DIE GROOT VERVAL (2/3)

Ds A.E. van den Berg

“Jou profete, o Israel, is soos jakkalse in puinhope(Esegiël.13:4).

Een van die duidelikste tekens waaraan die naderende wederkoms van Jesus gekenmerk word, is 'n wêreldwye godsdiensverval. En dis die gevolg van ontspoorde kerke en valse leraars. Valse leraars was van meet af aan 'n probleem in kerke. Die profeet Esegiël noem hulle prontuit jakkalse.

In hoofstuk 13 wys hy op hul kenmerke. Hierdie jakkalse het nie God se Woord gepreek nie, maar hul eie dwaling op God oorprojekteer. God se naam is slegs gebruik om skyngesag daaraan te verleen. Esegiël vergelyk hulle met jakkalse wat op die stedelike buitewyke na maklike kos gesoek het.

In vers 6 noem Esegiël die hoofrede vir die godsdiensverval van sy tyd – leraars wat nie vir die waarheid opgestaan het nie. As 'n stadsmuur destyds op 'n plek gebreek het, het die inwoners die bres sorgvuldig bewaak totdat dit herstel is. Die valse leraars het nie die bres in die godsdiensmuur bewaak nie en groter laat word.

In die tyd van Hosea was daar ook in Israel godsdiensmisleiding. Hosea kla hulle namens God aan: “My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het ...” (Hos.4:6).

Israel se godsdiensleiers het 'n skyn van godsdienstigheid gehad maar aan profetiese visie ontbreek. Hulle het selfs die gebooie en insettinge van God as vreemd beskou: “Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag” (Hos.8:12). Paulus skryf oor die valse leraars van sy tyd: “Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is....” (Tit.1:10).  

Wie God liefhet en sy wette en riglyne vir die lewe verdedig, is waarlik kind van God. Moses skryf: “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is 'n wyse en verstandige volk. En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?” (Deut.4:6,8).

Paulus skryf: “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik, en hulle verlei deur hulle vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” (Rom.16:17,18). Paulus se woorde “hou hulle in oog” is 'n metafoor wat na die wagte op die stadsmure verwys het wat voortdurend op die uitkyk vir vyandelike optrede was. Sy opdrag vermy hulle beteken om nie deur misleidende leraars beïnvloed te word nie.

Paulus skryf aan Timoteus: Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy, want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, en hulle woord sal voortwoeker soos 'n kanker...” (2 Tim.2:17).   Godsdiensmisleiding benewel mense se verstand en lê op hul siel beslag om te verhoed dat hulle tot bekering kom.  

Valse profete skuil altyd agter vrome maskers. Paulus sê: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor.11:13-15). Satan het hom juis vermom om Eva te mislei!

In die gelykenis van die koninklike feesmaal (Mat.21) sien die koning 'n gas sonder 'n bruilofskleed en laat hom verwyder. Hy lyk soos 'n feesganger om mense te flous, maar nie vir God nie: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Hebr.4:12,13).

In sy Profetiese rede waarsku Jesus teen 'n baie skerp toename in godsdiensmisleiding net voor sy wederkoms: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen, om as dit moontlik was ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê” (Mat.24:24,25).

Valse leraars keur altyd gruwels sogenaamd in God se oog goed en laat mense wat dit beoefen begaan. Paulus waarsku: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerder .... of sodomiete ..... sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Kor.6:10).   Niemand saai in die vlees en maai in die gees nie!

Dwaalleer draai hoofsaaklik om die as van 'n valse verlossingsleer. Paulus skryf aan die Korintiërs dat al sou 'n engel 'n boodskap bring wat nie met die Bybel strook nie, hulle dit moet verwerp. Hoeveel te meer nie as 'n mens dit bring!    

Wees gewaarsku dat daar 'n tyd gaan aanbreek dat godsdiens soos ons dit ken, ingrypend gaan verander – veel erger as tans. Wat staan gelowiges te doen? Paulus gee raad. “...verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering, want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:2-4).

Met die gesonde leer bedoel Paulus die leer wat tot die redding van siele en stigting van geloof bydra.   Die woorde omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees beteken in die Grieks om genoegdoening uit verligting te put, soos byvoorbeeld om 'n oor wat juk te krap. Hoe verder mense afdwaal, hoe sterker word die behoefte aan predikers wat sondes goedpraat.  

Valse leraars maak daarop aanspraak dat hulle 'n uitsonderlike roeping van God ontvang het. Dit het reeds in die vroeë kerk hoogmoed veroorsaak (1 Kor.14). Sulke leraars verdraai die waarheid, lok redenasies uit en floreer op woordestryd. Paulus skryf: “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik, en hulle verlei deur hulle vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” (Rom.16:17,18).

Dwaalleer veroorsaak vandag nog twis, onmin en tweedrag, soos Paulus ondervind het. Valse profete skaad ook gesinsverhoudings. Paulus skryf: Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word” (2 Tim.3:6). Dit gebeur nog steeds.  

Petrus sê: “Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan en die loon van die ongeregtigheid ontvang. Hulle ag die weelderigheid oordag ’n genot; hulle is skandvlekke en smette, weelderig in hul bedrieërye as hulle met julle saamsmul; met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie; hulle verlok onvaste siele, hulle het ’n hart geoefen in hebsug, hulle is kinders van die vervloeking. Hulle het die regte pad verlaat...” (2 Pet.2:12-15).

Die huidige ontstellende toename in kerkontsporing dui duidelik op een ding – Satan weet dat sy einde naby is en probeer om 'n laaste slag te slaan.   Dis enersyds hartseer maar andersyds vir gelowiges 'n baie duidelike teken dat hulle hul gereed moet maak vir die hemelse Bruidegom wat op pad is. Is jy gereed?