GEBREKKIGE KENNIS

Ds AE van den Berg

“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…” (Hos.4:6)                                  

Hosea was ’n oujongkêrel toe hy tot profeet geroep is, waarna God vir hom ’n vrou gekies het. Sy was nie ’n vroom pastorie-moeder wat in harte ingekruip het nie, maar ’n prostituut – Gomer.   Hierdie bizarre huwelik was die beeld van Juda se ontroue verhouding met God.  

God se aanklag teen Juda was ’n formele hof-aanklag: “Hoor die woord van die Here….die Here het ’n regsaak” (:1).   Juda het geestelik so verval dat sy geen trou, liefde of kennis van God getoon het nie. Met trou word bedoel dat Juda nie eerlik was nie. Niemand kon vertrou word nie, nie die regering of die kerk nie. Almal was korrup. 

Met liefde word welwillendheid, toewyding en diensbaarheid bedoel. Daarvan was niks in Juda te bespeur nie, slegs eiebelang. Paulus noem die mense van sy tyd “sonder natuurlike liefde…” (2 Tim.3:3); net soos in die eertydse Juda.   Met kennis van God word agting vir die Woord van God bedoel. Sonde het Juda so van God vervreem dat hulle soos mense sonder enige kennis van God se Woord was. Juda was miskien na aan die kerk, maar ver van God af!

Hoe kon mense wie se voorgeslagte soveel guns van God ontvang het, die spoor byster raak? God gee ’n samelewing wat hul volhardend teen Hom verset, aan verdorwenheid oor: ”Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte hul oorgegee aan onreinheid….. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte…En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Rom.1:24,26,28).

Sonde het Juda so hard gemaak, dat mooipraat niks gehelp het nie.   Daarom het Hosea nie doekies omgedraai nie en reguit gepraat: “Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak” (:2). Geweld en bloedvergieting was aan die orde van die dag. In vers 3 is dit duidelik dat Juda selfs haar omgewing verniel het. Bose mense voel mos niks vir hul omgewing nie. Kyk hoe lyk dele van ons eie land – vullishope!

Die kern van Juda se probleem het egter nie by haar regering gelê nie, maar by korrupte godsdiens-leierskap.   As godsdiens-leiers die spoor byster raak, dan verval die samelewing ook. God gee selfs vir onheilige mense onheilige kerklui.   “Daarom sal dit met die priester gaan soos met die volk…” (:9).

Juda het die dood vir die lewe aangesien. “As hulle drinkery verby is, dan hoereer hulle meer. Hulle vorste is versot op skande” (:18). Die mense van Juda het as te ware met mekaar in die afwaartse spiraal meegeding. As leiers hul eie lewe nie kon beheer nie, hoe wou hulle dan ander s’n beheer?

As politici en kerkleiers nie vertrou kan word nie, vou ’n land.   Juda het geen lewensvervulling of vergenoegdheid ervaar nie. Die handjievol opregtes wat   na ’n sinvolle bestaan gesmag het, was ontnugter. Die kombinasie van korrupte politici en valse kerklui laat 'n land ’n donker toekoms tegemoet gaan. Juda het haar booswigte nie vervolg nie, maar selfs vereer en haar eie ondergang bewerk.

Waar het die fout gelê? By die gebrek aan Skrifkennis: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…” Kennis van God se Woord leer ’n mens nie net wat om te doen nie, maar ook wat om te vermy!

Wat met Juda gebeur het, het reeds tevore met Israel gebeur. God het talle profete gestuur om Israel te waarsku, maar sy wou nie luister nie. Daarna het God die vyand as ’n tugroede in sy hand gebruik en die Assiriërs soos ’n stormwind laat opkom en Israel in ballingskap weggevoer.  

Israel se omdraai-kans was verby. In die suide het Juda nog 'n kans gehad mits hulle hul bekeer het. Vandaar die waarskuwing: “As jy hoereer, o Israel, laat Juda hom tog nie skuldig maak nie! Kom dan nie na Gilgal nie en gaan nie op na Bet-Awen nie….” (:15)    

Gilgal en Bet-Awen was heiligdomme wat Jerobeam vir Israel laat bou het.   Hosea en Amos veroordeel die twee heiligdomme as selfgemaakte godsdiens en met afgodery besmet. Juda het geen gemene sake met sulke plekke gehad nie.  

God gee aan Juda die opdrag om hulle van valse godsdiens af te skei. Valse godsdiens ontstaan weens gebrekkige kennis van die Woord van God: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” Jesus berispe die Skrifgeleerdes: “….Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mat.22:29). Wie die Skrif nie ken nie, dwaal onafwendbaar!

Die parallelle tussen Juda en Suid-Afrika stem verstommend ooreen. Dis amper gelykluidende geskiedenis. Let op die afwaartse spiraal in ons land omdat kerke instrumenteel aan die wegdoen van die Christengrondwet in 1996 in ons land was. Mense verrig geen boosheid so gelate as wanneer dit uit godsdienstige oortuiging gedoen word nie!

Is Suid-Afrika reeds verby die punt van omdraai of is daar nog kans? As dit van sy mense afhang, is daar geen kans nie. Laat ons egter nooit God se genade in Christus onderskat nie. Hy het al dikwels herlewing bewerkstellig.  

Kerklui is dikwels aan samelewingsverrotting aandadig. Dit gebeur as die Evangelie nie meer suiwer gepreek en erediens nie as heilige byeenkomste ingeklee word nie. Dan vervlak godsdiens tot op die vlak van die mens met dit wat hulle graag wil hoor. Dis een van die tekens van die eindtyd:

“...want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.(2 Tim 4:3,4).

Die tyd het aangebreek dat ons deegliker Bybelkennis moet opdoen.   Hierdie kennis leer gelowiges hoe om reg op te tree.   Kyk hoe verkeerd tree baie van ons volksgenote nie op nie. Die Boerevolk verdrink as te ware in inligting, maar sterf aan ’n gebrek aan kennis van God se Woord!

Ons word, soos ’n oud-Juda, onophoudelik deur politiese en godsdienstige leuens gekonfronteer. Kan jy duidelik tussen die twee onderskei?   Dis slegs met ’n grondige kennis van die Bybel moontlik. Kennis van God se Woord maak jou sterk in die stryd teen die heidendom. Die pad van hoop vir ons volk loop deur die vallei van kennis van God se Woord.  

Ons is nie alleen in hierdie stryd om 'n geestelike herlewing nie. Ons het ’n Hoëpriester in die hemel en derhalwe vrye toegang tot ’n troon van genade.   Mag God die behoefte aan ’n grondige kennis sy Woord in ons wakker maak. 'n Mens kan wel van brood alleen leef mits dit die Brood van die Lewe is!