Ds A.E. van die Berg
“En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Open.13:4).
Gelowiges verskil soms oor geloofsake van mekaar. Een saak waaroor almal wel saamstem, is dat Jesus aan die einde van die tyd weer kom: “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh.14:3). Net voordat dit gebeur, gaan 'n geweldenaar verskyn nl. die Antichris as die sigbare gestalte van Satan op aarde.
God is 'n Drie-eenheid; Vader, Seun en Heilige Gees. Satan boots dit met 'n bose trio na – die Satan, Antichris en valse profeet. Al drie is teenstanders. Satan staan God teen, die Antichris staan Jesus teen en die valse profeet die Heilige Gees teen.
Satan is van die begin af in stryd met God en die uitslag al eeue lank aan ons bekend. “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt” (Gen.3:15).
Hierdie vyandskap loop soos 'n draad deur die geskiedenis en eindig met Jesus se wederkoms. Voordat dit gebeur, gaan die Antichris die lewe vir gelowiges ondraaglik maak. Dit gaan egter nie vir baie lank duur nie waarna Jesus hom eens en vir altyd sal vernietig “ .... hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess.2:8).
In Open..13 stel Johannes sy lesers aan twee rolspelers voor. Hulle tree tot en met hoofstuk 20 as handlangers van Satan op. Hulle word diere genoem omdat hulle nie na die beeld van God geskape is en dus oor geen heerlikheid beskik nie. Die see waaruit die eerste dier (die Antichris) opkom, is die simbool van die woonplek van Satan. Die Antichris beskik oor wêreldwye oppergesag en boots Jesus se dood en opstanding na. Hy verskyn stuksgewys; eers met 10 horings (simbool van sy mag) en daarna met sewe koppe (simbool van sy Satansgesag). Die 10 heerserskrone op sy kop is die simbool van sy gewaande wêreldheerskappy.
Dat daar spesifiek na sy horings verwys word, simboliseer sy strydlustigheid. Hy heers met geweld en word as die skadu-generaal van Satan se leër deur 'n propaganda-meester bygestaan –die valse profeet. Hierdie booswig sorg dat Satan wêreldwyd deur die Antichris aanbid word. Wie die Antichris aanbid, aanbid Satan!
In Open..13:3 skryf Johannes dat dit lyk asof een van sy koppe dodelik verwond is. Die Griekse woord vir verwond is dieselfde woord wat in Open.5:6 vir die Lam wat geslag is, gebruik word en 'n spottende nabootsing van Jesus se lyding en sterwe. Daarna sê Johannes dat die dodelike wond genees het; dieselfde uitdrukking wat in Open.2:8 vir Jesus wat dood was en weer lewend geword het word hier gebruik. Weer 'n nabootsing van Jesus se dood en opstanding. Soos wat gelowiges hulle oor Jesus se opstanding verwonder het, sal mense hulle aan die Antichris se herstel verwonder en hom daarna vuriger aanbid.
Satan dra 'n masker. Soos wat hy hom as 'n slang in die tuin van Eden vermom het, vermom hy hom aan die einde as 'n mens en boots Jesus as God se sigbare gestalte op aarde na. Soos wat Jesus met die gesag wat Hy van God ontvang het, kragtig opgetree het, kry die Antichris sy krag van Satan om sterk op te tree: “En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Open.13:4).
Paulus skryf aan die Thessalonisense oor twee dinge wat voor die wederkoms van Jesus gaan gebeur: “ ...want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is” (2 Thess.2:3).
Eerstens vind 'n groot godsdiens verval plaas waar mense Bybelse waarhede verwerp. Tweedens sal die Antichris met groot mag verskyn. Paulus toon in 2 Thess.2 van sy kenmerke aan. Die Antichris sal 'n werklike mens wees om die opstand teen God te verpersoonlik. Hy is Satan se nabootsing van Jesus. Hy is egter vir die hel bestem en sal met God se finale oordeel met mag daarin gewerp word (Open.20:15).
Die Antichris gaan alle ware aanbidding teenstaan, in 'n nuwe tempel sit en voorgee om God te wees. Die valse profeet help hom daarmee deur die Evangelie van verlossing met 'n valse een te vervang en miljoene mense wêreldwyd mislei. Sy optrede stem met die wil van Satan ooreen. Hy gaan die mensdom met 'n magsvertoon van allerlei opspraakwekkende tekens en wonders mislei.
Die regering van die Antichris sal ongenaakbaar en sonder sedelike standaarde wees. Hy sal vir 'n simboliese 42 maande lank regeer en teen die uitverkorenes van God oorlog voer omdat hulle iets het wat hy nooit sal hê nie nl. heiligheid. Hy weet dat hy nie die ewige dood gaan vryspring nie: “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy hulle mislei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Open.19:20).
Johannes sien in Open.13 dat die Antichris uit die see opkom. Behalwe dat die see die simboliese woonplek van Satan is, is dit ook die simbool van volke: “En Hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het ... is volke en menigtes en nasies en tale” (Open.17:15). Die Bybel gebruik dikwels die beeld van bruisende waters as 'n simbool vir onstuimige volke – mensemassas wat teen God saamspan.
Die optrede van die Antichris word deur misleiding gekenmerk (Open.13:14). Mense word maklik deur tekens en wonders betower. Satan gaan dit tot sy voordeel gebruik. Dit gaan waarskynlik geleidelik wees sodat mense nie onraad bemerk nie. 'n Mens raak makliker aan veranderings gewoond as dit geleidelik ingewerk word.
Uit Lukas se waarskuwing in Hand.20:29,30 is dit duidelik dat daar alreeds afvallige godsdiens-sisteme in die vroeë kerk werksaam was. Paulus was ook daarvan bewus: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is....” (2 Thess.2:7). Die verwarring wat in die gemeente in Thessalonika ontstaan het, was juis aan misleiding te wyte. Dwaalleraars het gemeentelede met allerlei leuens anders oor die dinge van God laat dink.
Johannes skryf in sy eerste Sendbrief: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën” (1 Joh.2:18,22).
Afvalligheid bereik onder die Antichris 'n hoogtepunt. Die Babelse verwarring wat tans op die plaaslike kerklike terrein heers, is baie duidelik die begin hiervan. Die Bybel waarsku dat feitlik alle mense die rug op die waarheid gaan draai en dat God hulle sal laat begaan: “...omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo” (2 Tess.2:11).
Wat is gelowiges se enigste verweer teen hierdie misleiding? 'n Bewustelike begeerte en soeke na die waarheid. Wie die waarheid liefhet, sal nie deur die ellende van die wetteloosheid van die laaste tyd oorval en toe-geploeg word nie. Hulle sal vasstaan totdat hulle Jesus op die wolke sien kom!