryder. Selfs die dissipels het tot op die ou einde politieke verlossing verwag. Op pad na die hemelvaart vra hulle Jesus: “ .... Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Hand.1:6). Van hulle droom van 'n politieke verlosser het daar niks gekom nie. Op Golgota het hulle dagdroom in 'n lelike nagmerrie verander!

Met Pilatus se opskrif bokant die kruis lag Rome vir Jerusalem Ja, die Antichris tart die verbondsvolk! Omdat Pilatus geestelik blind en sy hart onrein was, kon hy in Jesus geen koning sien nie; so kenmerkend van die mensdom. Wie se hart nie rein is nie, sien Jesus nooit raak nie. Wie se hart wel rein is, sien Hom raak: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Mt.5:8).

In Pilatus se optrede sien ons die begin van 'n spottery van Satan met die Evangelie-boodskap.   Die opskrif was die begin van alle heidense regeerders se opstand teen die waarheid dat Jesus die koning van die wêreld is.

Die toneel verskuif nou na die Jode en kerklui aan die voet van die kruis. Hulle was godsdienstige mense maar minus godsvrug. Hulle het Pilatus se steek na die Jode duidelik gevoel. Hy het op hulle eer getrap!   Om hierdie bebloede man van Nasaret as hulle koning te beskryf, was 'n belediging vir die Joodse volk.   Hulle het reg van die begin af geen erg aan Jesus gehad nie.

Hy het dan met onreine mense soos tollenaars en prostitute gepraat. Siekes en sondaars het Hom gevolg en vereer. En nou hang Hy magteloos aan 'n kruis en kan Homself nie verlos nie! En om alles te bekroon pryk daar ʼn opskrif wat almal kan lees: Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode, in drie tale. Dit het hulle vergal en die vreugde van die dag bederf. Daarom het hulle na Pilatus gegaan: “En die owerpriesters en die Jode het vir Pilatus gesê: Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode” (Joh.19:21). Hulle vra Pilatus om hulle van Jesus uit te sluit. Dis 'n universele reaksie; mense wil niks met Jesus te doen hê nie en hulself handhaaf.

Die ergste was dat die Jode hul hardheid en blindheid met godsdienstigheid toegepleister het. 'n Godsdienstige mens is nie noodwendig 'n Godsvrugtige mens nie. Satan kruip dikwels agter 'n kruis weg!

Die Jode was geestelik blind. In die tyd van Jeremia sê God vir hulle: “Hoor dit tog o dwase en verstandelose volk wat oë het, maar nie sien nie...” (Jer.5:21).   Geestelike blindheid is die onvermoë om God se pad van verlossing deur Jesus raak te sien. Satan maak dat selfs kerkmense hierdie pad nie raaksien nie.

In Jesus sien ons 'n Koning wat gewilliglik onder sy volk inbuig om hulle siele te red.   Hy buig tot die dood toe; iets wat teen die grein van alle menslike logika ingaan.   Hoe waar het die woorde van Jesus nie geword: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (Joh.10:11).  

Dit bring ons by die kruks van die gelese gedeelte. Pilatus weier om aan die bordjie te verander. “.... Wat ek geskryf het, het ek geskrywe” (:22) Met ander woorde, hierdie titel sal vir ewig Jesus se titel bly. Dis Jesus se laaste titel; Hy is Koning; in drie tale aangekondig en langer as 20 eeue in die Bybel opgeteken.   Waarom het Pilatus onversetlik daarby gehou? Omdat God dit so wou hê – Hy wou nie hê dat hierdie titel verander word nie. Hy het Pilatus beweeg om daardie opskrif te skryf omdat dit die volle waarheid is. Niemand verander aan God se plan nie!

In Jesus se grootste vernedering kondig Pilatus onwetend sy heerlikheid aan.   God laat 'n heiden sy wil uitvoer! Dit laat 'n mens aan Bileam dink wat na Israel gestuur is om hulle te vervloek, maar hulle toe eerder geseën het omdat God dit so beskik het.

Op Golgota word die ongelowige goewerneur as te ware God se profeet omdat hy die waarheid laat neerskryf het. Hy word in 'n sekere sin die eerste wêreld-sendeling want hy skryf in drie tale – Grieks, Hebreeus en Latyn sodat die hele wêreld die opskrif kon verstaan.

Latyn was die taal van owerhede en kerklui. Grieks was die wêreldtaal wat ryklik in die kultuurlewe ingeburger was. Hebreeus was die verbondsvolk se taal. Opsommend: Die hele wêreld kon weet dat Jesus die Koning is. Sy kruis was sy kroon en sy krag is in sy uur van menslike swakheid ten toon gestel.   Aan die kruis hang die Koning-Herder wat homself tot die dood toe verneder het om sy skape te red.

Salig is elkeen wat nie 'n magtelose Man aan 'n kruis hoef te sien hang nie. Salig is elkeen wat kan sien dat Hy waarlik Koning is. Ongelukkig sien die meeste mense dit nie raak nie.   Dit maak hulle gewild onder wêreldlinge maar dwase voor God.   Wie Jesus as Koning ag, is nie gewild nie, maar God se lieflinge.

Jesus is ten volle in beheer van jou lewe. Hy het sy lewe vir jou afgelê.   Sy beheer oor jou lewe is nie hard nie. “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Mt.11:29,30). Sal ons nie vanoggend meer as gewillig wees om ons opnuut aan so 'n Koning te onderwerp nie?