Mag ons dit soek?
Ds A.E. van den Berg
Daar is min onderwerpe waaroor gelowiges en ongelowiges so sterk bots as wonders en wonderwerke. Ongelowiges sê dat dit kunsmatig opgeblaas word en dat mense se aansprake daarop vals is. Daarom wek redenasies hieroor dikwels meer hitte as lig op.
Let gerus op wie die mense is wat na wonders en wonderwerke in hul lewe verlang – gewoonlik mense wat baie onseker oor hulself en hul godsdiens is. Hierdie onsekerheid gee groot skaduwees aan klein dingetjies in hul lewe en maak hulle bekommerd oor die lewe. Kommer is ’n nare ding – dit dreineer nie môre se sorge nie, maar dreineer ons van ons krag vir vandag.
Onseker mense soek daagliks na wonders in hul lewe, selfs kerke soos die charismatiese kerke. Hul soeke na wonders is ’n onontbeerlike deel van hul godsdiens. As dit hulle ontneem moet word, stort hul hele teologie in duie!
Maar wat verstaan ons onder wonders? Die Webster woordeboek omskryf wonder as volg: ’n gebeure van bonatuurlike oorsprong sonder ’n wetenskaplike verklaring – soos ’n daad van God.
In Grieks is daar twee woorde wat vir wonder gebruik word – semeion en dunamis. Eersgenoemde word met teken vertaal en kom in die NT vir die eerste keer in Joh.2:11 voor: “Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galilea gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar en sy dissipels het in Hom geglo.” Die water wat Jesus by die bruilof in wyn verander het, was ’n semeion – ’n wonderteken.
Waarom het dié tekens plaasgevind? Om aan te dui dat ’n betrokke persoon deur God gestuur is. Dit was ’n waarmerk dat die persoon nie ’n bedrieër was nie, maar ’n gesant van God. Daar was baie bedrieërs in die boesem van die vroeë kerk wat mense wou laat glo dat God hulle gestuur het. “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie…” (1 Joh.2:19). Niks het intussen verander nie. Die bedrieërs word net al hoe meer!
Die tweede Griekse woord dunamis dui ’n kragtige optrede aan; iets wat buite menslike vermoë is. Johannes gebruik nooit hierdie woord nie. Markus gebruik dit ook net een maal van ’n persoon wat in Jesus se Naam duiwels uitgedryf het (Mark.9:39). Hierdie woord kom egter dikwels in Handelinge voor as Lukas oor die kragtige optrede van die apostels in die eerste kerk skryf. Onthou egter dat ’n kragtige optrede nie noodwendig ’n wonderteken is nie. In Hand,2:22 noem Petrus drie dinge wat Jesus gedoen het om sy goddelike gesag en optrede te bevestig – kragte, wonders en tekens.
Geen mens durf Jesus naboots nie. Die doel wat Hy met hierdie tekens en wonders gehad het, is nie op vandag van toepassing nie. As daar vandag wonders moet gebeur, sal dit direk van God kom en nie deur ’n mens nie!
Daar is sekere dinge wat God sal doen en ander dinge nie. Kom ons let eers op die dinge wat God nie sal doen nie. God verbreek eerstens nooit sy beloftes nie. Hy sê dat ons almal gaan sterf en in die oordeel voor sy regterstoel verskyn. Baie mense poog om God oor te haal om ’n ander besluit oor hul lewe te maak. Hulle is miskien besig om te sterf en bid vir ’n wonderwerk. As dit nie gebeur nie, is hulle teleurgesteld, maar God het die mens bestem om te sterf!
’n Ander een beland in ’n moeilikheid wat hy oor homself gebring het en bid tot God vir ’n wonderwerk; ’n goddelike ontsnaproete. Rokers wat longkanker opdoen en om genesing bid, is ’n voorbeeld. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7).
Dit bring ons by die tweede ding wat God nie doen nie – vrywaring van leed. Gelowiges mag ook nooit die geloof in Christus as ’n ongelukvrywaringspolis beskou nie. Geloof mag nooit ’n poging wees om aardse probleme te ontduik nie. Die Bybel leer nêrens dat gelowiges van probleme, siekte, geweld of die dood gevrywaar word nie. Baie van die apostels het vir hul geloof gesterf!
Nie vrywaring nie, maar ondersteuning soos wat Jesus in Getsemane ervaar het. “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike een nie.; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo jul kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor.10:13). Hierdie uitkoms is soms die dood.
Ons mag nooit van God verwag om vir ons iets te doen wat Hy nie vir ander gelowiges sal doen nie. God het nie witbroodjies nie! Gelowiges is almal kosbaar in sy oë. Wonders en tekens is nie voertuie wat van ons beter gelowiges as ander maak nie!
’n Derde ding wat God nie doen nie, is om die doel waarvoor Hy ons geskape het, tersyde te stel nie. Gelowiges is met ’n doel op aarde. Ons het ’n taak om te vervul. En hierdie taak is baie belangriker as die beuselagtige probleme van die alledaagse lewe. Job is ’n goeie voorbeeld hiervan. Na al die gebeure in sy lewe, wys God hom op die doel van alles waarna Job uitroep: “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien” (Job.42:5).
As God vroeër in Job se lewe ingegryp en hom van sy lyding verlos het, was die boek van Job nooit in die Bybel nie. Daarbenewens sou die doel en boodskap van die boek verlore gewees het. God gee gelowiges egter een troos – as ons sterf, is ons van alle pyn, probleme en ellende verlos: “En God sal al die trane van hulle oë afvee en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verby gegaan” (Openb.21:4).
Gelowiges moenie vir tekens en wonders bid nie, maar eerder tot God dat Hy ons, soos ’n Job van ouds, in tye van nood sal sterk maak. Gebed bring ons met ’n hoër krag in aanraking waarmee ons die probleme en worsteling van die lewe te bowe kan kom. Ons het nie nodig om God te vertel wat aangaan nie, Hy weet dit maar al te goed: “Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van vêr my gedagte. U deurvors my gaan en my lê en U is met al my wee goed bekend” (Ps.139:1-3). Uit die mond van Jesus hoor ons: “want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Mt.6:8).
Gebed is ’n manier om ’n verhouding met God op te bou, bemoedig te word en mede gelowiges se ondersteuning te ervaar: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van God” (Gal.6:2). Wanneer ons miskien ’n uitsonderlike reaksie op gebede kry, moet ons dit nie as ’n wonderwerk of teken beskou nie, maar as ’n genadige bestiering van God. “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt en dit sal hom gegee word” (Jak.1:5). “Bid en vir julle sal gegee word; soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Mt.7:7,8).
As ons na God gaan en van Hom leer, sal ons nooit teleurgesteld word nie. As ons ooreenkomstig God se wil vra, sal ons dit verkry. “As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh.14:14). As ons gebede egter nie beantwoord word nie, moet ons aanvaar dat dit nie sy wil is nie en vrede daarmee maak.
Baie mense bid met verskuilde agendas asof God nie dwarsdeur hulle kan sien nie. “Julle bid en ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in welluste deur te bring” (Jak.4:3). As ons beweegredes nie suiwer is nie, moet ons God nie probeer dwing om aan ons eise toe te gee nie. Dit maak Hom kwaad. “Laat niemand julle met ydel woorde mislei nie, want daardeur kom die toorn van God…” (Efes.5:6). “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God” (Heb.10:31).
Die meeste wonderwerke waarop mense vandag aanspraak maak, is geensins wonderwerke nie. Aansprake daarop maak die saak van die Here baie seer omdat dit vertwyfeling bring waarna vrae na God se regverdigheid ontstaan. Waarom doen God ’n wonderwerk vir sekere persone en nie ook vir gelowiges wat met soortgelyke probleme te kampe het nie?
Om onbedagsame aansprake op genesing en wonderwerke te maak, skaad die koninkryk van God op aarde. Wie God net t.w.v. wonders en tekens wil dien, bedrieg hulself. Sulke mense maak van eredienste sirkusse!
Om ’n lewende gebedsverhouding met God te hê, is wonderlik. Ons moet egter net onthou dat ons sondaars is, kortsigtig en selfsugtig en soms ook dinge in die gebed kan vra wat God nie sal gee nie. Gelowiges moet dan nie teleurgesteld raak en God verkwalik nie. ’n Ongeneeslike siekte of selfs die dood van ’n geliefde is nie aan God wat weier om gebede te verhoor, te wyte nie.
Laat ons eerder in krisisse die Here na sy doel daarmee vir ons lewe vra. Mag die Here ons leer om vir geestelike antwoorde op ons probleme te bid en minder op die fisiese oplossings daarvan fokus. Laat ons met sy genade ons voorkeure herrangskik: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad” (Mt.6:33,34). Kyk net een rigting in die lewe – na God.