MET GOD AAN JOU SY

Ds A.E. van den Berg

“ ..... Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Jos.1:9).                                    

Josua is een van die mees onkreukbare karakters in die Bybel. Sy lewe draai om die as van sy uitsonderlike geloof in God. Toe die 12 verkenners van Kanaan terugkeer, het 10 'n negatiewe verslag gelewer - die Kanaäniete was te sterk en die stadsmure te stewig om te breek.   Daarbenewens is die inwoners ook te groot om aan te durf.

Hierdie verkenners het op sig en nie in die geloof geoordeel nie. Twee van die 12, nl. Kaleb en Josua, het die situasie egter met 'n geloofsoog bekyk en heeltemal anders berig: “Die land ... is 'n buitengewoon goeie land. As die Here 'n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring......Wees net nie teen die Here opstandig nie....” (Num.14:7-9).

Israel het egter die meerderheidsverslag aanvaar en die opstellers van die minderheidsverslag ter dood veroordeel. Was dit nie dat God ingegryp het nie, is Josua en Kaleb daar en dan gestenig (:10).   Ja, eerbare mense ontvang dikwels harde houe van eerlose mense.

Israel se wantroue in God het Hom so kwaad gemaak dat Hy Israel met 'n plaag wou uitwis, was dit nie dat Moses baie ernstig met God gepraat en vir hulle behoud gepleit het nie! As vonnisversagting sou Israel 40 jaar in die woestyn deurbring totdat al die twyfelaars uitgesterf het. Slegs hul kinders sou die Beloofde Land binnegaan.

Dis tragies om te dink hoe God Israel met bonatuurlike hulp uit Egipte na 'n land hoogstens drie maande te voet uitgelei het. Toe hulle egter naby kom, het hulle aan God se belofte getwyfel en wou selfs die twee gelowige verkenners teregstel. God het hul doodstraf as te ware omgedraai en die hele geslag van Israel gevonnis om in die woestyn te sterf sonder om Kanaan in te gaan. Hulle aanvanklike vreugde en toekomsdrome is deur hul eie toedoen en ongeloof verongeluk!

Omdat hulle God geglo het, het die twee gelowige verkenners, nadat Josua vir Moses as leier opgevolg het, later met hul volk Kanaan binne getrek. Net voor hierdie gebeure het Josua voor 'n nuwe geloofsuitdaging te staan gekom toe hulle 'n vol Jordaan-rivier moes oorsteek. Josua het geweet dat God sou help. En Hy het. “.... Vandag sal Ek begin om jou groot te maak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle kan weet dat Ek met jou sal wees soos Ek met Moses gewees het. Gee jy dan bevel aan die priesters wat die verbondsark dra, en sê: Net soos julle aan die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan bly staan” (Jos.3:7,8). Dieselfde wat met Moses by die Skelfsee gebeur het ook met Josua by die Jordaan-rivier gebeur; Israel het droogvoets deurgetrek!

Josua het benewens God se hulp ook dié van sy eie leër en ander mense se hulp benodig. God het beskik dat Ragab die verkenners weggesteek en help ontsnap het. Daarvoor is sy en haar huisgesin se lewens gespaar. Toe dit tyd word om Jerigo in te val, het die inwoners die stad se hekke gesluit. God het egter die stad laat val.  

Omdat die tweede stad Ai kleiner as Jerigo was, het Josua 'n kleiner leër gestuur waarna Israel op sy baadjie gekry het omdat Agan, 'n Israeliet, teen God se waarskuwing om niks te vat nie tydens die verwoesting van Jerigo wel daarvan gevat het. Israel het 'n les geleer nl. dat daar 'n verband tussen ongehoorsaamheid en straf is.

Nadat Agan gestenig is, het Israel weer teen Ai opgetrek en dit verower.   Daarna het Josua deur die geloof nog talle oorwinnings oor Israel se vyande behaal en by geleentheid selfs die son by Gibeon laat stilstaan! Wat ʼn leier!

Toe Josua egter oud begin word, het God hom aangesê om die land tussen die 12 stamme van Israel te verdeel.   So het dit dan gebeur dat hy op 110 jarige ouderdom die volk byeen laat kom het: “... en Josua oud en ver op sy dae... het die hele Israel laat roep... en vir hulle gesê: Ek is oud, ek is ver op my dae; en julle het self gesien alles wat die Here julle God aan al hierdie nasies voor julle uit gedoen het; want die Here julle God, Hy het vir julle gestry” (Jos.23:1-3).

Josua het aan God al die krediet vir Israel se redding gegee en hulle herinner dat as hulle aan God gehoorsaam is, Hy hulle voorspoedig sou maak en teen hul vyande beskerm.   Indien hulle ongehoorsaam sou raak en aan heidense dinge meedoen, Hy hulle uit die land sou ban soos met die latere twee ballingskappe gebeur het.

Wat die karakter van Josua so merkwaardig maak, is die lang geloofspad wat hy met God geloop het. In Gen.5 lees ons van Henog wat met God gewandel het. Dit was ook van Josua waar wat talle rolle gedurende sy lewe vertolk het: slaaf, soldaat, dienskneg, verkenner, nasionale held, staatsman en leier.  

Hy is in die tyd van Israel se slawerny as slaaf in Egipte gebore. Miskien het hy as jongman selfs die sweep van die slawedrywers op sy eie lyf gevoel. Israel se vernedering en ellende was ook sy ellende en vernedering, so ook sy hunkering na vryheid.   Ja, Josua se karakter het in die stroom van die lewe ontwikkel en sy eerbare lewe was sy paspoort na ware vreugde.

Hy het die sedelike en maatskaplike aftakeling van sy volk aanskou. Daarom het hy, toe hy die leisels by Moses oorneem, daarna gestreef om sy volk op die beginsels van reg en geregtigheid te rig. Sy sterk optrede het mense aangespoor om die lewenspad reg te loop.   Ja, as ’n volk goed gelei word, loop mense nie sommer verkeerd nie!

Josua was ook 'n onverskrokke soldaat en bedrewe in oorlogvoering.   Hy het van verkenners gebruik gemaak en dissipline in sy leër gehandhaaf.   As militaris en goeie herder het hy nie nodig gehad om onderdanigheid van sy skape af te dwing nie.   Onder 'n sterk generaal is daar nie swak soldate nie!

Josua was aanvanklik 'n dienskneg van Moses. Hoofstuk een begin deur na hom as: “... Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses...” te verwys.   In die laaste hoofstuk word daar na hom as die dienaar van God verwys; 'n grootse titel. Sy naam beteken: God is redding. Moses en Josua het beide geleer om eerder na God op te kyk as om op mense-magte te vertrou.   Beide van hulle het die moed gehad om met die geloof om berge te versit die wêreld aan te durf. Hulle het na aan hul volk geleef om hul probleme te verstaan en naby aan God om hul met probleem-situasies te help.

As staatsman het Josua van God opdrag ontvang om die land onder die 12 stamme te verdeel.   En as geseënde leier het hy die teenwoordigheid van God ervaar: “.... Ek sal jou nie begewe en nie verlaat nie” (Jos.1:5). “En die Here was met Josua en die gerug van hom het deur die hele land gegaan” (6:27).   Daarom het Israel lank na sy dood nog oor hom gerouklaag!

Josua se voorbeeld en nagedagtenis het die volk en hul leiers lank bygebly: “En Israel het die Here gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat lank na Josua nog in die lewe was...” (Jos.24:31). Josua het die lewenspad so reguit geloop, dat dit vir hom nie nodig was om sy volk te leer wat reg of verkeerd was nie. Hulle kon maar net na hom kyk. Eerbare mense leef nie tevergeefs nie.   Die geskiedenis van die mensdom is ook die geskiedenis van eerbare leiers.

God seën gelowige leiers met 'n heilige karakter. Josua het inderdaad aan sy naam voldoen – God is redding. Hy het so geleef dat as almal soos hy was, die aarde 'n stukkie paradys sou wees.   Daarom is sy lewe na 3500 jaar vandag nog 'n lewende getuienis vir almal wat met God wil wandel.