Ds A.E. van den Berg
“En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is” (Hand.2:46,47).
Daar is niks so lekker as om iets nuuts aan te pak nie. Mense geniet uitdagings omdat dit die eentonigheid van die alledaagse verloop van sake verbreek en nuwe wêrelde laat oopgaan. Die grootste nuwigheid in menseheugenis het op Pinksterdag 33nC in Jerusalem in aanvang geneem – die totstandkoming van die eerste Christengemeente. Dit was ʼn omwenteling soos wat die wêreld nooit weer sou beleef nie. Die geskiedenis sou ook nooit weer dieselfde wees nie!
Die nuwe kerk het ʼn breuk in kerkgeledere gebring waarna Christene vyandige vuur vanuit die Joodse kerk op hulle getrek het. Hulle is uit die sinagoges geban, deur die samelewing verguis en later selfs soos Stefanus gedood ter wille van hul nuutgevonde geloof in Christus. Vanuit die staanspoor was dit duidelik dat die Christendom nie vir elke jan-rap-en- sy-maat bedoel was nie.
Die aanslag was net te sterk dat mense dit met eie krag die hoof kon bied. Hulle kon alleenlik met die krag van die Heilige Gees staande bly soos Jesus net voor sy hemelvaart gesê het: “...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom....” (Hand.1:8).
Baie van die Jode het gelowig geword, die Joodse kerk verlaat en deel van die nuwe kudde geword. Die meeste het egter gebly en die hemel verpas. Baie van hierdie mense het agting vir die Christene gehad. Ons lees dat hulle “.... in guns was by die hele volk.....” Daar is altyd bewondering vir mense wie se beginsels swaarder as hul sentimente weeg!
Jesus het sy volgelinge telkens gewaarsku dat hulle verdrukking ter wille van hul geloof gaan ervaar: “In die wêreld sal julle verdrukking hê” (Joh.16:33). Christene is destyds baie te na gekom. Baie het hul werk verloor of is uit familiekringe geboender. Dit het armoede tot gevolg gehad sodat Christene van hul besittings verkoop en die opbrengs aan armes gegee het. Komende van Jode was dit ʼn aanduiding van ʼn groot verandering in hul lewensuitkyk. Dit was ʼn onbaatsugtige dankbaarheidsbetoon wat nooit sonder die inwoning van die Heilige Gees kon plaasvind nie.
In Hand.4 word vertel van Barnabas wat selfs van sy eiendom verkoop het; moontlik erfgrond. Vers 37 lui dat hy die opbrengs “aan die voete van die apostels neergelê” het. Barnabas het gedoen wat Ges.128 sê: “Neem my goud en silwer Heer, niks noem ek my eie meer” (strofe 4).
Vir die eerste Christene was dit ʼn salige ondervinding om mekaar in die moeilike tye te onderskraag. Dit getuig van dankbaarheid; iets wat uit die teks baie duidelik is. ʼn Geredde hart is ʼn dankbare hart! Mense het groot gegee. En dit was nie maar geïsoleerde gevalle nie, maar algemene praktyk. In Gal.6:2 vra God juis dat ons mekaar se laste moet dra want so vervul gelowiges die wet van die liefde.
In 1 Kor.16 en 2 Kor.8 en 9 verneem ons van ʼn alimentasiefonds wat op die been gebring is. Die Korintiërs wat self swaar gekry het, dring selfs by Paulus aan om hul offergawes Jerusalem toe te neem: “...en hulle het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning van die heiliges moes ontvang” (2 Kor.8:4). Die Christene in Korinte het hul geld nie eens tot hul eie land en mense beperk nie. Dit was geen maatskaplike Evangelie nie, maar ʼn opregte belewenis van wat dit beteken om Christen te wees.
Die belewenis van hierdie nuutgevonde kerk het ook gemaak dat gelowiges saam geëet het. Dit het die Jode vreemd opgeval omdat hulle op hierdie punt baie kieskeurig was en nie sommer saam met enigeen sou eet nie. Dink maar aan die kritiek wat Christus ontvang het toe Hy saam met die uitskotprodukte van die Joodse samelewing soos tollenaars en bekeerde prostitute geëet het.
Die eerste Christene het baie anders oor mense gedink. Die verlossing in Christus het nuwe geloofs- en derhalwe vriendekringe geskep. Dit was nie deftige etes soos waarmee die Jode mekaar probeer beïndruk het nie. Dit was baie eenvoudige kos maar met ʼn uiters belangrike bestanddeel wat by die deftige Joodse etes ontbreek het – dankbaarheid!
Die hegte eenheid onder Christene is ook met die gereelde gebruik van Nagmaal versterk: “Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood (1 Kor.10:17). Nagmaal het hulle duidelik onderskei.
Die Jode het hierdie samesyn van die Christene met afguns bejeën. Hulle was jaloers op hul belewenis. Die Joodse geloof was uitsluitend en nie vir ander volke bedoel nie. Daarom was Jona kwaad toe God hom na Nineve gestuur het om vir die heidene te gaan preek. Luister hoe begin Paulus sy brief aan die Korintiërs: “...aan die gemeente van God wat in Korinte is, aan die geheiligdes in Jesus Christus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep... genade vir julle en vrede”.
Wat ʼn heerlike belewenis was dit nie toe die deure na ander volke buite die Jodedom oopgemaak is. Dit was ʼn geestelike eenheid te midde van ʼn nasionale verskeidenheid. Hierdie eenheid bestaan ongeag dorpe, stede en lande. Dis nie nodig om almal onder een dak saam te wil bondel nie. Daarom leer ons kerk reg – verskillende stalle vir verskillende skape almal onder een Herder verenig. En dis nie iets wat ons stigters uit die duim gesuig het nie, maar Evangelie: Jesus sê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na My stem luister , en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh.10:16). Ons gun elke ras op aarde die bekering in Christus... in sy eie stal!
Skape groepeer uit liefde en dank vir verlossing en nie deur politieke dwang soos wat misleide teoloë leer nie. Kyk wat gebeur met kerke wat die groot les van Joh.10:16 veronagsaam! Pasop vir Satan; hy kruip graag agter ʼn kruis weg!
Die dankbaarheid van die eerste Christengemeente het die oog opgeval. En al het die Joodse kerk grootliks daartoe bygedra dat Christene beswadder en vervolg is, het dit nie hul geestelike spoed gebreek nie. Die boodskap van verlossing in Christus het al hoe sterker opgeklink. En alhoewel hulle geringe getalle geen rimpel aan die Joodse kerk se getalle gemaak het nie, is hul effek op godsdienstige terrein deeglik gevoel.
Baie Jode wou by die Christenkerk aansluit maar het uit vrees vir moontlike weerwraak van mense en/of die Joodse kerk van hul voorneme afgesien. Mense was bang dat so ʼn skuif hul openbare beeld en selfs hul sak kon skaad. Daarom het sommige mense wat aanvanklik by die Christengemeente aangesluit het, teruggespring. Dis waaroor die Hebreërbrief handel.
Diegene wat teruggespring het, was wesenlik baie ongelukkig. Hulle het geen vrede in hul harte gehad nie en heimlik geweet dat hulle by die Christene hoort. In die proses is die Christengemeente gesuiwer en het dit ten spyte van alle vervolging opgebloei. “En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is”.
Miskien het die Joodse kerk en diegene wat druipstert daarheen terug is gehoop dat die Christene net ʼn gier was wat spoedig sou oorwaai. Hulle het nie besef dat hierdie Christus die almagtige God is wat sy kerk bewaar nie. Luister wat sê Christus vir die gemeente in Filadelfia: “Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie: Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ʼn geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie., want jy het min krag en jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Openb.3:7,8).
Die Pinksterboodskap is wonderlik. Christus stig nie net sy kerk nie, maar bewaar dit deur die eeue teen die aanvalle van Satan en sy trawante al dra hulle ook kerklike gewade. Laat ons die stryd om die waarheid moedig voortsit! Christus sal ook by hierdie gemeente byvoeg wie hier hoort!