Ds A.E. van den Berg
“Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor julle lewe nie” (Mat.6:25)
Konings het in die verlede dikwels onderdane met vrees onderwerp. Wie nie geweet het waar sy volgende ete vandaan sou kom nie, het maar na die koning wat voldoende voorraadkamers gehad het se pype gedans
Jesus sê dat gelowiges nooit onrustig oor die toekoms moet wees nie want hul hemelse Koning sorg altyd vir hulle: “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie” (Ps.23:1). Kommer maak nie môre se sorge leeg nie, maar dreineer eerder vandag se krag. Dit kan jou so bemeester dat jy later soos Petrus net vernietigende golwe om jou sien.
Hoe verhoed ons dat onrustigheid ons lewens ry? Jesus sê: “ Maar soek eers die koninkryk van God...” (:33). Dink aan die lewe in sy geheel en nie net aan kos, klere, werk en ander tydelike dinge nie. Al hierdie dinge is in Jesus se hande. Salomo sê: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak” (Spr 3:6). En dis ‘n belofte!
Om jou vir die koninkryk van God te beywer, bring gemoedsrus. Daar is ook dae van harde bene kou, maar op die einde werk alles goed uit. Let op die redes in Mat.6 waarom gelowiges nie onrustig moet wees nie. Miskien is daar 'n paar van hulle waarvan jy self ontslae van moet raak.
Vers 25 sê dat ons nie oor kos en klere besorg moet wees nie. Die lewe gaan oor meer as dit. Mense is daaroor besorg omdat hulle sekere dinge kan verloor as dit ontbreek soos bv. die genot van lekker eet en klere vir oorlewing. Jy kan doodgaan as jy nie kos het om te eet of klere om aan te trek nie, veral in die winter.
Die probleem is dat onrus ons vir die grootsheid van die lewe blind maak. Ons leef mos nie net vir fisiese genot nie. Daar is iets groter om voor te leef – om Jesus deur 'n heilige lewe te verheerlik; nie om deur mense gesien te word nie, maar om deur God geseën te word. God gee ons nie die lewe om dit so ver as moontlik uit te rek nie, maar as geleentheid om vir die ewigheid saam met Jesus voor te berei.
Dis belangriker om van 'n ewige geluksalige erfenis seker te wees as oor enigiets anders. Om oor aardse dinge onrustig te leef, verhoed ‘n Godsvererende lewe. Jesus vra dat ons ons lewensprioriteite reg sal kry. Ons moenie ons oor die maan bekommer as die son nog skyn nie!
In die tweede rede waarom gelowiges nie onrustig moet leef nie, verwys Jesus in vers 26 na voëls. Hulle grawe wurms, pik insekte en bou neste. Dis hoe God hulle onderhou. Hulle is nie oor die toekoms besorg en maak nie kos bymekaar vir ingeval God se voorsiening opdroog nie. As Hy elke dag vir voëls voorsien, hoeveel te meer nie vir sy kinders nie!
Vers 27 gee 'n derde rede waarom ‘n gelowige nie onrustig oor die toekoms moet wees nie. Kommer doen niemand enige goed nie. Kommer is soos 'n wiegstoel; dit gee jou iets om te doen, maar bring jou nêrens nie. Dis eintlik tydverkwisting.
In die vierde rede waarom gelowiges rustig moet wees verwys Jesus na lelies. Hulle het geen wil van hul eie nie nogtans gee God hulle ‘n mooi voorkoms om sy handewerk te versier. As dit God soveel genot gee om blomme wat vir ‘n dag of twee staan, te versier, hoeveel te meer sal Hy nie vir sy kinders sorg nie!
Die vyfde en sesde rede waarom gelowiges nie onrustig moet wees nie, is dat onrus hul op 'n gelyke voet met ongelowiges plaas. Daarmee sê ons te ware vir ongelowiges: “ Ons vertrou nie ons hemelse Vader vir ons versorging nie”. Enige pa sal sleg voel as kinders hom vir hul versorging wantrou. Hoeveel te meer nie ons hemelse Vader nie. Onrus is dus niks anders as ‘n mosie van wantroue in sy vaderlike sorg nie!
Onrus is ook ‘n waarskuwingsmeter wat gelowiges wys hoe naby of ver van God hulle is. Die wêreld bied ons niks van ewigheidswaarde nie, net ons hemelse Vader. “ Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Mat 6:19-21).
'n Sewende rede waarom ons nie onrustig moet wees nie, is in vers 33. As ons die dinge van God eerste stel, sal Hy in al ons ander behoeftes voorsien. Dis baie dwaas om ‘n swaar las te dra as daar iemand sterker is om dit vir jou te dra: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal vir julle rus gee” (Mat.11:28).
Kommer is nie net ‘n swaar las nie maar ook verbloemde ongeloof. Dit gee aan klein dingetjies groot skaduwees en veroorsaak meer plooie op die hart as op die gesig.
In ‘n laaste rede sê Jesus in vers 34 dat elke dag sy kwota sorge het. Ons moenie gister se sorge na vandag s’n oordra nie. Soos wat God sy kind vandag met sorge help, help Hy hom vir die res van sy lewe. En dis 'n wonderlike belofte: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Mat.28:20).
Die hoofsaak van hierdie Skrifgedeelte is dat Jesus rus en vrede in sy kinders se lewe wil hê. Hy het na die aarde gekom, geleef, gesterf en uit die dood opgestaan sodat Hy vir ewig as Koning oor sy kinders kan wees. Laat jou lewe dus 'n leefruimte en nie 'n pakkamer van kommer wees nie.
Verander jou kommer in aanbidding en sien hoe Jesus onrus in seëninge verander. Iemand het eenkeer gesê: Gee saans al jou bekommernisse vir Jesus as jy gaan slaap. Hy is die hele nag wakker!
“Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.....” (Ps.103:13).