PÊRELS VOOR DIE VARKE

Ds A.E. van den Berg

Moenie wat heilig is aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor varke nie, sodat hulle dit miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie” (Mat.7:6).                          

In Mat.7:1 sê Jesus dat gelowiges nie mag oordeel sodat hulle nie geoordeel word nie. Hy sê dit doelbewus – mense dink te stadig en oordeel te vinnig. Adam wat vir Eva die skuld vir sy misstap in die tuin van Eden gegee het, is 'n voorbeeld hiervan. Het Adam dan niks van die vrugverbod geweet nie?

Gelowiges mag nie mense sonder meer veroordeel nie, maar wel diegene wat sondig kragtens die Bybel teregwys asook berispe : “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16). “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering geskrywe...” (Rom.15:4).

Paulus het tydens 'n reis hard met Elimas, 'n towenaar, gepraat: “Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” (Hand.13:10).

Die Bybel help gelowiges om tussen reg en verkeerd te onderskei. Daarvoor moet ook sekere voorkeure uitgeoefen word soos die teksvers sê: “Moenie wat heilig is aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor varke nie, sodat hulle dit miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie” (Mat.7:6).   Dit geld vir alle gelowiges deur alle eeue heen.                  

Gelowiges moet versigtig met dinge van ewigheidswaarde omgaan. God gee dit en is nie ongekwalifiseer vir almal bedoel nie. Jesus sê by geleentheid vir 'n Kanaänitiese vrou: “Dit is nie mooi om die brood van die kindertjies te neem en vir die hondjies te gooi nie” (Mat.15:26).

Sekere mense deel in God se genade en ander mense nie. Ons mag nooit God se genade goedkoop maak nie. Dis heilig en moet dienooreenkomstig behandel word. Gelowiges moenie tyd op nuttelose dinge vermors nie. Wie nie uitverkies is nie, sal nooit tot bekering kom nie. In 1 Sam.25 sê Abigail reguit vir Dawid dat hy sy asem gaan mors om met haar man te probeer praat. Daar is geen salf aan hom te smeer nie. Los hom eerder uit.

Dis net so van Evangelieverkondiging waar. Jesus het nooit die Evangelie van verlossing aan alle mense opgedring nie. Op die vooraand van hul eerste sendingstog sê Jesus vir sy dissipels: “En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En as iemand julle nie ontvang nie, en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af” (Mat.10:12-14).

Talle kerke het met lidmate wat onheilig lewe te doen. Hierdie kerke wil nie hul lidmaatskap en veral nie hul bydraes verloor nie en maak toegewings. Dis 'n fout – die wêreld moet by die kerk aanpas en nie die kerk by die wêreld nie! Wanneer dit gebeur, word haar lig uitgedoof. Jesus waarsku die gemeente in Efese:. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Open 2:5).

By geleentheid was Jeremia moedeloos oor die kerkverval van sy tyd;. Niemand het meer na die stem van God geluister nie en die kerk in 'n afwaartse spiraal laat beland het. God gee hom raad: “Laat hulle na jou terugkeer, maar jy moenie na hulle terugkeer nie” (Jer.15:19). Dit geld vandag nog steeds!

Oral waar God se heilige standaarde verlaag word, beland pêrels voor varke en volg God se straf. Alles wat aan Hom behoort, veral sy kerk, is heilig, opsy-gesit en afgesonder. Dit lyk nie soos die wêreld nie. God is heilig en dit maak Hom uniek. Niemand vergelyk met Hom nie; nie Allah, Boeddha of van die ander afgode nie. Daarbenewens is God se Woord ook heilig. Niks vergelyk daarmee nie, nie die Koran, Vedas of Roomse afgodery nie. Verder is God se huis ook heilig. Dis nie 'n klub of 'n vermaaklikheidsteater nie. Ook die liedere wat in die kerk gesing word, moet van God se heiligheid getuig en is nie melodieë waarop gedans kan word nie. Dis afgesonder. En so moet elke erediens ook van die eerbied vir God getuig.

Die kerk se probleem vandag is die ontheiliging van dit wat heilig moet wees. Die vervlakking van geestelike dieptes is ontstellend en die boodskappe van 'n universele broederskap van liefde wat uitbasuin word, is misleidend. En in die proses draai mense die liefdadigheidsmallemeule in 'n maniese beswyming en glo vas dat hulle aan God se eis van naasteliefde voldoen.  

Nêrens sê God dat Hy alle mense ongekwalifiseer liefhet nie, selfs nie eens in Joh.3:16 nie. God se liefde is alleenlik vir wedergebore kinders beskore: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word....” (Joh.1:12). Daarvoor moet jy deur die bekering nuut word. Paulus sê: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).

Jesus gee 'n wonderlike belofte dat niemand tevergeefs na Hom sal soek nie: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37). Almal hoor die Evangelie, maar reageer nie eenders op die uitnodiging nie. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Open.3:20). Die meeste mense maak nie oop nie. Dit gebeur ook dat mense wat jy dink nooit sal oopmaak nie, wel oopmaak. In die tyd van Jesus het mense selfs uit die laagste samelewingsorde oopgemaak: tollenaars, straatvroue en misdadigers.

In Mat.7:6 vra Jesus gelowiges om versigtig met hul ywer vir die Evangelie om te gaan. Gelowiges hardloop nie halsoorkop in 'n heilige saak in nie. Op die vooraand van die dissipels se eerste Sendingstog sê Jesus vir hulle: “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe”(Mat.16:10). Werk versigtig met dit wat heilig is!

Die Bybel is 'n waardevolle skat. Dis nie 'n boek met tower-resepte wat na willekeur rondgestrooi word om wonders te laat gebeur nie. Dit moet biddende bestudeer en met groot eerbied hanteer word, veral deur leraars wat altyd moet kan sê: “So spreek die Here!”

Al is leraars ook feilbare mense, gebruik God hulle nogtans om sondaars tot die bekering te roep en gelowiges in heilige kennis op te bou. Paulus skryf aan die Korintiërs: “...dit het God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo te red” (1 Kor.1:21). Baie mense het al deur prediking tot bekering gekom. Daar moet leraars wees. Die Ethiopiese dienaar sê vir Filippus: “Hoe kan ek tog verstaan as niemand my die weg wys nie?’ (Hand.8:31). .

Paulus was 'n kragtige prediker. In sy brief aan die Romeine benadruk hy die belangrikheid van die amp van 'n leraar: “Hoe kan hulle hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? “ (Rom.10:24,25).

Vir gelowiges is daar geen belangriker boek as die Bybel nie en is hulle onder 'n verpligting om dit met eerbied en ontsag te hanteer. Die water en brood van die lewe is nie vir almal bedoel nie, maar slegs vir dorstige en hongerige sondaars wat tot die geloof kom.

Moet nooit dit wat vir God heilig is, goedkoop maak nie. Het honde miskien eerbied vir dit wat heilig is of varke vir pêrels? Net so min voel ongelowiges iets vir die dinge van God. Praat, waarsku en berispe en bid vir hulle, maar moenie kosbare tyd met hulle mors nie!