LEEF JOU GETUIENIS UIT

Ds A.E. van den Brg

“Daarop het dié manne gesê: Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir 'n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens” (Dan.6:6).

Wat destyds met Daniël gebeur het, gebeur nog steeds. Wêreldlinge hou gelowiges dop en huiwer nie om enige ongerymdheid aan die groot klok te hang nie, veral nie as die betrokke persoon 'n openbare beeld het nie. Daarom moet gelowiges rein leef om God sodoende te verheerlik. Goddelose mense haat rein lewens, iets wat selfs baie gevaarlik kan wees. Kyk maar net wat met Daniël in Babel gebeur het!     

Dan.6 is die verhaal van 'n gelowige wat saam met heidense kollegas 'n hoë betrekking beklee het. Daniël se uitsonderlike verstandelike vermoëns het hom egter bo hulle laat uitstyg en afguns verwek. Afguns maak van sekere mense vlermuise. Vlermuise werk altyd teen donker agtergronde – presies wat Daniël se kollegas gedoen het.

Sy kollegas het in die geheim begin beraadslaag om van hom ontslae te raak maar het 'n probleem gehad – Daniël se lewe was so skoon dat hulle geen ongerymdheid van enige aard teen hom kon vind nie; 'n wonderlike getuigskrif vir enige gelowige! Daar was net een uitweg – Daniël se geloof in God: “Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir 'n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens”

Menslik gesproke het dinge vir Daniël nie goed gelyk nie. Uit 'n geloofsoogpunt het dinge anders gelyk want God was in beheer van Daniël se lewe. Daniël se kollegas was deeglik van koning Darius se agting vir Daniël bewus en sou geen slegte woord oor hom glo nie. Gevolglik was daar vir die konkelaars net een uitweg – raak van Daniël deur wetgewing ontslae.

Na 'n geheime vergadering het hulle met 'n versoek by Darius opgedaag. Hulle was voltallig en eenstemmig; iets wat Darius sou beïndruk het. Mense maak mos nie sommer eenparig foute nie! Met hul vangstrik-plan is Darius versoek om, wat die openbare godsdiens betref, vir slegs 30 dae net koning-verering in Babel toe te laat. Dit sou genoeg tyd wees om van Daniël ontslae te raak want hulle het geweet dat hy nie vir 30 dae sonder openlike aanbidding sou klaarkom nie.

Die konkelaars wou nie met hierdie koning-verering 'n nuwe godsdiens op die been bring nie. Die Babiloniërs het nie een en dieselfde afgod aanbid nie. As die bevel slegs vir 30 dae sou wees, kon die versoek deurgaan. Daniël moes met die spreekwoordelike broek op sy knieë gevang word!

Darius het egter van geen sout of water geweet nie en dit selfs verwelkom dat sy onderdane hom wou verheerlik. Konings is destyds dikwels as gode aanbid. Vandaar die geykte begroeting: Mag die koning vir ewig lewe!

Toe die konkelaars Daniël by Darius verkla, het hy te laat besef dat dit 'n bose plan was. Al was hy die koning, was hy kragtens sy eie wetgewing magteloos om sake te verander al was die wetgewing slegs vir 30 dae geldig. Om daaraan te verander kon in 'n paleis-rewolusie ontaard wat hom selfs sy eie lewe kon kos. Gevolglik moes hy maar handdoek ingooi.

Darius het geweet dat Daniël getrou tot God gebid het. Toe hy persoonlik die leeukuil verseël het, sê hy vir Daniël: ” Mag jou God wat jy gedurig deur vereer, jou verlos”. Daniël se lewe het Darius mateloos beïndruk. Gelowiges val ook die oog van ongelowiges op. Darius het geweet dat daar iets in Daniël se lewe was wat hom selfs in die aangesig van die dood nie van sy geloof laat afsien het nie. Sy geloof was in 'n vaste geloof in 'n lewende God ingebed.

Darius het waarskynlik ook die leegheid van sy eie lewe gevoel. Hy wat deur sy volk aanbid is, was magteloos om een lewe te red. Hy het besef dat sy eie kortsigtigheid en ydelheid indirek tot Daniël se dood kon lei. Geen wonder dat hy daardie nag nie kon slaap nie!

Bekyk die voorval vir 'n wyle van Daniël se kant af. Hy was 'n Joodse banneling in 'n vreemde land sonder om van sy geestelike gemeenskap met God afstand te doen. Daarbenewens was hy begaaf en het onder moeilike omstandighede gewerk. Desondanks het hy God onophoudelik met sy rein lewe verheerlik.

Satan het agter die skerms beplan om van Daniël ontslae te raak. Alles was in plek; mense en al. Daniël het egter soos 'n drenkeling in onstuimige water aan die plank van geloof vasgehou. Sy lewensbeginsels het nie net van 'n liefde vir God getuig toe die son in sy lewe geskyn het nie maar ook van 'n onwrikbare vertroue toe dit donker geword het. Daniël het geweet aan Wie hy sy lewe toevertrou het. Dit laat 'n mens aan God se belofte aan die gelowiges in ballingskap dink:

Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here, jou God … (Jes.43).

Vroeg daardie oggend is Darius haastig leeukuil toe. Miskien het van die konkelaars saamgegaan omdat dit ook 'n oomblik van spanning vir hulle was. Sê nou net hulle plan het misluk; wat sou met hulle gebeur? Dan roep Darius: Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos?” Dan kom die antwoord: “Ja, Hy het!”

Toe die konkelaars gedink het dat Daniël se son vir goed onder gegaan het, het God dit in genade laat verrys. Daniël was soos 'n teesakkie – sy geloofskrag het in die kookwater van die lewe duidelik geword. Die verhaal eindig egter nie hier nie. Die konkelaars het in hul eie strik getrap en self in die gat wat hulle vir Daniël gegrawe het, geval en leeu-kos geword.

Daardie dag het daar nie net iets groots met Daniël gebeur nie maar ook met Darius. Hy het deur die wonder-aanskoue tot inkeer gekom. Hy het onmiddellik besef dat Daniël 'n God aanbid Wie se wil teen die strengste wet seëvier. God gee oorwinnings wat selfs heidene verstom. Laat ons een baie belangrike les hieruit leer: Sonder geloof is niks moontlik nie. Met geloof is alles moontlik.

Die lewe is vol beproewings. Gelowiges ontvang egter van God geesteskrag om staande te bly. Hy beskik dat selfs ongelowiges by die aanskoue hiervan tot bekering kom. Wees egter ook gewaarsku dat God diegene wat Hom teenstaan, vernietig!

Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! ....Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. .... U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot” (Ps.2).

Mag die verhaal van Daniël ons bemoedig om vas te staan al gaan dit ook hoe sleg met ons. Ons volk het 'n nood aan gelowiges wat soos Daniël geen tree sonder God gee nie maar in die geloof saam met Hom selfs die dood tegemoet gaan. Is jy een van hulle?