Ds AE van den Berg
Die dood van Pous Fransiscus het die hele wêreld aan die gons gehad. Miljoene huldeblyke het ingestroom en lang rye mense het na sy oorskot, waar dit in staatsie gelê het, gaan kyk. Wie en wat is 'n pous? Is hy 'n dienaar van God of 'n karikatuur?
Die woord pous kom van die Latynse papa wat vader beteken. Roomse priesters word strydig met Jesus se bevel “vader” genoem: “En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is” (Mat 23:9).
Die vroeë kerk het geen hiërargiese strukture gehad nie. Gelowiges was dienaars en nie heersers nie. Almal was gelyk. ‘n Leraar is slegs as die eerste onder die gelykes beskou. Namate Satan die lig van die Evangelie verdof het, is ‘n vreemde leer die kerk ingedra – ampsdraers wat, soos in oud-Babilon, met geheime magte oor onderdane geheers het.
Gelowiges het van meet af aan Jesus as Hoof van die kerk beskou en bely. “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kol. 1:18).
Die Roomse Kerk (RK) leer strydig met die Skrif dat die pous leraar van God, hoof van alle kerke, vader en leermeester van alle Christene en heerser oor die wêreld is. Daarenteen leer die Bybel dat die pous nie God se leraar op aarde kan wees nie, maar wel die Heilige Gees: “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh. 14:26).
Optredes van pouse verskil breed van dié van Petrus wat homself ‘n mede-ouderling noem: “Hou as herders toesig oor die kudde van God … nie uit dwang nie, maar gewillig; nie om vuil gewin nie … ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” ( I Pet. 5:2-3).
Die RK leer sedert 1870 dat 'n pous onfeilbaar in sy amp-uitsprake is. Wanneer hy vanuit sy ampstoel (ex cathedra) spreek, word sy uitsprake as komende van God en gelyk aan Bybelse gesag beskou.
“Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader.... Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan” (Joh. 8:43-44).
Die RK is so van die heidendom deurtrek dat daar beswaarlik iets eg Christelik in te vinde is. Die pous se kenmerkende tweepunt hoed wat hy tydens ampsgeleenthede dra, is duidelik Babilonies van oorsprong. Afbeeldinge van die Babiloniese afgod Dagon toon hom met 'n soortgelyke hooftooisel.
Pouse word soos die keisers van ouds as u heiligheid aangespreek en is in die verlede soos keisers van plek tot plek in ‘n dra-stoel gedra. Protestante het geen agting vir pouse nie. Sulke verering is 'n gruwel in God se oë.