Ds A. E. van den Berg
“Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor, asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word (2 Thess.2:1-3).
Net na die ontstaan van die Christenkerk het Satan dit deur middel van vyandige Jode en Romeine probeer dooddruk. Toe hy nie slaag nie het hy sy strategie verander en met dwaalleer in die kerk self opgeduik. Die Bybel sê dat dieselfde ding net voor die wederkoms van Jesus weer gaan gebeur, hierdie keer net andersom; eers 'n algehele verval in godsdiens en geestelike sake en daarna 'n fisiese vervolging.
Hierdie verval (afval) sal aan kerke se minagting van die Bybelse waarheid gekenmerk word. Satan haat die waarheid en gebruik selfs kerke om gruwels soos bv. homoseksualisme, wat lynreg in stryd met die Bybel is, goed te praat.
Kerkverval begin hoofsaaklik by liberale teologiese opleiding. 'n Besorgde gelowige skryf 'n tyd gelede in 'n Amerikaanse kerkblad dat baie van sy land se theological seminaries in theological cemeteries verander het!
Die afvalligheid waarvan Paulus skryf, is alreeds in volle swang en gevolglik 'n duidelike teken dat die wederkoms van Jesus baie naby is. Johannes skryf dat Satan net voor die wederkoms losgelaat gaan word: “... om die nasies te verlei....” (Open.20:8). Dit gebeur tans in ons eie land voor ons oë!
Aan die einde van die eerste Christen-eeu het die saad van dwaalleer wat reeds in die tyd van die apostels subtiel in die kerklike akker gesaai is, ontkiem en kop bo die grond uitgesteek. Leraars wat die persoon en werk van Jesus anders as die apostels verkondig het, was die voorlopers van die huidige verval.
Sommige van hierdie leraars het van buite die kerk gekom. Ander het weer in kerke gesit en so oortuigend gelieg, dat mense hulle geglo het. Gevolglik was die suiwer kerk genoodsaak om teen hulle op te tree: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Joh. 2:18,19).
Valse leraars het onmin, verwarring en twyfel oor die geloofslewe in talle gemeentes veroorsaak. Johannes skryf in sy eerste sendbrief dat ware geloof-gemeenskap juis aan 'n liefde vir die waarheid gekenmerk word. Jesus sê uitdruklik: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15).
Gelowiges durf nooit oor die grondliggende waarhede van die Bybel van mekaar verskil nie. Hulle moet eensgesind oor die persoon van Jesus, sy sondeloosheid, liggaamlike opstanding en redding deur genade alleen wees. So ook oor die gesag van die Bybel en die werking van die Heilige Gees – dis die waarhede wat gelowiges altyd saamsnoer.
Valse leraars het destyds Jesus se Messias-wees verdag gemaak: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus in die vlees gekom het nie...” (:7). Dwaalleer het so oorhand toegeneem dat Johannes 'n skerp opdrag aan die gelowiges moes gee: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Joh.10,11).
Valse leraars word aan sekere kenmerke geëien. Die duidelikste is 'n onverskillige hantering van die Bybel. Die skeppingsgeskiedenis word verdraai, Jesus se maagdelike geboorte word bevraagteken en sy genesingswonders as wolhaarstories afgemaak. Ongehoorsaamheid aan die Skrif lê aan die wortel van alle dwaalleer. Jesus sê vir die kerklui van sy tyd: “ ..Julle dwaal, omdat julle die skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mat.22:29). Wie aan God ongehoorsaam is, verloor sy geestelike krag.
Soos wat 'n liggaam nie sonder fisiese oefening gesond kan bly nie, kan 'n siel ook nie sonder geestelike oefening gesond bly nie. Paulus sê: “Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid” (1 Tim.4:7). 'n Studie van die Bybel verhoed dwaling: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).
Skrifgetroue prediking vereis 'n deeglike kennis van die Bybel: “...terwyl julle veral dit moet weet dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is al ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet.1:20,21).
Om die siel fiks te hou, moet gelowiges in Bybelkennis bly oefen. 'n Man van God is 'n man van die Bybel. Die digter van Ps.119 wei 176 verse aan die voortreflikheid van die Skrif. Hy gebruik die 22 letters van die Hebreeuse alfabet as raamwerk om te sê dat God se Woord die A tot die Z van die lewe is. Moses roep Israel selfs in die woestyn tot Skrifoefening op: “Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel... Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe ” (Deut.32:46,47).
Daarenteen verdraai valse leraars die Bybel na willekeur. Jesus waarsku in sy Bergrede: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mat.7:15). Paulus skryf aan Timoteus: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Tim.4:1,2).
Valse leraars gee voor om baie ernstig godsdienstig te wees. Dis alles toneelspel en maak deel van die groot verval net voor die wederkoms uit. Hulle rokkel mense van die waarheid af en laat hulle glo dat God hulle wat leiding neem, geroepe is om uitsonderlike werktuie in sy diens te wees. En miljoene mense glo dit wêreldwyd!
Die probleem is dat mense die Bybel nie ken nie. 'n Amerikaanse navorsingsspan het onlangs bevind dat 69% van die ondervraagdes die Bybel bloot as 'n riglyn om goed te leef beskou. Nagenoeg 50% beskou die Bybel en die Koran as eenderse riglyne. Wat 'n nood het die mensdom nie aan die ware kennis van die Woord van God nie!
'n Geroepe leraar verkondig die volle Bybelse waarheid sonder om iets na te laat. Paulus sê by sy afskeid aan die ouderlinge van Efese: “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Hand.20:27). Sy woorde ‘nie nalaat’ beteken in die oorspronklike taal om niks weg te steek nie.
Valse leraars is die eerste fase van die groot verdrukking wat alreeds begin het. Hulle saai geestelike amok onder ons volksgenote soos nog nooit tevore nie. Wat 'n straf wag daar nie met die oordeel op hulle nie! Toe Jesus die eerste keer aarde toe gekom het, het Hy die sonde in die mens vernietig. Wanneer Hy vir die tweede keer kom, vernietig Hy die mens van die sonde: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb. 20:15)
Kyk wat gebeur maar net wat tans in ons land op godsdiensvlak gebeur. Misleiding op misleiding. Wat sê dit? Dat die wederkoms op hande is! Wat staan ons te doen? Om ons volksgenote wat nog slaap dringend wakker te maak!